Verdagte vas vir ‘sluipmoord’ op Valke-speurder

Kol. Leroy Bruwer (Foto:WCFF via Twitter)

ʼn Verdagte is verlede Vrydag in hegtenis geneem in verband met die moord op lt.kol. Leroy Bruwer (49), ʼn speurder van die Valke, vroeër vanjaar.

Maroela Media het vroeër berig dat Bruwer se moord ʼn moontlike sluipmoord kan wees. Bruwer het verskeie hoëprofielsake ondersoek, waaronder transitorooftogte, georganiseerde misdaad en renosterstroopsindikate. Hy was veral ʼn belangrike ondersoeker in die stryd teen renosterstropery.

Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het Maandag aan Maroela Media bevestig die verdagte is Vrydag in die Oos-Kaap vasgetrek. Hy het Vrydag reeds in die Nelspruit-landdroshof verskyn.

Die saak is uitgestel tot Donderdag wanneer die verdagte formeel om borgtog sal aansoek doen.

“Weens die sensitiwiteit van die saak kan die verdagte se naam nog nie bekend gemaak word nie,” het Mulaudzi gesê.

Bruwer is middel Maart in sy motor buite Nelspruit met ʼn aanvalsgeweer doodgeskiet. Hy was op 17 Maart omstreeks 06:20 van sy huis op pad Nelspruit toe vir ’n hofsaak toe die aanvallers glo op sy motor toegesak het. Bruwer het op ’n kleinhoewe op die R37 buitekant Nelspruit gebly.

Ná die skietery het die verdagtes weggejaag. Niks is glo tydens die voorval gesteel nie.

Die Valke se ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings kan volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Althes ·

Mag geregtigheid seëvier. Dis hartseer dat goeie mense doodgaan as gevolg van moordenaars.

Elsa ·

Mnr die President. Tyd vir wet en orde in die land.
Alle lewens maak saak. Stop nou al hierdie sinnelose Moore.

Scalla ·

Our people maak net wat hulle wil en hul president kyk dit mis, dit kan nie so aangaan nie!

Fanie ·

Hierdie moordenaar en sy makkers moet nie eers vir borgtog oorweeg word nie. Hulle moet agter tralies bly. Sodra daar geweld, verkragting, moord, wapens en korrupsie betrokke is, moet borgtog nie eers ‘n opsie wees nie, hulle moet toegesluit bly totdat die saak afgehandel is.

Herman ·

Mmm ja hy het natuurlik iets oop gekrap wat hooggeplaasde amptenare sou “incriminate” het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.