Verdagtes gesoek wat verpleegster op Kersdag vermoor

(Argieffoto: SA Polisie)

Die Oos-Kaapse polisie is op soek na die verdagtes wat ʼn 36-jarige verpleegster Sondag in ʼn hospitaal in die Ngcwanguba-gebied in Kwaaiman naby Koffiebaai vermoor het.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, is die verpleegster op die stoepgedeelte van een van die sale in die hospitaal doodgeskiet.

Die verdagtes het glo by die hospitaal aangekom en gemaak asof hulle ʼn pasiënt wou besoek.

Hulle het glo aangevoer dat die slagoffer – wat as ʼn verpleegster by die hospitaal gewerk het – die pasiënt na wie hulle op soek was, ken.

“Terwyl daar na die verpleegster gesoek is, het die verdagtes haar in die gange sien stap. Hulle het haar dadelik uit die saal geruk. Die verdagtes het skote op haar afgevuur en sy is op die toneel dood verklaar.”

Kinana sê die polisie ondersoek ʼn saak van moord, maar dat die motief in dié stadium nog onduidelik is. Niemand is al in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Enigiemand wat die polisie met inligting oor die verdagtes kan help, kan die Kwaaiman-polisiestasie by 047 575 9205 bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.