Verkeersman sterf ná motor hom tref

Devan Naik (Foto: Devan Naik, Facebook)

Die verkeersbeampte wat Sondag deur ʼn motor op die snelweg in Durban omgery is, het Dinsdagaand in ʼn hospitaal in Pietermaritzburg aan sy beserings beswyk.

Die beampte is geïdentifiseer as die 46-jarige Devan Naik, wat sedert 2004 die provinsiale inspekteur van die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat (RTI) is. Hy was by die RTI-kantore in Winkelspruit gevestig.

Kwanele Ncalane, woordvoerder van die departement van vervoer in KwaZulu-Natal, sê Naik is Sondag omstreeks 08:15 op die N2 naby die Prospectonweg-afrit in Durban-Suid deur ʼn motor getref.

Maroela Media het vroeër berig Naik het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici van Netcare 911 behandel. Hy is daarna per helikopter na ʼn spesialiseenheid in Pietermaritzburg vervoer en het Dinsdagaand in dié hospitaal gesterf.

“Naik en sy kollega, Thandi Duma (40), was besig om spoed-tydbepalings te doen ten tyde van die ongeluk. Hulle was albei in hul volle uniforms geklee en het weerkaatserbaadjies aangehad,” sê Ncalane.

Ncalane sê daar word beweer dat Naik ʼn swart Volkswagen Golf probeer stop het, wat teen ʼn spoed van 200 km/h gejaag het. ʼn Aantal metropolisie-voertuie het dié motor, wat vermoedelik dwelms karwei het, gejaag.

“Naik het die motor tydens die jaagtog probeer stop en hy is toe in die proses deur ʼn ander voertuig, ʼn Hyundai Accent, omgery.” Dié het in die vinnige baan gery.

Volgens Ncalane is die bestuurder van die swart Golf by die ongelukstoneel afgetrek en in hegtenis geneem. Die metropolisie het ʼn groot hoeveelheid dwelms in die motor gevind.

“Die RTI-span ondersoek tans die saak en sal seker maak dat geregtigheid vir Naik se dood geskied.”

Die departement van vervoer het ook sy skok oor Naik se dood uitgespreek.

“Naik sal as die vredemaker van die kantoor onthou word. Hy was een van die mees senior beamptes, wat toegewyd in sy werk was en als in sy vermoë gedoen het om lewens op ons paaie te red. Hy het altyd geglimlag en was vol pret en grappies.”

‘n Roudiens word Donderdag vir Naik gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Magda G ·

Dis tragies. Ons is daar verby net na die ongeluk.
So onmodig

Persheks Adri ·

Sterkte aan die familie en vriende in die moeilike tyd! Mag God julle dra en staande hou vir die onnodige dood van ‘n geliefde eggenoot en vriend! Dis so sinneloos en onnodige.

Surfer ·

In die aangesig van die dood sal jy jou brood verdien. Is dit nie tragies nie? Sterkte aan die familie. RIV.

Anoniem ·

Sterkte aan die familie en kollegas. Mag die skuldiges aan die pen ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.