Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het laat Vrydagaand al die stemme klaar getel.
Dit is slegs die voorlopige syfers en die amptelike getalle sal Saterdagaand om 18:00 by die uitslagsentrum in Pretoria bekend gemaak word.
Die ANC het 62.15% van die stemme gewerf. Dit is egter minder as die party se 65.9% tydens die verkiesing in 2009.
Meer as vier miljoen kiesers het hul kruisies agter die Demokratiese Alliansie se naam getrek en die party is die amptelike opposisie met 22.23%. Die party het met ʼn oorweldigende meerderheid die provinsiale verkiesing in die Wes-Kaap gewen.
Die jong party, Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het uiteindelik 1 169 259 stemme gewerf en is die derde sterkste party met 6.35% van die stemme.
Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) is in die vierde plek, dieselfde soos in 2009, met 2.40% en die National Freedom Party is in die vyfde plek met 1.57%. Die UDM is in die sesde plek met 1% en die Vryheidsfront Plus het in die sewende plek geëindig met 165 715 stemme, of 0.90%.
Altesaam 18 654 457 stemme is by 22 262 stempunte uitgebring, waarvan 251 960 stembriewe bederf is. Die aantal geldige stemme wat uitgebring is, is 18 402 497. Altesaam 73.43% van geregistreerde kiesers het aan die verkiesing deelgeneem. Altesaam 25 381 293 kiesers is geregistreer.