Verkiesingstoespraak of staatsrede?

(Foto: X)

Die stoele is uitgepak en die perde opgesaal. Pres. Cyril Ramaphosa lewer oor enkele ure sy staatsrede in die Kaapstadse stadsaal.

Sommige politieke kenners berei egter Suid-Afrikaners voor op ’n “verkiesingsrede” eerder as ’n staatsrede later vanaand.

“Dit gaan nie soseer oor wat die president gaan sê nie, maar eerder hoe hy dit [vanaand] gaan aanbied. En jy kan maar weet dat hy dit op ’n báie positiewe wyse gaan aanbied.

“Die 30 jaar van demokrasie en die suksesse wat die ANC gedurende hierdie tyd behaal het, gaan die sous wees wat hy oor alles gaan gooi,” voorspel prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

“Jy gaan hoor soveel mense het huise, toegang tot elektrisiteit en water gekry. Maar daar gaan nie juis op die funksionaliteit daarvan gekonsentreer word nie.”

Duvenhage verwag ook dat Ramaphosa sterk gaan fokus op die regering se saak teen Israel in die Internasionale Geregshof in Den Haag.

“Daar gaan gesê word dat hulle vir die onderdruktes veg … en dit wat Suid-Afrika in die buiteland probeer bewerkstelling, is ook wat hy vir sy burgers wil doen.

“En dan gaan daar ’n klomp van daardie populistiese wette uitgepak word, soos die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela).”

En dít vorm deel van die ANC se verkiesingsveldtog, wys Duvenhage daarop.

Prof. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, het ʼn ander verwagting van Ramaphosa.

“Indien dit oudpres. Jacob Zuma was, het vanaand blatant in ’n ANC‑verkiesingsveldtog uitgedraai.

“Maar Ramaphosa is te gesofistikeerd. Hy verstaan sy twee rolle: sy rol as partyleier en sy rol as staatshoof. Hy het nog altyd in sy toesprake ’n onderskeid tussen dié twee rolle getref – iets wat Zuma nooit kon doen nie.”

Venter verwag egter ook dat Ramaphosa ’n terugblik gaan gee op wat die ANC die laaste 30 jaar gedoen het en die suksesse wat behaal is met Ramaphosa aan die stuur van die sesde administrasie.

Ramaphosa gaan ook die “kragkrisis, die logistieke krisis en die plaaslikeregeringskrisis” sowel as misdaad en korrupsie en die ekonomie in sy toespraak hanteer, meen Venter.

Hy berei Suid-Afrikaners ook daarop voor dat hulle vanaand waarskynlik sal moet luister na ’n “redelike lang en vervelige” toespraak oor Suid-Afrika se rol in die Brics-groepering en die voortslepende konflik tussen Israel en die Palestynse terreurgroep Hamas.

Weens die nasionale verkiesing, word twee staatsredes vanjaar gelewer: die staatsrede wat die verkiesing voorafgaan en die staatsrede waarmee die sewende administrasie ná die verkiesing afskop.

Venter verwag dat Ramaphosa die nasie in albei staatsredes as staatshoof gaan toespreek.

“Hy het dus buigsaamheid oor wat hy nou gaan sê en wat hy dán gaan sê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SwartBees ·

Maak nie saak wat nie, Jan van Riebeeck en apartheid gaan weer die skuld vir alles kry.

JohanR ·

Soe dit gaan nie ‘n State of the Nation spraak wees nie, maar ‘n State of the ANC?

Marous ·

Dis presies wat hy gaan vertel. Dit het niks met die haglike toestand van die nasie te doen nie.

Bolandse Nooi ·

Hy het mos verkoue ………….. ek wens sy neus en bors trek toe en sy stem slaan geheel en al weg sodat ons nie na die ()$*#&^% wat hy in elk geval gaan kwytraak, hoef te kyk/luister nie. Ek gaan nie kyk/luister nie, maar môre sal dit weer heeldag op radio, TV, sosiale media wees en in mens se keel afgedruk word.

Andre ·

…mens wonder wie vertaal sy toespraak vanuit “Iranees”.
Hulle befonds en bestuur mos nou SA.

Fubar ·

As hulle eendag van hulle BEE en BBEE en BBBEEE ontslae raak, sal ek MISKIEN weer na hierdie nar luister. Hy kan niks sê wat ons nie weet nie. En om na sy liegstories te luister is net ‘n mors van tyd.

Waarnemer ·

Dankie tog hy gaan nie met die volgende termyn eaar wees nie….die DA koalisie sal in beheer wees.

Riaan ·

30 jaar van erge bedrog, korrupsie, diefstal, mag spel, onbevoegde lede en so gaan die lys aan en aan en aan…………alle staat instansies is in sy kanon in. Sê nog steeds en sal daarby staan, hulle kan nie regeer, bestuur, beheer of afrig nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.