‘Verlamde’ man wil ander help ná fratsongeluk

Pieter, Vernene en Kai. Foto: Facebook.

Pieter van Greunen (29), ʼn man wat grootliks verlam is nadat hy byna drie maande gelede in ʼn swembad geduik en twee van sy rugwerwels geskuif het, sal graag eendag ander slagoffers van rugstring-beserings wil bystaan.

Vernene van Greunen (32), Pieter se vrou, het aan Maroela Media gesê die voorval het op 16 September plaasgevind toe die egpaar ʼn troue in Tulbagh in die Wes-Kaap bygewoon het. “Die troue was die Vrydag, maar ons het sommer ʼn naweek daarvan gemaak en die Saterdag daar gebraai en geswem. Pieter het in die swembad geduik en gelukkig dadelik na bo gekom, maar toe vir een van sy vriende gesê iets voel nie reg nie,” het Van Greunen vertel.

Pieter se vriende het hom na die kant van die swembad gehelp en dadelik die ambulans gebel. “Ons het eers gedink hy het harsingskudding opgedoen en dít is hoekom hy heeltyd gesê het hy kan niks voel nie,” sê Van Greunen.

ʼn Ambulans het ʼn uur en ʼn half later eers opgedaag en hom dadelik na ʼn privaat hospitaal in Ceres geneem. Nadat toetse daar op hom gedoen is, het dokters aanbeveel dat hy na Worcester oorgeplaas word weens die ernstige aard van sy besering.

“Hulle het daar ook gesê hulle kan nie dié tipe besering behandel nie en die dokter daar het dadelik begin rondbel vir rugstring-spesialiste. Ons het toe op die ou end omstreeks 04:40 by die Mediclinic in Kaapstad aangekom.”

Dokters het vasgestel dat sy C4- en C5-werwels geskuif het en dat dit drukking op sy rugstring plaas wat die verlamming veroorsaak. “Hulle het hom daardie oggend omstreeks 09:00 begin opereer en hy het 14:00 uit die teater gekom.”

Foto: Facebook.

Volgens Van Greunen het Pieter se longe die volgende dag platgeval en het hulle hom na die UCT Groote Schuur- private hospitaal oorgeplaas omdat daar goeie longspesialiste is wat hom kon behandel. Hy is tot 14 November in dié hospitaal behandel voordat hy na die Life Vincent Pallotti-hospitaal oorgeplaas is waar hy tans nog aansterk.

Volgens Van Greunen het Pieter ʼn mate van beweging in sy arms, en is sy vingers en polse baie swak.

“Wat ook al van hier af gebeur, [ons weet] dit gaan ʼn baie lang proses wees. Dokters wil nie voorspel presies wat gaan gebeur nie, want eerstens weet hulle nie en tweedens, indien enigiets sal gebeur, gaan dit baie lank vat.”

Van Greunen vertel dat sy en Pieter albei op hul eie tyd deur dieselfde emosies en fases gegaan het waardeur mense gaan as daar sterfte in die familie is, soos ontkenning en aanvaarding.

“Pieter ontmoet nou soveel inspirerende mense en raak betrokke by die gestremde gemeenskap waarvan mens nie eens altyd weet nie. Hy stel ook nou nogal belang om eendag rolstoelrugby te speel,” sê sy.

“Ons het gedink hy gaan vir die res van sy lewe aan masjiene gekoppel wees en dit was so ʼn groot verligting toe dit nie meer nodig is nie. Hy is nog hier; hy kan nog vir Kai [die egpaar se sewe maande oue seun] sien grootword. Mens voel skuldig om op ʼn hopie te sit en huil. Ons albei het saam besluit ons gaan van nou af die beste van die saak maak en van ons kant af alles moontlik doen om die situasie te hanteer en vir Pieter so sterk moontlik te kry.

“Ons is hoopvol, maar ons besef ook die erns van die situasie. Dit beteken nie jy het nie af dae nie. Pieter sal baie graag, as hy bietjie meer beweeglik is, ander pasiënte ook wil toespreek soos wat hulle met hom gedoen het. Mens verstaan nie werklik as jy nie self in daardie situasie is nie.”

Foto: Facebook.

Van Greunen vertel ironies genoeg het sy en haar man op pad na die troue toe gepraat dat hulle ʼn testament moet opstel en reël dat Pieter ongeskiktheidsdekking moet kry. “En toe gebeur dít nou …”

Pieter en ʼn vennoot besit saam ʼn maatskappy wat houtdekke insit en timmerwerk doen. Die egpaar weet egter nie of hy ooit weer in hierdie bedryf sal kan werk nie.

Van Greunen is kort voor Kai se geboorte by haar werk afgelê. “Ek kon nog nie nuwe werk soek nie weens die situasie, maar ek is hoopvol dat ek later weer sal kan begin rondsoek,” sê sy. Sy sê die gesin het tans ʼn Golf-voertuig wat reeds byna volgepak is wanneer Kai se stootwaentjie ingelaai word, “wat nog te sê van ʼn rolstoel”.

Intussen is die Rise Again-inisiatief, ʼn geldinsamelingsinisiatief vir Pieter se mediese koste en ander gepaardgaande koste, van stapel gestuur. “Die bedrae wat ons op die geldinsamelingswebwerf geplaas het, is baie laer as wat ons regtig benodig. Daar is fisioterapiekoste wat die mediese fonds nie dek nie en ons weet ook nog nie watter tipe rolstoel Pieter gaan benodig nie. Die rolstoel alleen kan heel moontlik meer as R100 000 beloop.”

Klik hier of hier vir meer inligting oor die Rise Again-inisiatief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Arie ·

Ek kan heeltemal met Pieter simpatiseer. Was self in n insident betrokke wat my half verlam gelaat het.
Die een moment is jy fiks en kragtig genoeg om enugiets in die wereld aan te pak. Die volgende moment is jy vermink en gelaat met gebrekkige vermoeëns.

Die aanvaarding hiervan sal strek oor baie baie jare

Vermeende ·

In die begin het jy daai nare drome, drome waar jy droom jy is nog reg en gesond maar soos die tyd aanstap so begin jy geestelik en liggamlik jou gebrek aanvaar tot op n dag waar jy in jou drome gestremd is en jy nie eers meer kan dink hoe om te hardloop of self te staan nie. Glo dit maar, maar daai dag verloor jy jou gestremdheid en dit is maar net hoe jy is en lyk. Ek het my nek 30 jaar terug gebreuk en weet, daar le n baie lang pad voor. Dit is nie maklik om n blanke man in SA te wees nie en dan nog gestremd ook nie. Julle gaan op alle vlakke getoets word.
Jy kon jou self nog altyd laat geld maar nie meer nie.
Om afhanklik van ander se genade te wees is hel.
Sterkte vir julle.

Boesman ·

Ons gaan tans deur ‘n soortgelyke ervaring. Ongeluk en my vrou se nek is gebreek (C5/C6/C7), nou is sy kwadropleeg. Al meer as 3 maande in rehab hospitaal. Voel steeds so onwerklik. Glo sy sal weer loop. Tyd sal wel wys. Sterkte aan hierdie gesin.

Meraai ·

Baie strekte aan jou en Familie Boesman – julle is ook in ons gebede.

Ook gestremd ·

Weens julle alle sterkte toe. Hoop rerig julle kry die nodige ondersteuning en dienste vir Pieter om sy gestremdheid te aanvaar en ook vir Vernene om te leer om saam met ‘n gestremde te woon. Mag hierdie tragedie ook ander nie-gestremdes se oë oopmaak dat dit met hulle ook kan gebeur. Dus tragies om in ‘n land te woon waar ‘n mens die minimum ondersteuning van enige van jou eie landsburgers ontvang en oop neergesien word asof ‘n persoon malaats is. Verder is daar geen wette in plek om jou regte as ‘n gestremde te ondersteun nie en is daar slegs “voorskrifte” wat die “sogenaamde” regte van gestremdes bespreek., o/a White Paper on an Integrated National Disability Strategy. Weereens alle sterkte ou maat en welkom in die wêreld vir gestremdes.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.