Verlange, vrede ná laaste vonnisoplegging

Pieter en Susan Pieterse (Foto: Verskaf)

Hoewel Susan Pieterse (68) berusting gevind het noudat haar man, Pieter Pieterse (57), se moordenaars almal gevonnis is, sal die seer en verlange nooit weggaan nie.

“Die herinnering sal my altyd bybly. Die goed en die sleg. Die laaste beeld van my man wat naak en yskoud op die sitkamervloer lê, is iets wat ek saam met my graf toe sal dra,” vertel Susan aan Maroela Media.

Pieter is op 5 Februarie 2017 op die plaas Sumadi in die Afguns-omgewing, Lephalale, vermoor. Hy is erg aangerand en het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Philip Modime is Dinsdag tot effektief 20 gevangenisstraf gevonnis. Hy was die laaste verdagte om gevonnis te word.

Twee ander verdagtes, Phuti Phineas Molangoane en Thapelo Nickel Motsamai, is reeds in 2020 elk onderskeidelik tot effektief lewenslange en 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Susan se oudste seun het haar die oggend van die moord gebel en in kennis gestel dat Pieter nie by die werk opgedaag het nie. Hy het op die plaas waar Pieter alleen gewoon het, gaan ondersoek instel.

Susan het slegs naweke daar gaan kuier omdat Pieter vir haar veiligheid op die plaas gevrees het.

“ʼn Rukkie later kry ek ʼn oproep van my seun dat Pa dood is. My seun het my kom oplaai en ek is saam plaas toe. Die erf was vol vreemde mense en polisie.

“Ons het in die huis gegaan en daar sien ek toe my man op die sitkamervloer, voor die kamerdeur. Hy was poedelnakend en erg verniel. Ek het na hom toe gegaan en hom gevra om ʼn beweging te maak indien hy my kan hoor. Hy was yskoud. In my binneste het ek eintlik geweet hy is dood.”

Volgens Susan was haar man se hande flenters en glo sy dit is omdat hy teen die moordenaars “baklei” het.

Susan en haar skoonseun, wat ook op die toneel was, het Pieter in die motor gelaai en met hom hospitaal toe gejaag.

“Ek het heeltyd sy arm in die kar vasgehou om te voel of hy nog lewe.”

Langs die pad het die ambulans die motor gestop en Pieter dood verklaar. “Die lykswa het hom langs die pad kom oplaai.”

In die hof het Susan baie inligting oor die aanval gekry, wat haar hewig ontstel het, maar ook in ʼn mate berusting gegee het.

“Met die hofsaak kon ek antwoorde kry op die vrae wat ek oor die moord gehad het. Die feit dat Pieter naak was, het by my gespook. In die hof het dit uitgekom dat die verdagtes gewag het totdat hy in die stort was om hom aan te val.”

Vergifnis, vrede

Susan het die vonnisoplegging van Molangoane en Motsamai in 2020 bygewoon en het toe nie weer hof toe gegaan nie.

“Dit was elke keer baie traumaties om vrou-alleen hof toe te gaan en jou man se moordenaars in die oë te kyk. Die slegte herinneringe is elke keer herroep. Hulle het daardie dag nie net my man van my weggevat nie, maar my hele lewe ook.

“Dit was ook aaklig om te sien dat die verdagtes geen berou toon nie. Hulle het openlik in my gesig gelag en een het ook middelvinger vir my gewys.”

Ten spyte hiervan het Susan die mans vergewe.

“Ek hou nie ʼn wrok teen hulle nie en het hulle ook al lankal vergewe. Ek glo dit was my man se tyd om te gaan. Ek het dit aanvaar.”

Die familie is verlig en dankbaar dat die hofsaak nou agter die rug is en dat hulle die “nare hoofstuk” kan afsluit. Die familie is tevrede met die vonnisse.

“Ek het Woensdagoggend ná die vonnisoplegging sommer ligter opgestaan. Ek voel nou so vry soos ʼn voël. Dit voel asof ek my vlerke wil sprei en wegvlieg.

“My lewe kan nou aangaan. Al die lelik is nou agter die rug en nou bly die mooi agter.”

Susan sê sy het al aanvaar dat sy nou alleen die lewe moet aanpak, sonder haar eggenoot wat sy die afgelope 40 jaar langs haar sy gehad het.

Die egpaar sou na hul aftrede op hul tweede wittebrood gegaan het. Susan het in Mei vanjaar amptelik afgetree. Sy het vir 20 jaar by ʼn kleuterskool op die dorp gewerk.

“Ek mis hom verskriklik. Hy sal altyd my man bly, al is hy weg.”

Susan sal Pieter se goedgesindheid en vriendelikheid altyd onthou. “Hy was ʼn goeie mense wat met enigiemand oor die weg gekom het.”

Sy woon steeds in Lephalale by haar jongste dogter. Die egpaar het vyf kinders en 12 kleinkinders.

Die verdagtes:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

Ek weet MM gaan my seker blok maar hulle minagting vir ‘n lewe en hulle disrespek vir die naasbestaandes en die gereg sal my nooit maak hulle vergewe nie.

Kobus ·

Jy is geseënd dat jy sulke wreedaards kan vergewe. Alles ten goede vir jou en jou familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.