Vermaakbedryf ‘neem swaar afskeid’ van Eric Nobbs

Eric Nobbs in ‘Lui maar op, Belinda’. (Foto: Verskaf/kykNET)

Die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf treur ná die skielike dood van die bekende akteur Eric Nobbs.

Nobbs se dood volg kort ná dié van die aktrise en vervaardiger Franci Swanepoel. Sy is op 16 Oktober op die ouderdom van 50 dood.

Nobbs, bekend vir sy rolle in talle verhoogproduksies asook televisierolle in reekse soos Die Byl, Lui maar op, Belinda en Orkney snork nie, is Sondag op die ouderdom van 68 dood.

Die oorsaak van sy skielike dood is nie bevestig nie.

Luidens ʼn kort verklaring deur kykNET was Nobbs in die Kaap ten tyde van sy dood waar hy besig was om aan die derde seisoen van Lui maar op, Belinda, te werk.

“Sy afsterwe is ’n enorme skok vir almal wat hom geken en saam met hom gewerk het. In sy loopbaan het hy merkwaardige vertolkings gelewer en karakters lewe gegee op die verhoog, in rolprente en op televisie. Ons gedagtes is by sy vrou, familie en kollegas,” sê Waldimar Pelser, M-Net direkteur van kykNET-kanale.

Paul Venter, vervaardiger van Homebrew Films, sê Nobbs was “’n besonderse mens en ongelooflike akteur”.

“Hy het altyd almal met ’n innemende glimlag gegroet en ’n kalmte uitgestraal. Die Homebrew Films-span het die afgelope week weer die voorreg gehad om Eric se sagte geaardheid en merkwaardige akteursvernuf eerstehands te ervaar toe verfilming van Lui maar op, Belinda se derde reeks begin het,” sê Venter.

“Sy skielike heengaan laat ’n baie groot leemte in ons bedryf en ons neem swaar afskeid van hom.”

Eric Nobbs en Waldemar Schultz in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Amanda Strydom het ook hulde aan Nobbs op sosiale media gebring. “Jy was ook volksbesit, liefste Eric. Hoe briljant was jy in Die Byl en soveel TV- en verhoogproduksies? ʼn Lojale vriend deur die jare, al het ons mekaar minder gesien sedert julle Glentana toe verhuis het. Ek sal ons kuier by julle, die heerlike braai op die strand, julle vriendskap en gasvryheid nooit vergeet nie.”

Die akteur Anton Dekker het op Facebook gesê Nobbs sal gemis word. “Jy was nie net een van die beste akteurs wat ek ooit geken het nie, maar nog altyd een van die regte, goeie mense in ons bedryf.”

Nobbs het in 1978 sy professionele debuut as verhoogakteur gemaak in die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Truk) se Die keiser van Bartho Smith. Ander produksies waarin hy rolle vertolk het, sluit in Faan se stasie, Pa maak vir my ʼn vlieër, paThe Road to SlagtersnekA Streetcar Named Desire en Huis op horings.

Nobbs het ook in verskeie televisiereekse, onder meer Known Gods, Een skoenlapper, Konings en Gauteng-aleng, gespeel.

Hy laat sy vrou, Desré, agter. Hulle was 41 jaar lank getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Miena ·

o sjoe dis hartseer. Sterkte aan sy familie en kolegas in vermaak-bedryf.

Mariana ·

Ag nee dis hartseer. Hy was inderdaad een van ons bestes. Simpatie met sy vrou. RIV

Leon ·

Dit baie sleg , dit is baie vreemd hoe baie mense nou net eenvoudig doodgaan ?????? verstaan dit nie mooi nie , het vir Eric so baie hier in George in die strate en koffie winkels ??????gesien

Koen ·

Verstaan ek jou reg. Jy verstaan nie hoekom mense doodgaan nie. Is jy geseën met ‘n ewige lewe hier op aarde. Alle lewende goed moet doodgaan. Kom vir lesse. Ek sal help teen vergoeding. Of dit nou skielik of nie is nie. Of probeer jy snaaks wees?

George ·

Wat is vreemd aan n 68 jarige met gesondheids probleme wat hartaanval kry? Probeer slim wees.

Shakespeare ·

Hartsverskeurend. Albei top akteurs en begaafde mense. Harde slag …

En die grootste krimineel in Suid Afrika is al 80 en gaan ongehinderd aan om te verwoes.

Jacob ·

Vanaf Australia. Ek kon hom onthou in Orknie Snorknie, Baie hartseer om te verneem. Simpatie met sy famile. RIV.

JohanR ·

Hierdie man was ‘n wonderlike akteur. Baie genot en gelag gegee oor die jare. Sag reis Eric Nobbs.

Lillian ·

Net laas week kyk ek die fliek Hansie, waar hy Hansie Cronjé se pa gespeel het en ek wonder nog hoe oud Eric nou moet wees …. Nog ‘n grote het geval … Rus in Vrede, dankie vir jou bydrae tot die vermaaklikheidsbedryf vir soveel dekades.

Patch ·

Hy was ‘n uitstekende akteur. My innige meegevoel aan sy familie.

Roek ·

Vaarwel ou maat ….. dankie dat jy jou talent met ons gedeel het,

Chantel ·

Dit is hartseer. (In my persoonlike opinie, is dit net meer gepas om te noem, met sy skielike afsterwe, dis so af om te sê “dood”, net my persoonlike opinie, klink net mooier. :))

Blikkies ·

Jammer om dit te hoor. R.I.V Eric.
Mag jou familie en vriende die Here se Genade in hierdie moeilike tyd ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.