Vermiste Knysna-sakeman ‘waarskynlik nie dood’

Bertus Scheepers. Foto: Verskaf

Bertus Scheepers, die bekende sakeman van Knysna wat op Donderdag 9 Mei verdwyn het, is steeds spoorloos.

Sy lewensmaat, Ronate du Rant, het hom die volgende dag (Vrydag) by die polisie as vermis gaan aanmeld. Scheepers, eienaar van House of Classic and Sports Cars in Knysna, is veral bekend by plaaslike en nasionale motorentoesiaste.

Voorlopige aanduidings is dat Scheepers (65) sy huis op Thesen-eiland dié Donderdag omstreeks 08:00 verlaat en werk toe vertrek het. Hy is klaarblyklik later die dag terug na die eiland, maar is glad nie weer gesien nie.

Sy foon, beursie en die Mercedes-Benz waarmee hy gery het, is tuis gevind. Geen van die talle klassieke motors wat hy besit, word vermis nie. Drie weke later is daar steeds geen aanduiging van wat van hom geword het nie.

Kringtelevisiemateriaal is onder meer nagegaan, maar daar kon nie met duidelikheid vasgestel word of hy wél die eiland verlaat het nie.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê die polisie se soektog na Scheepers word in dié stadium afgeskaal.

Polisieduikers het die meer by Knysna gefynkam, vrywilligers het help soek en selfs die polisie se honde-eenheid is ontplooi, maar geen teken van Scheepers is in die onmiddellike omgewing gekry nie, het Pojie gesê.

Behalwe vir die polisieondersoek wat ná Scheepers se verdwyning van stapel gestuur is, het sy familie ook die private ondersoeker Mike Bolhuis gevra om te help met die soektog.

Bolhuis het gesê sy ondersoekspan se inligting dui daarop dat Scheepers nié dood is nie.

In die soektog na ʼn vermiste persoon is daar verskillende fases van die ondersoek, het Bolhuis gesê. Daar word aanvanklik by die toneel van verdwyning begin en die soektog kring daarna al hoe verder uit. Op dié stadium soek hulle reeds landswyd na Scheepers, het Bolhuis gesê.

“Ons vra vir mnr. Scheepers, indien hy nog leef, dat hy sy familie en die betrokke ondersoekspanne dringend kontak,” het Bolhuis gesê.

Volgens hom verdwyn mense meestal weens selfmoord, ernstige familie- of finansiële druk, weens vuilspel (wanneer ʼn misdryf deur hulle of teen hulle gepleeg word), óf ʼn kombinasie van bogenoemde.

Bolhuis het gesê ʼn persoon wat as vermis aangemeld word, móét na vore kom as hy in staat is om dit te doen.

“As ʼn gesoekte persoon dit nié doen nie, terwyl hy weet die polisie het ʼn soektog na hom gelas, kan hy van ʼn misdryf aangekla word,” het Bolhuis gesê.

Enigeen met inligting oor waar Scheepers hom bevind, word gevra om die Knysna-polisie te skakel by 044 302 6687, die Knysna-gemeenskapspolisiëringsforum by 082 574 9657, of Luke Enslin van Bolhuis se speurdiens by 082 222 5821/079 533 7069.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KrokodilBotha ·

Hy was seker ook op die verkeerde plek , en verkeerde tyd daar voor sy verdwyning. Daar los ek sommer die saak vir jou op Mike.

HP ·

Jy wonder met reg. Ek het nog nie gehoor of in enige koerant gelees van sake wat Bolhuis suksesvol opgelos het nie. Ek het begrip daarvoor dat die familie desperaat is maar ek dink hulle mors hul geld op hom. Nietemin hoop ek mnr. Scheepers word nou spoedig en lewend gevind.

Showahed ·

Bolhuis se motiewe is voordiehandliggend (isditeenwoord?)… kyk net hoe lyk die man se boeke en het sy lewensmaat dalk ‘n geheim?

Claudia ·

Showahed, Mike Bolhuis beskerm sy vrou en kinders. Ek glo nie ek hoef die redes hiervoor te verduidelik nie.

GM ·

Die mense wat net so verdwyn sonder om hul families mee te deel dat hul bietjie spasie nodig het, is uiters selfsugtig. As jy vlug vir jou lewe, is dit natuurlik ‘n ander saak, maar kyk hoeveel hulpbronne word gebruik om na iemand te soek. Die mense kon in daardie tyd gebruik word om na iemand te soek wat regtig in gevaar verkeer. Baie sal sê mens dink nie altyd nugter as jy aan depressie ly nie, ek sien dit in, maar daar is tog tekens waarna gesinslede kan oplet. Mense leef deesdae verby mekaar.

Ek hoop die man word ongedeerd gevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.