Vermiste man se branderplank gekry

Die man word steeds vermis. (Foto: www.eastern-cape-info.co.za)

ʼn Branderryer wat Dinsdag langs die kus by Chinsta, noord van Oos-Londen, vermis geraak het, se branderplank is intussen gekry.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die 38-jarige man se branderplank het gister op die strand uitgespoel.

“Daar was geen teken van die man nie en daar word steeds na hom gesoek,” sê Lambinon.

“Dit lyk of daar bytmerke aan die plank is wat moontlik dié van ʼn haai kan wees. Dit word ondersoek.”

Die NSRI en die Buffalo City-metroraad het intussen ʼn haaiwaarskuwing as voorsorgmaatreël aan swemmers, roeiers en branderryers gegee om ekstra waaksaam in die kusgebied tussen Oos-Londen en noord van Chinsta te wees.

“Hoewel ʼn haaivoorval in hierdie vroeë stadium nie bevestig kan word nie, word die waarskuwing gedoen op die aanname dat die voorval dalk met ʼn haai verband kan hou en versigtigheid aan die dag gelê moet word,” sê Lambinon.

Verskeie polisiebeamptes, lede van die honde- en die polisie se duikeenheid soek intussen na die vermiste man. ʼn Private helikopter wat deur ʼn plaaslike sakeman beskikbaar gestel is, ʼn reddingshelikopter van die Oos-Kaapse departement van gesondheid se nooddiens en vriende van die man in bote help die polisie met die soektog.

Die NSRI het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat Dinsdag omstreeks 11:00 in die omgewing van die Chinsta-strand was en enigiets opgemerk het wat moontlik met die saak verband kan hou, om met inligting na vore te kom.

“Ons gedagtes is by die familie en vriende van die man in hierdie moeilike tyd,” het Lambinon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sêmanet ·

Ek weet dit is hartseer en onseker, maar toe ek lees van bytmerke van ‘n moontlike haai, toe het ek dadelik gedink aan ‘n tekenprent waar die zig zag merke van die “haai” se tande is. Ek hoop egter hulle kry hom waar hy dalk skuil en wag op hulp.

Hendrik Marthinus ·

Ai man
Bytmerke op branderplank is n slegte teken
Hoop hy word gou gevind, belangrik vir familie om te weet wat aangaan
Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.