Vermiste onnie se ma: ‘Dit was ’n verskriklike Kersfees’

Coleen en John Bothma. (Foto: Verskaf)

“Hoe kan ek myself geniet as ek nie weet waar my kind is nie?”

Coleen Bothma het ten spyte van verskeie uitnodigings van familie en vriende die feesseisoen alleen by haar huis in Kemptonpark deurgebring nadat haar seun, John, byna agt maande gelede in Viëtnam verdwyn het.

“Dit was ’n verskriklike Kersfees. Ek wens ’n mens kan net afsluiting kry, ongeag of dit nou goeie of slegte nuus is. Die onsekerheid maak ʼn mens dood. Jy vra jouself die heeltyd af: ‘Het jou kind kos? Het jou kind slaapplek? Hou hulle hom as gyselaar aan? Is hy veilig?’,” sê sy.

Maroela Media het vroeër berig Bothma het op 15 Mei verlede jaar vir die laaste keer met haar seun oor die telefoon gepraat voordat sy familie hom sedert 18 Mei nie meer in die hande kon kry nie. Hy is die laaste keer in Ho Chi Minh City gewaar.

Bothma sê sy het sowat vier weke laas van Interpol gehoor toe hulle nog van John se DNS wou hê.  “Hulle het gesê hulle het iets gekry, maar wou nie meer sê voordat hulle konkrete bewyse het nie,” verduidelik sy.

John Bothma (Foto: Facebook)

Bothma het in Oktober self na haar seun in Viëtnam gaan soek, maar het met meer vrae as antwoorde teruggekeer.

Sy vertel dat Faheema Daniels, die ma van Mushfiq Daniels wat ook in Viëtnam verdwyn het, intussen ook huiswaarts gekeer het nadat sy maande lank in die vreemde na haar seun gesoek het.

“Ek en Faheema stuur daagliks vir mekaar boodskappe om mekaar moed in te praat. Ons het besluit om na die Viëtnamese ambassade in Pretoria te gaan en daar te sit totdat hulle vir ons antwoorde gee. Hulle hou ons in die duister,” sê Bothma.

Hoe gaan ’n ouer aan? Sy vertel dat sy hard werk en deesdae ná kantoorure na bejaardes omsien om haar gedagtes aan die gang te hou. “As dit nie vir my werk en vir God was nie, het ek lankal ingegee.

“My grootste wens vir 2020 is om terug te gaan Viëtnam toe en vir Boeta terug te bring. Ek wil hierdie jaar voluit lewe, maar ek moet eers vir John kry.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.