Vermiste renoster in KZN aangekeer

Argieffoto: viechfisch, Pixabay

ʼn Tweede renoster wat uit die Hluhluwe iMfolozi Park (HiP) ontsnap het, is Maandag aangekeer. Twee witrenosters en twee leeus het verlede week ontsnap.

Maroela Media het vroeër berig een van die witrenosters is reeds verlede week Donderdag aangekeer en een van die twee leeus is doodgeskiet nadat dit vier beeste gevang het.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, sê persone wat langs die heining gestap het, het Maandag ʼn wenk ingestuur. “ʼn Helikopter is ontplooi om die gebied te monitor. ʼn Renoster is naby die Cengeni-hek net buite die heining opgemerk. Die wildvangseenheid is ontplooi en die renoster is aangekeer.”

Die renoster is sonder probleme weer in die HiP vrygelaat. Hy het slegs kneusplekke opgedoen, waarskynlik omdat die dier iewers geval het. Die renoster is langs die iMfolozirivier in die HiP vrygelaat.

Die tweede leeu is nog nie gevind nie.

“Ezemvelo-bewaarders is op voetpatrollie buite HiP en volg enige wenke op van mense wat die leeu opmerk.”

Ezemvelo raai mense aan wat die HiP wil besoek om nie die Cengeni-hek te gebruik nie. “ʼn Groep mense het die pad langs die nabygeleë Sasol-vulstasie versper. Die betoging is ver van die hek af, maar as ʼn voorsorgmaatreël raai Ezemvelo besoekers aan om eerder nie van dié hek gebruik te maak nie.”

Die jongste betoging die Ezemvelo-bestuur onkant gevang aangesien die bestuur met lede van die gemeenskap tot ’n vergelyk gekom het ná bogenoemde voorval.

“Daar is op die vergadering besluit dat die park twee maande gegun sou word om die beskadigde heining te herstel. Daar is ook besluit dat plaaslike werkers aangestel sal word om te help met die herstel van die heining,” het Mntambo vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Phumba ·

Maar nou wil die ander “locals” betoog omrede hulle oor die hoof gesien is tydens indiensneming.

007 ·

Twee maande om die heining te herstel? Seker nie ‘n prioriteit nie?

Kokerboom ·

Sekere “gemeenskappe” wil altyd net hê of anders betoog of verwoes hulle! Van spontane hulp hoor jy NOOIT!

SjN ·

Die crime het seker drasties gedaal in daai omgewing waar die leeu uitgekom het, let wel, nie ontsnap het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.