Vermiste SA onnie se ma op pad na Viëtnam

Coleen Bothma saam met personeel van Flight Centre. (Foto: Verskaf)

Coleen Bothma is tans op ’n vlug na Viëtnam om na haar seun John te gaan soek nadat hy in Mei vanjaar in dié land vermis geraak het.

Bothma het vanoggend omstreeks 09:00 vanaf die OR Tambo-lughawe in Johannesburg vertrek na Hanoi. Dit is haar eerste keer op ʼn vliegtuig.

“Ek is baie bang. My maag wil nie ophou draai nie. Ek weet nie wat om te verwag nie,” het sy vanoggend kort voor haar vlug aan Maroela Media gesê.

Bothma sal, nadat sy Vrydag in die vreemde aangekom het, eerste na die Suid-Afrikaanse ambassade in Hanoi gaan om te sien of ʼn paspoort wat daar ingedien is wel dié van haar seun is.

Sondag gaan sy na die skool waar John tot kort voor sy verdwyning klas gegee het en daarna vertrek sy na Ho Chi Minh City waar John meer as vier maande gelede vir die laaste keer gewaar is.

Coleen en John Bothma. (Foto: Verskaf)

“Ek gaan slaap waar John vir die laaste keer geslaap het voordat hy weggeraak het. Ek gaan in sy voetspore stap. Wie weet, miskien bring ek vir Boetie huis toe?”

Bothma sal weer op 7 Oktober na Suid-Afrika terugkeer.

“Ek is baie bang, maar God gee my krag. Ek gaan in John se voetspore stap,” vertel sy, terwyl ʼn stem oor ʼn luidspreker ʼn vlug in die agtergrond aankondig.

Bothma het vroeër aan Maroela Media gesê dit is haar grootste begeerte om self na haar seun in Viëtnam te gaan soek. Toe stap sy een dag by ’n Flight Centre in Kempton Park in. “Ek wou net hoor hoeveel ’n vliegtuigkaartjie kos. ’n Paar dae later bel hulle my om te sê dat hulle my vliegtuigkaartjie sal betaal,” het sy toe vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Nicola ·

Ek bid en vertrou dat die mamma haar seun veilig saam met haar sal terug bring!!

toy ·

Sterkte vir jou. Weet die Here sal jou beskerm daar en jy jou kind gou sal opspoor.

Ekke ·

Moet net ooit alleen soek nie, kry mense om saam met u te beweeg. Sterkte hoop regtig julle kry hom, om net weg te wees, is aaklig.

Liena ·

Stem saam, sy moet ook iemand kry om te vertaal, hul gaan haar nie verstaan nie. Ek haal my hoed vir hierdie mamma af en ek wens haar alle sterkte toe.

Maria ·

Ek stem saam met jou raad. Coleen jy goeie ma , Ek sal bid en sterkte.

Natersea ·

Sjoe, kan nie aangenaam wees om deur so iets te gaan nie – ons dra jou in gebed Coleen, laat die Heilige Gees jou lei

Johanna ·

Colleen, Ek bid vir jou. God se Engele beskerm jou op hierdie reis. Jy doen die regte ding. Mag jy jou seun vind en terugbring huistoe.

JohanL ·

Dankie Flight Centre vir jul bereidwilligheid om kaartjie te borg. Kom ons hoop Coleen Bothma kry goeie nuus in Vietnam.

Loutjie ·

Sterkte mag God jou in die holte van Sy hou. Mag jy krag kry vir elke voetspoor wat jy stap. Flight Centre dankie vir die mooi gebaar.

Geloof ·

Sterkte Coleen Bothma

Ek sal saam met jou bid in die voetspore waar jy gaan stap. God is saam met jou en ek hoop regtig dat jy jou seun sal vind. Mag God se seen saam jou wees

Ronel ·

Dankie vir Flight Centre vir die groothartige daad! Sterkte Coleen, want dit gaan ook ‘n baie hartseer tyd vir jou wees. Mag daar ‘n wonderwerk plaasvind en jy jou pragtige seun ongeskonde opspoor. Ek kry jou so jammer.

Agter die skerms ·

Coleen gaan soek jou seun, en laat jy hom vind net om afsluiting te kry. Asb ons God laat sy haar seun vind my Heer want sy wil net berusting kry. Amen my God.

Bennita ·

Baie sterkte! Mag jy suksesvol wees en mag die Here se Engele jou beskerm en lei.
Dankie Flight Centre.

Lizelda ·

Wow! Flight Centre met sulke goeie gesindheid teenoor landsburgers maak julle my trots. Ek hoop en vertrou dat jy die antwoorde in Vietnam sal kry en wie weet dalk het jy TWEE kaartjies terug nodig. :-) Sterkte!!

Penellope Jones ·

Ek hoop sy het iemand wat haar vergesel?
Alle voorspoed met haar doel.

Hanlie ·

Colleen ek bid jou sterkte, kalmte en vrede toe. Mag jy regtig geseen word op jou reis, en ek bid saam met soveel ander mense dat jy jou seun sal vind en die Heilige Gees jou sal beskerm op hierdie rit. Sterkte en hou moed!

Anoniem ·

‘n Ma op ‘n missie.

Ten spyte van die onverkwiklike omstandighede, is dit wonderlik om moederliefde in aksie te sien.

Dankie Flight Centre, dat julle dit vir haar moontlik maak om self na haar kind te gaan soek.

n Ma ·

Sterkte vir jou en mag jy jou seun vind. Kan my nie indink wat jy deurgaan.
Mag ons Vader en sy Engele jou veilig hou.

Rika ·

Baie sterkte daar kan net vir jou bid dat die Hemelse Vader elke dag saam met jou sal stap en dat hy veilig sal terug kom saam jou.

Riaan ·

Ek het altyd gedink n onnie is iets wat jy onder jou broek aantrek.Onderwyser is die regte benaming M.M.

Santie ·

Ag kom nou, is dit nodig? Dra jy maar jou onnies. Ons onnies hou skool!

Zellie ·

Sterkte Colleen
God is groot! Ek glo en vertrou jy gaan jou seun vind. Ons almal bid en hoop saam met jou.

Anne ·

Mag die Here elke tee saam met jou wees. Mag jy hom kry. Baie dankie vir almal wat aan hierdie ma ondersteuning bied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.