Vermiste sewejarige se liggaam in veld gekry

(Argieffoto)

Die verbrande liggaam van ʼn sewejarige meisie is in ʼn veld by Lethlabile, naby Brits in Noordwes, gekry nadat sy verlede week spoorloos verdwyn het.

Die kind is Donderdag die laaste keer lewend gesien toe sy saam met twee tienjarige seuntjies by ʼn dam in die omgewing gespeel het. ʼn Man het die kinders geroep en vir hulle vis by sy huis aangebied en die twee is saam met die dogtertjie na die man se huis.

Daar het die man glo aan die seuns gesê dat hulle hul skoene moet gaan aantrek voordat hy vir hulle iets sou gee om te eet, sê kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Die twee is terug huis toe en het by hul terugkeer die man se woning verlate gevind. Daar was geen teken van die meisie nie.

Hulle het die kind se tante daaroor ingelig en dié is saam met die meisie se ouma terug na die huis waar die man aangevoer het die kind is saam met ander kinders weg.

Botma sê die familie het die saak by die polisie aangemeld en ʼn groot soektog na die meisie is van stapel gestuur.

Die kind se pa het die verdagte Vrydag self na die polisiestasie geneem, waar hy ondervra is. Daar het hy glo erken dat hy die kind vermoor het. Hy het ook die plek uitgewys waar haar liggaam, ná ʼn lang soektog, Saterdag in ʼn bos gevind is.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het die voorval as “afgryslik” bestempel.

Hy het die polisielede van verskillende eenhede bedank wat onophoudelik gesoek het totdat die kind se liggaam eindelik gevind is.

Die 31-jarige verdagte verskyn na verwagting Maandag in die landdroshof op Brits op aanklag van ontvoering, moord en dwarsboming van die gereg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.