Vermiste Vrystaatse 72-jarige opgespoor

Willie Rossouw (Foto: Facebook)

Willie Rossouw, die 72-jarige man van Virginia in die Vrystaat wat Woensdagmiddag spoorloos verdwyn het en sedertdien as vermis aangegee is, is opgespoor.

Kapt. Bennie Strydom, woordvoerder van die polisie, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Strydom het gesê Rossouw is ongedeerd, maar “uitgeput”. Hy wou nie verder oor die voorval kommentaar lewer nie aangesien die familie in dié stadium privaatheid versoek het.

Maroela Media het vroeër berig Rossouw se motorbestuurder het hom Woensdag na ʼn sentrum in Welkom geneem sodat hy ʼn dokument kon laat beëdig. Sy sig is aangetas, hy loop moeilik en maak al ʼn geruime tyd gebruik van die bestuurder. Die bestuurder sou Rossouw weer oplaai nadat hy die dokument laat beëdig het, maar hy het glo nooit na die motor teruggekeer nie.

Rossouw het sy vrou kort ná sy aankoms by die sentrum laat weet dat hy verdwaal het.

Dit het later aan die lig gekom dat Rossouw al voorheen episodes beleef het waarin hy nie weet het waar hy is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johanita Kumm ·

Ek besef dat mense hul privaatheid hoog ag, net interessant dat, in byna elke geval waar familie smeek om hulp en gebed, as daar uitkoms is, hul niks verder wil sê nie!! As mens angstig saam wag vir nuus is dit soos koue water oor mens…. gekry, punt! Ons wil end-uit betrokke wees en ook afsluiting kry.

$ ·

Waarom maak die detail nadat die persoon veilig gevind is vir Jan Publiek saak? Die familie vra hulp om die persoon op te spoor; as die persoon gevind is, is die verdere detail nie meer belangrik as hy/sy veilig gevind is nie.

Dink so daaraan – as iemand ná aan jou vermis word, roep jy die polisie se hulp in om hom/haar te help soek. As jou geliefde gevind is, wil mens hê die polisie moet dan heeltyd aan jou deur kom klop sodat jy nou verder verslag moet doen oor jou en jou geliefde se doen en late? Natuurlik nie; mens wil so gou moontlik aangaan met jou lewe ná die traumatiese gebeure en dit in privaatheid probeer verwerk – mens wil allermins dan verder aan almal verslag hoef te doen en nog minder aan Jan Publiek.

As hulp gevra word om ´n persoon te soek, is dit presies dít wat gevra word – hulp om ´n persoon te help opspoor. Sodra die persoon opgespoor is, word die hulp nie meer benodig nie, die taak is voltooi.

Enige verdere aandrang van die publiek op besonderhede in detail gaan uiteindelik meer oor die sensasie/nuuswaardigheid daarvan as oor omgee vir mens se medemens.

In hierdie geval het die persoon verdwaal en is genadiglik gevind – dis detail genoeg vir Jan Alleman.

Karolis ·

Voorstel:
Gesien in die lig dat dit al voorheen gebeur het, kan die motorbestuurder nie saam met mnr Rossouw gaan loop nie?

Nel ·

Heelwaarskynlik sal die familie na hierdie episode daarop aandring dat die motorbestuurder hom oral vergesel.

mc ·

Ag dankie Vader tog. Die probleem is, ons wil vir niemand ‘n las wees nie, daarom probeer ons so lank as moontlik op ons eie dinge doen. Jy wil nie die kinders pla nie, want hulle is besig met hulle eie lewens. Jy probeer so lank as moontlik aan jou onafhanklikheid vashou – ek het gesien met my oorlede pa. In hierdie oom se hart is hy nog steeds die sterk eggenoot en pa wat hy voorheen was. Dit is beslis niemand se skuld nie – ek’s bevrees ek sal dieselfde paadjie stap, tot my eie nadeel.

Lana ·

mc, ons moet almal baie gou besef dat die tyd van alleen probeer en op jou eie probeer in dié land is lankal verby.
Staan bymekaar, help mekaar en kyk uit vir mekaar. Dis al wat nou sin maak!!

Gesiggie ·

Baie bly en dankbaar dat Mnr Rossouw veilig is…. kan dink hoe bekommerd die Familie was…

Lana ·

Belangrikste van alles is dat die oom lewe en veilig is!!
Mense, dis soveel angs terwyl iemand soek is en wanneeer persoon lewend gevind word, is dit normaal dat familie so oorbluf is en dat hulle verder net vrede soek.
Die oom was lank weg. Mens weet nie wat alles in dié tyd aan hom gedoen is nie. Hy het rus en vrede nodig en kan nie nou bombardeer word met vrae oor wat alles gebeur het nie. Dit sal met tyd kom.
Gun hul die privaatheid wat nou nodig is.
Ons is bly jy’s terug, oom!

Oom Kalahari ·

Ons is baie bly en dankbaar dat hul Willie kon opspoor en weer veilig met familie verenig. Dit is soos vele van my mede kommentaar mense hier ook hul bekommernisse gehad en deel neem met korrespondensies na vriende ens om uitkyk na vermiste, maar soek ook afsluiting oor wat gelei het tot sy opsporing en tuiskoms. Vele families kan soiets oorkom en weet dan wat om te doen en te kan hanteer. Almal was maar net bekommerd en wil op alle maniere wat hul moontlik kan, help om Willie tuis te kry by sy familie. Sterkte aan die familie en pas hom asb op.

Hannes De Beer ·

Ag nee wat familie, waarom nou so beskeie.

Kom bring maar die sak patats uit. Het julle nie die hele land vir die gek gehou nie?

$ ·

Jy noem dit nou op die naam – nuuskierige agies. In sulke gevalle tel begrip vir mense wat in privaatheid poog om die stukke van hul lewens wat onverwags en ongevraagd uitmekaar geruk is, weer op te tel, meer as die nodigheid om wildvreemde mense se nuuskierigheid te bevredig.

smurfie ·

Ek verstaan die familie soek hul privaatheid. Dit sou net interesant gewees het om te weet wàar hulle hom gekry het. Die dorp waar hy bly en die plek waar hulle sy selfoon sein gekry het, is ongeveer 300km + uit mekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.