Vermoorde ma ‘laat hele dorp agter’

Lindie Oberholzer (52) se liggaam is Woensdag in haar huis in die Bendor-woonbuurt in Polokwane aangetref. (Foto: Verskaf)

“Dit was verskriklik skielik en ons harte is stukkend. Haar lewe is van haar af weggeruk en dit was nie die Here se wil gewees nie.”

Só het ’n hartgebroke Antonette Koekemoer (30) Vrydag aan Maroela Media gesê nadat haar ma, Lindie Oberholzer (52), se liggaam Woensdag in die Bendor-woonbuurt in Polokwane aangetref is.

Koekemoer het die skoknuus by haar broer, Armand Smit (32), gekry.

Sy sê haar broer en stiefpa, Obie, het Woensdag ’n dag vroeër van ’n jagweek in Musina in Limpopo teruggekeer en wou Oberholzer verras, toe hulle op haar liggaam afgekom het.

Die polisie het vroeër gesê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat Oberholzer met ʼn skerp voorwerp geslaan is. Daar is ook nog nie vasgestel hoe die moordernaar(s) toegang tot die huis verkry het nie.

Koekemoer het Vrydag aan Maroela Media gesê die familie het geen vermoedens oor wat gebeur het of waarom nie.

Antonette Koekemoer (30) by haar ma, Lindie Oberholzer (52). (Foto: Verskaf)

Sy sê hulle weet nie veel van die ondersoek in dié stadium nie, maar wel dat haar ma se selfoon en van haar juwele gesteel is.

Waarom iemand haar sou wou vermoor, is egter vir die familie ʼn “groot raaisel”.

“Sy was nie ’n bedreiging vir enigiemand nie.”

Koekemoer sê haar ma was met ’n dierbare man getroud en dat sy geliefd was deur almal wat om hulle gewoon het, asook deur haar kollegas by die Vleislapa-slaghuis in Marshallstraat waar sy jare lank gewerk het.

“Sy was hardwerkend en haar werksmense was so lief vir haar.”

Koekemoer het haar ma op 13 Augustus vir die laaste keer gesien, en die Dinsdag vir die laaste keer met haar gepraat.

“Ons het net lekker ma-en-dogter-tyd saam deurgebring en mekaar se geselskap geniet.

“Ek het haar Dinsdag gebel om te hoor of sy iets nodig het, want sy was met verlof en alleen by die huis.”

Sy sê haar ma was ’n liefdevolle mens wie se hart en hande altyd oop was vir ander.

“Hoewel sy self die swaar van die lewe geken het, was sy ’n skouer vir baie.

“Ek sal haar altyd onthou as die vriendelikste mens wat nooit gekla het nie; altyd die beste in ander raakgesien het en nooit ’n slegte woord oor ander te sê gehad het nie.”

Koekemoer gaan haar ma se “aansteeklike lag” mis, maar meeste van alles, haar drukkies.

Lindie Oberholzer (Foto: Verskaf)

“Want as sy jou gedruk het, was alles beter.”

Koekemoer sê sy wens dít wat met haar ma gebeur het vir geen familie toe nie, en sê geweld teen vroue moet einde kry. Sy het egter vertroue dat haar ma se moordenaars wel aan die pen sal ry.

“Ons het volle vertroue in die polisie dat hulle die saak sal oplos en dat geregtigheid sal seëvier. Daar is ’n ongelooflike polisiespan wat hard werk en alles insit.”

Benewens Koekemoer, Obie en Smit, laat Oberholzer ook haar dogters, Bianca Lavender en Veruchka Ferns, agter, asook vier kleinkinders.

“Eintlik laat my ma ’n hele dorp agter. Ons harte is rou en stukkend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.