Soorte resepte:

Vernuftige braaiers, kokke gesoek vir ‘Kokkedoor’

Karen Els en Gert Joubert is as die eerste wenners van “Kokkedoor Vuur & Vlam” aangewys. (Foto: Verskaf)

kykNET steek weer die vure aan vir die nuwe seisoen van die gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam.

Die inskrywings is nou oop en, soos met die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam, moet deelnemers vanjaar weer die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hulle braaivaardighede beïndruk.

Die oorkoepelende Kokkedoor-tafel is in 2013 die eerste keer vir kykers gedek, en oor die jare het die reeks uitgebrei met Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie wat geurige vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.

Verlede jaar het hierdie werklikheidsreeks die eerste keer ’n braaivoorskoot aangetrek, en Karen Els van Malmesbury en Gert Joubert van Jeffreysbaai is as die eerste wenspan van Kokkedoor Vuur & Vlam gekroon.

Koskenners Bertus Basson en Kobus Botha. (Foto: Verskaf)

Nou is kykNET weer op soek na die perfekte kombinasie van ʼn onthoubraaier en ʼn kinkelbraaier wat vurig daaroor voel om kos oor die kole gaar te maak.

Wat is die verskil tussen hierdie braaiers? ʼn Onthoubraaier het nie formele sjefsopleiding en professionele ondervinding nie, maar hulle harte klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vanweë hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Daarenteen word kinkelbraaiers gekies juis vir hulle kwalifikasies of ondervinding in ʼn erkende restaurant of professionele kombuis.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 15 Junie 2024, en die reeks sal vanaf Januarie 2025 op kykNET uitgesaai word.

Skryf só in:

Besoek www.kyknet.tv of stuur ʼn e-pos na [email protected]

Elke deelnemer se inskrywingsvideo, maksimum drie minute lank, moet die volgende inligting bevat:

  • Stel jouself bekend.
  • Vertel wie jy is.
  • Waar kom jy vandaan?
  • Skryf jy in as ʼn onthoubraaier of ʼn kinkelbraaier?
  • Wat maak van jou ʼn onthoubraaier of ʼn kinkelbraaier?
  • Hoekom wil jy deelneem?

Reëls:

Hoe oud moet iemand wees om deel te neem? Jy moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie.
Kan enigiemand inskryf? Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger met ʼn geldige identiteitsdokument kan inskryf.

Wanneer vind die oudisies plaas? Oudisies sal in Junie 2024 plaasvind.

Wanneer en waar gebeur verfilming? Spanne wat deurdring om deel te neem, moet van 18 Julie tot 14 Augustus in Struisbaai in die Suid-Kaap beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.