Verrassende hulp vir seun met rugbydroom

Die 18-jarige Gavin Smith met ‘n rugbybal in die hand. (Foto: Facebook)

’n Jong rugbyspeler en inwoner van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom in Modimolle, Limpopo, is “stom” nadat die Haaie aangebied het om finansieel by te dra sodat hy saam met sy rugbyspan na die Vrystaat kan toer.

Die 18-jarige Gavin Smith is gekies vir die Limpopo Blou Bulle se hoërskoolspan wat in die opkomende VKB-rugbyreeks in Reitz gaan meeding.

“Ek het gedroom van dié dag. Ek wou nog altyd vir die Limpopo Blou Bulle speel en verder gaan met my rugby. Dit is ’n groot geleentheid,” vertel ’n opgewonde Gavin.

Hoewel dié agsteman uiteraard baie opgewonde en dankbaar was om te hoor dat die Haaie hand op gesteek het om sy uitgawes vir die toer te dek, is hy net te bly dat iemand gereageer het op die kinderhuis se versoek.

“Dit gaan nie vir my oor wie my borg nie. Ek wil net rugby speel. Ek wil net die rugbybal in my hand hê.”

Die 18-jarige Gavin Smith. (Foto: Verskaf)

Marlene de Villiers, bemarker van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, het Maandag in ’n inskrywing op Facebook gevra vir bydraes sodat Gavin sy rugbydroom kan nastreef. Groot was haar verbasing toe dr. Eduard Coetzee, die Haaie se uitvoerende hoof, in die kommentaar aandui dat die rugbyunie bereid is om te help.

“Dit was vir ons wonderlik toe ons sien dat die Haaie kommentaar lewer. Dit was ’n groot pluimpie vir ons. Ek het eers die volgende dag vir Gavin daarvan vertel. Hy is baie opgewonde.”

Coetzee het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê die Haaie het reeds ’n inbetaling gemaak vir Gavin se toer. “Hy hoef oor niks anders bekommerd te wees nie.”

Coetzee het dit egter duidelik gestel dat die Haaie se lof nie besing moet word nie. “Dit gaan nie oor die Haaie nie. Dit gaan oor Gavin. Dit is vir ons ’n voorreg om hom te kan help.

“Dit gaan nie oor ons wat ’n speler probeer werf nie. Ons wil net seker maak dat hierdie seun saam met al die ander ouens wat dalk meer voorregte het op dieselfde vlak kan kompeteer en dat sy omstandighede hom nie terughou nie.

“Sport speel ’n baie belangrike rol in ons land en in baie mense se lewens.”

Die 18-jarige Gavin Smith. (Foto: Verskaf)

Gavin is tans ’n gr. 11-leerder aan Hoërskool Nylstroom en woon al sowat tien jaar in die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.

“Gavin is van kleintyd af al baie lief vir sport – krieket, gholf – maar rugby bly sy groot liefde,” vertel De Villiers.

“Gavin het baie sterk leierseienskappe en was die enigste van ons kinders om ’n leierskapposisie in die laerskool te beklee. Hy is volgende jaar in matriek en ons het baie hoop dat hy ook volgende jaar moontlik ’n leierskapposisie sal beklee.”

Gavin bestee ook baie tyd aan sy skoolwerk en hoop om ná skool nie net rugby te speel nie, maar ook ingenieurswese te gaan studeer.

“Ons wil graag hê ons kinders moet hul talente en potensiaal nastreef sodat hulle met vlerke kan uitgaan en ’n sukses maak van hulle lewe,” vertel De Villiers.

SMS jou naam en “Gavin” na 39236 (teen R15 per SMS – T’s en V’s geld) om meer kinders van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom dieselfde geleenthede te kan bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Haaie help Bulle speler? Sou dit nie dalk beter gelees het indien Bulle gehelp het nie? Welgedaan Haaie, glo hy sal vir julle na skool ‘n aanwins vir julle wees

Christo ·

Net so jammer dat die SA Rugby Unie nie vir die kinders kan borg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.