Verskeie stappers oor naweek gered

(Foto: Wildernis-soek-en-redding (WSAR)/Facebook)

Noodreddingspanne was die afgelope naweek fluks aan die werk met verskeie reddingspogings nadat heelparty stappers op verskillende plekke landwyd in die moeilikheid beland het.

Lede van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) moes hulle Saterdag na die Kirstenbosch- nasionale botaniese tuin haas nadat ʼn vrou op ʼn staproete op Tafelberg geval en haar been beseer het.

Die 24-jarige stapper was op die Ledges-staproete wat strek tussen Duiwelspiek en Tafelberg tot by die noordoostelike punt van die berg. Daar is verskeie steiltes op die roete.

David Nel, woordvoerder van WSAR, sê die stapper was op ʼn steil gedeelte van die roete, hoog bo Nuweland, toe sy gegly en ongeveer twee meter ver geval het.

“Sy het haar been beseer en kon nie verder stap nie,” sê hy.

“Haar medestapper het dadelik hulp ontbied.”

ʼn Klein span het die Wes-Kaapse departement van gesondheid se noodreddingshelikopter gebruik om na die toneel te vlieg. Hulle het die afgeleë rand, waar die stappers gestrand was, bereik en hulle na veiligheid gehys. Die stappers is na ʼn landingsone by Kirstenbosch geneem en die beseerde vrou is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.

Volgens Nel het die reddingspoging egter so hittete nie heeltemal seepglad verloop nie.

“Terwyl die span besig was met die redding, het ʼn verbygaande stapper die reddingspoging onderbreek en daarop aangedring om eers by die rand af te klim sodat sy met haar staptog kan voortgaan.

“Intussen het die helikopter bo dié rand gehang,” sê Nel.

“Ondanks die span se pogings om vir die stapper te beduie om weg van die helikopter te beweeg of te stop, het sy voortgegaan om in die rigting van die helikopter te beweeg.

“Een van die noodreddingswerkers het gou gespring om die stapper uit die pad na veiligheid te neem.”

Nel sê as die stapper aanhou beweeg het, sou die wind van die helikopter haar moontlik van die krans afgewaai het.

“Hierdie voorval het amper in ʼn tragedie geëindig,” sê hy.

“Dit wys presies wat die risiko vir omstanders tydens noodreddingsoperasies is. Ons doen ʼn beroep op alle bystanders om reddingsoperasies te vermy of na reddingspanne se instruksies te luister om hul eie veiligheid, dié van die pasiënt en die reddingspan te verseker.”

(Foto: Wildernis-soek-en-redding (WSAR)/Facebook)

Nóg ʼn ure lange reddingspoging

Paramedici en lede van die Suid-Afrikaanse soek-en-reddingsdiens (SARZA) is Saterdag ook na ʼn staproete in die omgewing van Waterval-Boven in Mpumalanga ontbied.

ʼn 62-jarige man het tydens die staptog geval en ʼn beenbreuk bo die enkel opgedoen.

Dit het die noodreddingspanne uiteindelik nege uur lank geneem om die pasiënt na veiligheid te bring.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê ses paramedici, nege lede van SARZA en drie plaaslike stappers was Saterdag om 18:00 al op die toneel. Dit het egter twee uur lank geduur om die steil terrein tot by die beseerde stapper af te lê.

“Die span het met hul aankoms die pasiënt ondersoek en weens die omvang van sy beserings besluit om hom te dra met sy been in ʼn spalk en ʼn vakuummatras om hom sodat sy liggaam nie te veel beweeg nie,” sê hy.

“Met geïmproviseerde toukatrolle het die span dit reggekry om die pasiënt teen 03:00 Sondag van die berg af te bring.”

Die man is kort daarna na die Mediclinic Nelspruit geneem vir behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stephen ·

Die voels vlieg nie eens nie maar hierdie mense wil op hierdie berg roetes gaan stap! Hulle probleem word dan ander mense sn. Baie selfsugtig.

domheks ·

Daar was hoeveel WAARSKUWINGS uitgereik! Het die mense nie ore nie? Geen simpatie met hulle nie.

Annelize ·

Hoe onverantwoordelik om in sulke weer staproetes te wil gaan aandurf! Dan praat ek nie eens van die selfsugtige stapper wat eers teen die rand wou af, alvorens die reddingswerkers daar kon af nie. Hoe arrogant en selfgesentreerd kan een mens wees?!?

Lily ·

Hoe op dees aarde besluit mense in gure weer – presies soos dit Saterdag in die Kaap was – om te gaan stap en berg te klim?. Sulke mense moet sommer beboet word of laat hulle die koste help dra van die reddingsspanne.

JohanR ·

My neffie moes onlangs na sy kar en ‘n boom ontmoet het van die toneel hospitaal toe met ‘n heli. Ek dink dit het R56000 gekos van die toneel en net ‘n kort afstand hospitaal toe. Nou as ‘n heli mense op die koue, nat en glyerige roetes op die Kaap se berge gaan haal, en nogtans bietjie moet rond vlieg op soek kos die seker R100000 tot R150000??? Ek sal my skaam dat ander HULLE lewens in gevaar stel omdat ek in koue, nat en glyerige weer op ‘n berg wil gaan stap!

Minnie ·

Belaglik, mense steur hul nie aan waarskuwings nie en word dan onnodig nooddienste se probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.