Verskuiwing van Eskom ‘irrasioneel, rampspoedig’

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie. (Foto: Twitter)

Die DA gaan alle pogings om Eskom onder die vaandel van die departement van minerale hulpbronne en energiesake in te skuif op elke moontlike manier beveg. Die instelling val tans onder die departement van openbare ondernemings.

“Daar is ʼn duidelike en teenwoordige gevaar dat Eskom nooit ten volle ontbondel gaan word nie, ʼn stap wat nodig is, indien Eskom verskuif word,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings.

“Die voorgestelde verskuiwing van Eskom is irrasioneel en rampspoedig.”

Die DA stem ook saam met prof. Anton Eberhard wat gewaarsku het dat dit ʼn “groot fout” gaan wees om Eskom na die departement van minerale hulpbronne en energie – of selfs ʼn afsonderlike departement van energie – oor te plaas. Volgens Eberhard is daar ʼn ooglopende botsing van belange indien die energiedepartement Eskom se aandeelhouer is, terwyl hy terselfdertyd aanspreeklik is vir mededinging en regulering in presies dieselfde sektor.

Eskom sal sy oorheersende posisie in die mark behou indien die staatsbeheerde onderneming verskuif word en ʼn oop kragmark sal na alle waarskynlikheid nooit ʼn werklikheid word nie, sê Cachalia.

Hy waarsku ook dat private belegging aan die agterspeen sal suig en korrupsie en beurtkrag opnuut gaan gedy. Die stap kan moontlik ook groot finansiële gevolge inhou, ʼn kwessie wat die DA tans verder ondersoek.

Die enigste groep wat by die stap gaan baat, is diegene wat woeker om pres. Cyril Ramaphosa vir nog ʼn termyn aan stuur van sake te hou.

In die aanloop tot André de Ruyter se bedanking as hoof van Eskom, het Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, herhaaldelik onder De Ruyter ingeklim en hom van verskeie ongegronde en haas ondenkbare stappe beskuldig. Hy het onder meer aangevoer die instelling van beurtkrag is ʼn poging om die staat omver te werp en dat hy soos ʼn polisiebeampte by die misdaadgeteisterde instelling optree.

De Ruyter het in Desember boonop ʼn aanslag op sy lewe oorleef kort voor hy sy bedanking aangekondig het. Hy is vroeg in 2020 aangestel en het sedertdien probeer om korrupsie by die sukkelende instelling hok te slaan en grootskaalse instandhoudingswerk by Eskom se verouderde kragsentrales op dreef te hou.

Die kragvoorsiener het nie meer geld om diesel vir sy oopsiklus-gasturbines – wat gebruik word om beurtkrag tot laer fases te beperk – aan te koop nie en sy steenkoolkragsentrales breek gereeld wat verdere groot druk op die netwerk plaas.

Ramaphosa het vandeesweek gesê hy “loof enigiemand wat daardie werk [as hoof van Eskom] aanvaar”.

“Dit is ʼn moeilike werk,” het Ramaphosa gesê.

Volgens die president is daar ook nog geen aanduiding van wanneer beurtkrag opgeskort gaan word nie. “Ons hanteer dit so dringend as moontlik. Ons moet dankbaar wees dat die netwerk nie ineengestort het nie, dit sal die ergste Armageddon wees,” sê Ramaphosa.

Die resolusie om Eskom na ʼn ander departement te skuif, is by die ANC se afgelope nasionale konferensie geneem, oënskynlik in ʼn poging om die kragkrisis op te los. Die beoogde verskuiwing word egter uit verskeie oorde skerp gekritiseer.

“Dit gaan ʼn groot fout wees om die instelling – ten spyte van ʼn kastige beweegrede uit ʼn administratiewe en bedryfsoogpunt – in die smerige hande van ʼn ambisieuse boelie [Mantashe] te verskuif,” sê Cachalia wat ook meen Mantashe gaan die voorstanders van steenkool en sy “bondgenote in die kabaal”, naamlik Mondli Gungubele en Enoch Godongwana, in hierdie stryd inspan.

Hoewel dit moontlik is om Eskom reg te ruk, weier die kabaal – by wie Ramaphosa ná sy herkiesing nou in die skuld is – om te besef dat dit nodig is om ander opwekkingbronne te ondersoek en te ontgin, terwyl daar aan die behoefte voldoen word om die basislading bestendig te hou, sê Cachalia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

marius ·

Van beurtkrag na geen krag . Die waarskuwings was gerig maar toe word daar gegil oor negatiewiteit en doem profete . Hierdie hool is planke toe , en sal nooit regkom nie .

Johanncb ·

Mag ons dalk weet op watter wyse beurtkrag “hanteer” word?

Johann ·

Ons is uitgelewer aan ‘n absurde onbesonne difunksionele, magsmal kaders. Skuld mekaar oor en weer en hou mekaar in beheer van als wat kan.

annie ·

… erger as Armageddon? Mens kan sien Cyril het nog nie eens ‘n verstopte toilet moes hanteer nie. Cyril en die ou verstokte sosialis moet waai. Beide se rakleeftyd is verby en ons neuse dui dit aan. Enigeen kan nou maar oorvat by die twee. Dit sal nie veel slegter gaan nie en moet hoop regter Zondo is uit egte marmer gekap soos goeie regsmanne van oudsher.

Althes ·

Die ANC struikel van die een mislukking na die ander.
Gwede Mantashe ondersteun steenkool. Terwyl ANC kaders in luukse leef en sonder beurtkrag.

Karpraat ·

Dit sal goed pas by Mineraal en Energie want by Eskom myn die korruptes baie energiek????

Jacobus ·

Weereens word die groot olifant in die vertrek misgekyk. Ramaphosa is selfs besig om ons kapasiteit vir groei te vernietig deur op internasionale verhoë ons krag opwekings kapasiteit vir bord lensiesop te verkoop (moenie gebluf word nie) vir persoonlike gewin aan die internasionale popmeesters. …..

Republikein in die Wes Kaap ·

Mantashe met sy Mancosa MBA gaan beheer oorneem. Maar wag ‘n bietjie, elke tweede klerk by Eskom het ‘n MBA. Party het selfs PhDs.

Mariana ·

Daar is skielik so koue rilling wat teen my rug afbeweeg as ek na Mantashe kyk. Hy is nie wie hy voorgee nie, hy moet goed dopgehou word en ek begin wonder oor die vergiftiging van de Ruyter, nie of dit plaasgevind het nie maar deur wie is dit bewerkstellig. Duisende vrae sonder antwoorde en niemamd kan dit antwoord nie. Ramapoza speel sy rol baie goed. Die skrywer van sy toesprake moet egter nie soveel leuens inbring nie. Niemand in die ANC weet wat eerlikheid en deursigtigheid is nie, almal net daar vir hul eie gewin. SA lankal net hul geldpot, wonder net hoe lank gaan die geldpot nog staan…..dis net hulle wat floreer.Die wat daai geldpot voed, is besig om ernstig te verarm………maar dit is mos die oogmerk.

Herman L ·

So word Eskom op ‘n skinkbord aan die staatskapers gegee. ‘n Mens kan nie anders nie as om te wonder hoe groot Mantashe se aandeel is.

Nie Verbaas ·

Ramapokker, jou Armageddon is op pad. Net jy en jou onnosel kaders sien dit nie raak nie.

piket ·

Eerste stap om eskom ten volle in die ” staatsbestel ” op te neem………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.