Verslag kap Google, Takealot, Property24 oor mededinging

Die kommissie het verskeie bevindings en aanbevelings gemaak om mededinging in e-handel te verhoog. (Foto: Maroela Media)

Die Mededingingskommissie het ʼn voorlopige verslag bekend gemaak met bevindings en aanbevelings na aanleiding van ʼn ondersoek na aanlyn platforms, e-winkels, reis- en verblyfplatforms, afleweringsdienste en aanlyn advertensies. Die ondersoek is van stapel gestuur om markeienskappe te identifiseer wat ʼn negatiewe uitwerking op mededinging het, asook hoe dit die deelname van histories benadeelde mense (HDP’s) en klein en mediumgrootte ondernemings (SME’s) raak.

Die ondersoek het die voorste platforms in elke kategorie geïdentifiseer wat die meeste verkeer kry en waarvan gebruikers redelik afhanklik is, of waarskynlik sal wees. Die bevindings en aanbevelings verwys dus na hierdie spesifieke platforms. Die voorste platforms is:

  • Apple App Store
  • Google Play Store
  • Takealot
  • com
  • Airbnb
  • Delivery
  • Uber Eats
  • Property24
  • Private Property
  • AutoTrader
  • co.za
  • Google Search (waaronder Google Shopping en Google Travel)

Die kommissie het voorlopig bevind dat die Google-soekenjin ʼn belangrike rol speel om kliënte na verskillende platforms te stuur en op hierdie manier word platform-mededinging gevorm.

Dit beteken ook webwerwe wat betaal, se uitslae word boaan ʼn bladsy vertoon, terwyl Google se eie plasings mededinging in sy eie guns bewerkstellig.

Die kommissie se voorlopige aanbeveling is dat uitslae waarvoor betaal word, duidelik gemerk word as advertensies sodat kliënte dit makliker herken, terwyl die boonste gedeelte van die soekbladsy gehou moet word vir organiese of natuurlike soekuitslae wat gegrond is op relevansie en nie deur betalings beïnvloed word nie.

Die kommissie ondersoek ook of Google Search se verstekposisie op selfone in Suid-Afrika beëindig moet word.

Wat betref mededinging tussen ondernemings op platforms en die keuses wat verbruikers gebied word, het die kommissie voorlopig bevind daar is ʼn neiging om die voorste soekposisies te verkoop aan ondernemings wat nie noodwendig relevant vir ʼn verbruiker is nie. Dit beteken advertering is nie deursigtig nie. Dit het ʼn uitwerking op die keuses wat verbruikers maak, asook op mededinging, veral vir SME’s wat nie soveel geld as groot ondernemings het nie.

Die kommissie het ook verskeie voorlopige bevindings en aanbevelings oor mededinging tussen platforms gemaak.

Sagteware-app-winkels: Daar is geen doeltreffende mededinging vir geld wat app-ontwikkelaars gebruikers met aankope op die app vra nie en dit lei tot hoë koste en app-pryse. Die voorlopige aanbeveling is dat die toepassings verbruikers ook na ander opsies moet kan stuur, of dat ʼn boperk geplaas moet word op die kommissie wat app-winkels verdien.

Prysooreenstemming: Soortgelyke pryse wat gevra word vir reis en verblyf, e-handel en kosaflewering belemmer mededinging en skep afhanklikheid. Die kommissie stel voor dat die gebruik geskrap word. Wye pryspariteitklousules keer ondernemings om laer pryse op ander platforms aan te bied, terwyl nou pariteit weer ondernemings verhoed om laer pryse op hul eie kanale aan te bied.

Eiendomsadvertensies, kosaflewering: Nuwe toetreders tot die mark en plaaslike afleweringsplatforms voer ʼn opdraande stryd om groot, nasionale ondernemings te lok en dit ondermyn hul vermoë om behoorlik mee te ding. By eiendom is dit grootliks weens die belegging en steun van groot eiendomsagentskappe in geklassifiseerde advertensies en die kommissie beveel aan dat die maatskappye afstand doen van hul aandeel daarin. By kosaflewering verhoed nasionale restaurantkettinggroepe dikwels franchise-houers om op plaaslike platforms beskikbaar te wees en die kommissie beveel aan dat ook dié gebruik gestaak word. Die kommissie beveel ook aan dat daar groter deursigtigheid is oor wat presies afleweringsplatforms se gedeelte van die prys is wat ʼn verbruiker betaal wanneer hy op ʼn aanlyn platform ʼn aflewering laat doen.

Belanghebbendes het nou ses weke om voorleggings oor die voorlopige bevindings en aanbevelings te doen. Voorleggings moet teen 24 Augustus aan [email protected] gestuur word.

Die kommissie sal binne die volgende paar weke nog ʼn weergawe van die verslag bekend maak, sodra kwessies oor vertroulikheid opgelos is. Die finale verslag word in November vanjaar verwag. Dit beteken die kommissie kan vooraf wysigings aan die bevindings en aanbevelings aanbring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Manie ·

So dit gaan nou weer onder andere oor voorheen benadeeldes en hoe dit hulle negatief affekteer? Well, to get on your feet, get off your a..e en doen vir ‘n slag iets vir julself, want sommiges moet daagliks met BEE saamleef.

Willempie ·

NOG ń kommissie …… NOG ń verslag ….NOG ń kap …. en siedaar… boggerol !!!!

Andrew ·

Ek dink a paar mede lesers moet verder as die emosie kyk. Dieselfde geveg is in die VSA en ander dele in die wereld aan die gang oor “Big-Tech” se invloed op ons lewens en hoe hulle produkte van hul eie affiliate en idiologie voorkeur spasie vir advertensies en menings gee.

Martin ·

Ons weet almal dat dit baie gerieflik is om online iets te koop en dit te bestel en binne 48uur word dit by jou voordeur afgelewer deur ‘n koerier diens. Enigste nadeel is dat sekere besighede in SA toegemaak het omdat hulle kliënte verloor het wat verkies om online te koop. Ek mag nie name noem nie maar dit het veroorsaak dat daar nou ‘n beperkte hoeveelheid online besighede is wat ‘n monopoly het en pryse opstoot soos hulle wil, kyk hoeveel betaal ons die afgelope jaar sedert Mei 2021 om ‘n CD of DVD online te bestel – dit is belaglik…

Andries ·

As ek ‘n unieke produk lewer en ta wil dit ook ewe skielik doen, moet ek my markaandeel afstaan om hom te help. Se m….. man. Werk vir wat jy wil he.

christo ·

Hoe meer jy insit hoe meer kry jy daaruit. Mense dink nuwe idees uit, dikwels faal dit maar netso is daar sukses verhale. Indien jy lui is en aan die slaap gevang word, is dit jou eie skuld. Goeie diens het goeie verkope tot gevolg. Wanneer jy te lui is om verder af te rol op Google, is dit jou eie skuld indien jy nie die ander kompetisie gaan raak kyk en te vergelyk nie. Hoeveel keer word die rassekaart gespeel om lui mense ‘n ‘ gelyke ‘ geleentheid te gee? Al hierdie staatsinmenging is nadelig vir die ekonomie. Niemand wil belê in SA as gevolg van die tipe beleid nie. Wie het die wiel ontdek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.