Versoek dat afgebrande plase tot rampgebied verklaar word

Brande word by Mabalingwe bestry (Foto verskaf)

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van AgriSA, sê minstens R1 miljard se oeste en vee is in die Noord-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en Limpopo deur brande verwoes. Dit sluit infrastruktuurskade in. Vanaf middel Augustus het brande minstens 1,2 miljoen hektaar grond verwoes en boere lamgelê.

“Boere word reeds swaar getref deur, onder andere, beurtkrag, inflasie, hoë rentekoerse en vervalle infrastruktuur,” sê Henro Kruger, die DA se lid van die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. “Soos wat kospryse op rekordhoogtes bly, tesame met die uitbreking van voëlgriep, kan die bedryf nie bekostig om onder dié geweldige druk te bly nie. Dit sal lewenskoste vererger.”

Kruger sê die party is in gesprek met die departement van landbou oor planne om boere by te staan ná die tragiese gebeure.

Die DA doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om die betrokke boere by te staan op watter manier dit ook al vir hulle moontlik is deur AgriSA se rampverligtingstigting.

“Hulle het dringend voer nodig, vervoer van geskenkte bale na rampgebiede, en finansiële bystand om vervoerkoste te dek.”

Kruger sê hy wil ook sy versoek benadruk aan Thembi Nkadimeng, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dat die betrokke gebiede dringend as rampgebiede verklaar moet word sodat geld van die staat aan boere vrygestel kan word.

“Die DA sal altyd skouer aan skouer bly staan met boere en plaaswerkers om seker te maak dat hulle die beste uitslag ontvang en sodat ons voedselsekuriteit nie bedreig word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.