Vertroue in landbousektor laagste in dekade

Argieffoto: Reint Dykema

Vertroue in die Suid-Afrikaanse landbousektor het in die tweede kwartaal vanjaar tot die laagste vlak nóg gedaal sedert die derde kwartaal van 2009 –  die piek van destyds se wêreldwye finansiële krisis.

Agbiz, die landbousakekamer, en die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se jongste vertrouensindeks het van die 50-punt merk in die eerste kwartaal van vanjaar tot 39 punte in die tweede kwartaal geval. ʼn Vlak onder die neutrale 50-punt merk impliseer dat landbousakelui nie positief is oor saketoestande in Suid-Afrika nie.

Die vertrouensindeks verteenwoordig die siening van minstens 25 besluitnemers oor landbou-ondernemings ten opsigte van die tien belangrikste aspekte wat ʼn onderneming in die landbousektor beïnvloed, insluitend omset, bedryfsinkomste en markaandeel.

Die indeks word deur bestuurders, beleidmakers en ekonome van landbou-ondernemings gebruik om die persepsies van die landboubedryfsektor te verstaan en dien as ʼn toonaangewende aanduiding van die waarde van die landbouproduksie.

Agbiz sê nou hoewel die koronaviruskrisis hoofsaaklik ʼn gesondheidskok was, het die impak daarvan op die ekonomie ernstig geraak.

(Argieffoto)

Die sakekamer wys daarop dat hoewel die meerderheid van die landbousektor se bedrywighede kon voortgaan tydens die algehele landwye afsondering, vertroue in die sektor se omset steeds met 35 punte gedaal het. “Die uitdagings met betrekking tot graankwaliteit het die hoeveelheid verhandelbare graan in die mark verlaag, veral vir witmielies uit die ou seisoen,” het Agbiz gesê.

Volgens Agbiz het die graanlewering vir die nuwe seisoen, wat later as normaal begin het weens laat somerreën, ook nie juis die situasie verbeter nie.

“Die persepsie rakende algemene ekonomiese toestande in die land het in die tweede kwartaal met 18 punte tot 10 versleg. Dit is nie verbasend nie, aangesien die Covid-19-pandemie en afsonderingsmaatreëls die bedryfsaktiwiteit in verskillende sektore ontwrig het,” het Agbiz verduidelik.

Vertroue met betrekking tot landboutoestande het met 25 punte gedaal tot 53, steeds bo die neutrale punt van 50 punte. Volgens Agbiz getuig dit daarvan dat die landbousektor steeds nie so hard getref is deur die pandemie soos ander ekonomiese sektore nie. Dit is omdat die landbousektor as ʼn noodsaaklike diens geklassifiseer is en toegelaat is om te funksioneer hoewel sommige subsektore aanvanklik verbied was.

Agbiz het gesê hoewel Suid-Afrika se landbousektor ʼn verbetering in produksie in 2020 kan registreer in vergelyking met die vorige jaar, sowel as ʼn toename in uitvoerverdienste, sal die wolk van onsekerheid rondom die pandemie waarskynlik vertroue in die sektor verlaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Ou Lindiwe Zulu….die een met dit militere pette…..sal een more afwandel Woolworths toe om haar 25kg sirloin steak te kry vir die dag, en vind daar is NIKS. By versoek sal sy vind nee steak grooi nie op bome nie, en dat daar nie meer bees boere in SA oor is nie. Hoop die bestuurder se vir haar ‘n grondboontjiebotter toebroodjie en piesang is al wat hy vir haar kan aanbied vir die dag!

Pieter ·

Vertroue in Lanbou? Is onwaar, die Boere word so onderdruk. Dankie ANC en eff and almal wat teen die Boere is. (Is hartseer dat rassisme orde van die dag is). Ek is trots om n boer te wees en sal enige iets vir die land doen, maar alle deure word gesluit en maak alles ongemaklik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.