Veteraanjoernalis nou deel van Gerrie Nel-span

Gerrie Nel en Barry Bateman (Foto: Verskaf)

Die veteraanjoernalis Barry Bateman het Donderdagoggend op Twitter aangekondig dat hy binnekort by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, as kommunikasiebestuurder aansluit.

Bateman sal in sy nuwe rol daarop fokus om die binnewerking van die werk wat die privaatvervolgingseenheid doen, na die voorgrond te bring en lig te werp op sake wat nie altyd die koerantopskrifte haal nie. Bateman sal ook diepgaande skryf oor die konsep van privaat vervolging.

Bateman het oor die jare bekendheid verwerf vir sy uitnemende werk as joernalis.

Hy is veral bekend vir sy omvattende verslaggewing tydens die Oscar Pistorius-saak in 2013. Hy was ook mede-outeur van die boek oor Pistorius en Reeva Steenkamp se verhaal, Behind the Door. Hy het die boek saam met sy kollega Mandy Wiener neergepen.

Bateman was tot nou ’n senior verslaggewer by eNCA en voor dit was hy verslaggewer by Eyewitness News.

Erkenning is ook in 2012 aan Bateman gegee by die Taco Kuiper‑toekennings vir ondersoekende joernalistiek. In 2013 was hy onder die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners en in 2014 het Media Magazine hom by hul lys van Top‑40-joernaliste ingesluit. Hy het ook die Nasionale Persklub se Joernalis van die Jaar-toekenning gewen.

In ʼn verklaring deur AfriForum sê Bateman toe hy sowat twee dekades gelede besluit het om ’n joernalis te word, was die primêre motiverende faktor die kwessie van aanspreeklikheid. “My motivering het nie verander nie. Ek het nie twee keer daaroor gedink toe ek die geleentheid gekry het om by adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan te sluit nie,” het Bateman gesê.

“Baie van die grootste stories wat ek in my loopbaan nagejaag het, was om diegene in mag verantwoordbaar te hou vir hul optrede. Om by Nel se span aan te sluit sal bydra tot daardie werk, al is dit vanuit ’n ander perspektief. Ek sien daarna uit om die gaping tussen die ongelooflike werk wat die eenheid doen en nuuskantore reg oor die land te oorbrug.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê Bateman is nog ’n pyl in die vervolgingspan se koker om selektiewe vervolgings en die ineenstorting van die strafregstelsel te hanteer. “Hy bring ’n indrukwekkende stel vaardighede wat ongetwyfeld ons strategie sal aanvul om die konsep van privaat vervolging verder te vestig en te ontwikkel,” sê Nel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Naomi ·

Kon nie vir beter gevra het nie…nou sal ons al’s hoor wat weerhou word

kaplyn ·

Jy bedoel seker AfriForm en Solidariteit gaan net van krag tot krag. Mooi so!

Thelsa ·

Uitstekende joernalis. Baie agting gekry met sy werk by 702

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.