Video: Gemeenskapsfederalisme as alternatief vir staatsentralisme

AfriForum het Donderdag ‘n konferensie oor gemeenskapsfederalisme by AfriForum Teater aangebied (Foto: Reint Dykema)

AfriForum het Donderdag ʼn konferensie oor federalisme in die AfriForum Teater gehou. Die fokus van die konferensie was dat selfbestuur die enigste antwoord op staatsverval is – die alternatief is om niks te doen nie en saam met die staat te verval.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die konferensie geopen met ʼn fokus op gemeenskapsfederalisme as werkbare oplossing. Kriel het aangedui dat die status quo van staatsentralisme en verval nie onveranderd hoef te bly nie.

Kriel het verduidelik hoe federalisme nie bloot ʼn staatkundige term is nie, maar juis ʼn selfdoeningesteldheid van gemeenskappe wat beheer oor hul eie toekoms neem op voetsoolvlak.

Daarna het Kriel gefokus op die Solidariteit Beweging se gemeenskapsfederalismeplan wat bestaan uit sewe bene as fokuspunte waarbinne en waardeur toenemende federalisme vir Afrikaners spesifiek ontwikkel kan word.

Kallie Kriel (Foto: Reint Dykema)

Eerstens ankergemeenskappe waarna Afrikaners natuurlik trek en waarbinne voorwaardes vir voortbestaan ontwikkel kan word. Tweedens die Pretoria- kulturele kanton waarin die meeste Afrikaners woon en wat dien as kultuurtuiste. Derdens die Orania- kanton waar Afrikaners ʼn meerderheid kan vorm en toegang tot politieke mag kan verkry. Vierdens die internasionale kanton waardeur Afrikaner-diaspora verbind kan bly tot Afrikaners se welstand. Vyfdens selfstandige instellings waardeur Afrikaners alle aspekte van hul kultuur tasbaar kan uitleef. Sesdens ʼn netwerk van kultuur- en ander gemeenskappe waarbinne Afrikaners deur wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe saamwerk. Laastens groeiende Wes-Kaap-federalisme waardeur politieke magte afgewentel kan word én gemeenskapsfederalisme opgebou kan word.

Dr. Ernst Roets, bestuurshoof vir strategie by AfriForum, het daarna uitgelig hoe Afrikaners geen ander keuse het as om gemeenskapsfederalisme as oplossing te ontwikkel nie. Federalisme is volgens Roets ʼn voorwaarde vir ware demokrasie in ʼn land so groot, so ideologies en kultureel uiteenlopend soos Suid-Afrika.

Hierdeur het Roets benadruk dat Suid-Afrika ʼn bedelingsprobleem eerder as ʼn blote regerings- of leierskapsprobleem het wat met ʼn verkiesing reggestel kan word. Die fokus moet eerder wees om die strukturele probleme in die Suid-Afrikaanse stelsel reg te stel.

Volgens Roets kan ons demokrasie nie optimaal funksioneer nie, juis vanweë ons diversiteit asook die groot armoede probleme waardeur ons geteister word. Hierdie kombinasie lei tot politici wat eerder fokus op “slegte” korttermynoplossings as volhoubare langtermyn politieke oplossings.

Dr. Ernst Roets (Foto: Reint Dykema)

Volgens Roets was Afrikaners nog altyd in een of ander stryd betrokke – in die huidige leeftyd is dit ʼn stryd om idees. Hierdie stryd sluit in die neiging na sentralisme en staatsafhanklikheid aan die een kant en federalisme en selfstandigheid aan die ander kant.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, was volgende aan die beurt met ʼn fokus op federalisme in bruin gemeenskappe. Wyngaard het groot klem gelê daarop dat gemeenskappe nie slagoffers en slawe van die verlede of van die huidige regering moet wees nie. Gemeenskappe moet eerder selfverantwoordelikheid in woord en daad opneem en bemagtig word deur die geleenthede wat deur saamstaan en saamspan ontsluit kan word.

Heindrich Wyngaard

Dit sluit volgens Wyngaard in om familielewe gesond te hou, die gemeenskapslewe te organiseer en vir die toekoms te beplan. Verder moet gemeenskappe leer om self iets te begin doen aan hul welstand en menswees, eerder as om afhanklik van die regering te bly. Die redes waarom bruin gemeenskappe nog so sukkel sluit volgens Wyngaard in armoede en ʼn tekort aan tersiêre opleiding.

Die eerste paneelgesprek van die dag is gelei deur Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, met Alida Kok, dosent in Politiek by Akademia, en Monica Mynhardt, joernalis in politiek en ekonomie by Maroela Media, as paneellede. Dié gesprek het gefokus op die teoretiese asook praktiese aard van gemeenskapsfederalisme. Daar is ook stilgestaan by dít wat ʼn mens nog hoop kan gee.

Ernst van Zyl lei die paneelgesprek oor die teoretiese en praktiese aard van gemeenskapsfederalisme (Foto: Reint Dykema)

Die tweede paneelgesprek is gelei deur Barend Uys, hoof van interkulturele skakeling by AfriForum. Uys het gesels met prof. Musa Xulu, Zoeloe- kulturele kundige, en prinses Bhelekazi Mabandla, hoof van koninklike diplomatieke dienste van die Jamangile kaMabandla-koninklike familie, oor federalisme in tradisionele gemeenskappe.

Barend Uys lei die paneelgesprek oor federalisme in tradisionele gemeenskappe (Foto: Reint Dykema)

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, het om die beurt gefokus op vryheidslesse te leer uit Orania.

Die eerste vryheidsles wat Strydom het, is die moed van oortuiging om die woestyn in te trek en te glo in jou saak. Die tweede vryheidsles is die selfvertroue om te maak asof jy ʼn volwaardige munisipaliteit is, selfs al is jy nog nie. Die derde vryheidsles wesende om jou eie simbole met openbare kuns te ontwikkel en bou. Die vierde vryheidsles is om eie instellings te bou op jou eie manier sodat jy jou eie storie hiermee kan bou. Die vyfde vryheidsles is om met selfvertroue op te tree in die verhoudinge wat jy met ander gemeenskappe en groepe na buite bou. Die sesde vryheidsles is om ook genoegsame selfvertroue te hê om op jou eie terme vyande te maak óf nie te maak nie. Die laaste vryheidsles, wat volgens Strydom ook die belangrikste is, is om op die Here te vertrou.

Joost Strydom (Foto: Reint Dykema)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die konferensie afgesluit met ʼn aanbieding oor die pad na federalisme. Volgens Buys behoort die grootste klem nie te wees op hoe ons in hierdie uitdagende omstandighede beland het nie, maar eerder op hoe ons hier gaan uitkom.

Buys het aangedui hoe selfbestuur die enigste antwoord op staatsverval is – die alternatief is om niks te doen nie en saam met die staat te verval. Die uitdaging vir Afrikaners is volgens Buys om die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap tegelykertyd te beveg.

Flip Buys (Foto: Reint Dykema)

Volgens Buys moet mense besef dat die ou én nuwe Suid-Afrika verby is – dit is nou tyd om aan ʼn ander Suidelike-Afrika te werk. Daarom is die nie net nodig vir politieke verandering nie, maar ook vir staatskundige hervorming. ʼn Nuwe regering en nuwe bedeling moet gebou word, omdat Suid-Afrika geografies en demografies onregeerbaar is.

Die volledige konferensie kan hier gekyk word:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Daar is ‘n groot verskil tussen selfbestuur en soewereiniteit. Ons moet onsself bevry van die uitmergelende belastingjuk van die huidige Marxisties-kommunistiese ANC/EFF slawejuk deur selfbestuur na te streef om ‘n eie totale soewereiniteit te bekom. Immers, die staat Suid-Afrika is ‘n onnatuurlike staat van die imperialisties-koloniale Brittanje onder die leiding van Rhodes en Milner en Ingelyf.

Republikein in die Wes Kaap ·

Suid Afrika is ‘n mensgemaakte mengelmoes wat reeds in 1910 gedoem was tot mislukking. Snaaks genoeg, die Engelse in Natal het dit toe al besef en was teen die Unie.Vir dekades veg ons teen swaartekrag om alles bymekaar te hou. In 1994 het alles finaal uitmekaar gespat. Daar bestaan nie ‘n “een land” nie. Dis net ‘n konsep wat magsbehepte politici al vir dekades versprei, want hulle word daardeur bevoordeel.

Harley Davidson ·

Kan iemand verduidelik hoe Orania onafhanklik is soos ek dit verstaan is dit ‘n groot plaas waar ‘n sekere benaadeelde kultuur mense bly maar hulle val nog steeds onder sa reëls en wette.?

Grassie ·

Ek is bly dat Afriforum nou aktief begin werk aan die begrip van federalisme. Dit loop mooi saam met die ideaal van selfsorg. Daar is reg van die begin af ‘n paar struikelblokke wat ernstige aandag moet geniet. Die eerste is om ontslae te raak van die wanfunksionele bankrot munisipaliteite wat deur die ANC beheer word.. Dan ook die EFF wat alle pogings sal probeer saboteer. Ek glo ‘n fisiese konfrontasie tussen hulle en die witmense in die land gaan vorentoe nodig word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Op 10 Januarie 2023 beskryf Flip Buys sy Sputnik oomblik. In my kommentaar noem ek dat wyer konsultasie nodig is. Die Wes Kaap word wel uitgelig, maar waar is die rolspelers se menings. Dan die beheptheid met Pretoria. Hordes Afrikaners migreer na die Wes Kaap. Min van ons sal die mislukte,vervalle, volksvreemde hoofstad weer besoek. Dirk Hermann het op 7 Februarie 2023 geskryf oor rasse-ideoloë. In my kommentaar sê ek dat Afrikaners is ‘n minderheid in ‘n mislukte staat, en dis ‘n double whammy. Ons is nou ‘n ekstrimistiese staat, en dis ‘n tripple whammy, met verreikende gevolge vir Afrikaners. Dis ‘n oorlewingstryd en meer opsies is nodig. Solidariteit jaag in ‘n rigting met party Afrikaners op die wa, ander wat afval en dié wat toekyk. Dis ‘n rowwe rit. Gemeenskapfederalisme is wel ‘n gerieflike opsie. In my kommentaar op Adendorff se artikel van 10 Februarie 2023 meld ek dat die land is net tè groot en divers om as eenheid te bestuur. Ons moet ontbondel en wegbreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.