Video: Geordin Hill-Wie? Kaapstadse burgemeester vaar strate in

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad. (Foto: Twitter)

Lewis? Of George? Gideon of Gordon? Dalk Hill-Lewis?

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het die strate van die Moederstad onlangs te voet ingevaar vir ʼn ter plaatse ondersoek om vas te stel presies hoe Kapenaars oor die metro se dienslewering voel.

En terselfdertyd het Hill-Lewis – wie se naam menige mens al laat struikel het – hulle sommer ook gepols oor of hulle weet presies wie die burgemeester van die stad is. Nie almal het geweet nie, maar Hill-Lewis is oënskynlik nie bang om met homself die gek te skeer nie.

Hill-Lewis het ʼn video van die meningspeiling op sosiale media gedeel en te oordeel na mense se terugvoer, dra sy voetslanery deur die stad – en sy span se bestuur daarvan – talle mense se goedkeuring weg.

Hill-Lewis het Kapenaars uitgevra oor wat hulle lief maak vir die stad, wat hulle gunstelingdisse is, en ook wat hulle dink die stadsbestuur beter kan doen. En dan het hy homself – tongknopernaam en al – sommer ook aan mense voorgestel wat hom nie dadelik herken het nie.

“As ʼn ANC-burgemeester iets soos hierdie sou doen, sou hulle die paaie sluit en met 20 lyfwagte opdaag,” het een sosialemediagebruiker opgemerk. “Briljante poging van die mense se burgemeester van Kaapstad.”

“Mal oor hierdie burgemeester,” skryf nog een.

Nog ʼn gebruiker sê: “Lekker – dit het my laat glimlag.”

Nie almal was egter beïndruk nie. Een gebruiker merk op dat Hill-Lewis allermins sonder lyfwagte rondgestap het en dat hulle bloot in burgerlike drag geklee is. “Gaan vra die mense van Langa, Nyanga, Bonteheuwel, Khayelitsha, Mfuleni, Delft, Hanover Park oor wat jy moet beter doen en dan sal jy die antwoorde hoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Laat my dink aan Spin City. Dis goed, laat die mense op die grond n gesig agter die titel kan sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.