Video: Gids bemagtig ouers, kinders teen kuberboeliery

Kapt. Veronica Banks, Yolandi Singleton en Leandie Bräsler tydens die bekendstelling van die kuberboeliegids. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika het die vierde hoogste syfer ter wêreld wat kuberboeliery betref. Volgens marknavorsing deur die maatskappy Ipsos in 2018 het meer as die helfte (54%) van Suid-Afrikaanse ouers gesê hulle kinders, of kinders in hulle gemeenskap, is slagoffers van kuberboeliery.

Hierdie statistiek kan egter veel hoër wees aangesien ouers nie altyd weet of hul kinders geboelie word nie, en deur sosiale media  gaan die boelie saam met die slagoffer huis toe, sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Dit is syfers soos hierdie wat die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogafdeling en privaatvervolgingseenheid genoop het om  ʼn splinternuwe gids, wat ouers en kinders bemagtig teen en inlig oor kuberboeliery, bekend te stel.

Die bekendstelling, wat Maandag plaasgevind het, val op die eerste dag van Nasionale Kinderbeskermingsweek.

Die kuberboeliegids skep bewusmaking oor die gevare van tegnologie, sosiale media, seksskrywery (sexting) en kinderpornografie, en is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, die polisie se reeks- en elektroniese misdaadeenheid (SECI), die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) saamgestel. Die doel van die gids is om ouers, onderwysers en leerders te bemagtig om skermslim te wees.

“Boeliery wat eens net op die skoolterrein, of op die skoolbus plaasgevind het, het nou na sosiale media uitgekring in die vorm van kuberboeliery,” sê Bräsler.

Die gids bespreek die erns van kuberboeliery, kinderpornografie en seksskrywery. Dit lig ouers, onderwysers en versorgers oor die gevare van die internet en sosialemediaplatforms in. Ouers en onderwysers word ook gewys hoe om proaktief op te tree wanneer hul uitvind dat leerders onder kuberboeliery gebuk gaan, en hoe om dit te hanteer en te voorkom.

Volgens kapt. Veronica Banks van die SAPD se Gautengse misdaadeenheid vir elektroniese misdaad, is bewusmaking oor die gevare van sosiale media onder leerders uiters belangrik aangesien meer en meer leerders daardeur geraak word.

“Leerders weet nie noodwendig watter gevare en trauma dit vir hulself kan inhou nie, veral nie wat die deel van naakfoto’s betref nie. Ons wil leerders help om sosiale media beter te verstaan, en hoe om boeliegedrag aan te meld.”

Die gids bevat ’n tabel met verskeie slimfoon-apps wat gewild is onder leerders, en watter gevare elke app inhou.

“Ons moedig ouers aan om hulself goed van hierdie apps en hoe dit werk te vergewis sodat hulle hul kinders beter kan beskerm.”

Wetlike aspekte

Leandie Bräsler, adv. Phyllis Vorster en prof. Basie von Solms. (Foto: Maroela Media)

Die gids fokus op die Wet op Kubermisdade 19 van 2020 en die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996, sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ondervinding wys dat die president, die minister van justisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die howe slegs lippediens doen oor geslagsgebaseerde geweld en seksuele oortredings teenoor minderjariges.

“Opvoeders word daagliks gekonfronteer met ’n verskeidenheid van uiteenlopende voorvalle wat die toepassing van die reg in skole noodsaak. Kuberboeliery is die algemeenste en waarskynlik die moeilikste om te hanteer. Die enigste doeltreffende wyse om daarop te reageer, is om te verseker dat die reg voorspelbaar is om sodoende as afskrikmiddel te dien,” sê Vorster.

“Leerders kan enige plek digitaal afgeknou word. Dit kan 24 uur, sewe dae per week gebeur – en baie keer weet die ouers nie dat hulle kinders geïntimideer word nie. Ouers, grootouers, onderwysers en almal wat in enige tipe gesagsposisie is, moet die boodskap duidelik help oordra,” sê prof. Basie von Solms aan die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kubersekuriteit.

“As jy op enige wyse aan kuberboeliery deelneem, kan jy vir die res van jou lewe ’n misdaadrekord hê.”

Belangrikheid van ouerbetrokkenheid

Yolandi Singleton, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum, sê ’n standvastige vertrouensverhouding tussen kind en ouer is ’n voorvereiste om ongemaklike gesprekke oor sosiale media en ander onderwerpe te hê.

“Daarom moet jy as ouer deurgaans hard werk aan jou verhouding met jou kind deur gehaltetyd saam met hulle deur te bring.”

Die kuberboeliegids kan gratis hier afgelaai word. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Dis so jammer dat ons kinders en kleinkinders aan sulke naarhede blootgestel word. Ons leef tans in ‘n SIEK wêreld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.