Video: Kunsbedryf bloei; raad swyg

Die kreatiewe bedryf kom daagliks voor die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantoor byeen vir ‘n vreedsame sitprotes. (Foto: Creative Survivor SA/Facebook)

Wanneer is genoeg, genoeg?

Een na die ander teater word genoop om sy ligte finaal uit te doof, kunstenaars wend hulle tot tussentydse projekte in ʼn poging om oorlewing, ondersteuningspersoneel met jare se ervaring en kundigheid moet ook om den brode in ander bedrywe werk soek, terwyl organiseerders spook om hul feespotte aan die kook te hou.

Ja, die Covid-19-pandemie het ʼn enorme rol hierin te speel, maar dit is egter nie die enigste skuldige in die verhaal nie. Die kunstebedryf meen ʼn deel van die skuld behoort ook voor die Nasionale Kunsteraad (NAC) en die departement van sport, kuns en kultuur se deur gelê te word.

Dit kom nadat die raad vroeër R300 miljoen se noodfinansiering aan die kunstebedryf bewillig het, maar nou versuim om die geld uit te betaal. Of dít die laaste spyker in die doodskis is, is nie seker nie, maar die kreatiewe bedryf het genoeg gehad.

Maroela Media het vroeër berig dat Sibongile Mngoma op 1 Maart vroualleen by die kunsteraadkantoor opgedaag en antwoorde geëis het. Die raad kon egter nie aan haar versoek om ʼn lys van aansoekers en eise wat reeds betaal is, voldoen nie.

Mngoma het die volgende dag wéér ʼn pleidooi gerig en steeds nie antwoorde gekry nie. Medekunstenaars het hiervan gehoor, by Mngoma aangesluit en sedert 4 Maart deurnag sowat 15 kunstenaars by die raad se kantoor in Newtown, Johannesburg.

Buiten die groep wat hier deurnag, kom kunstenaars daagliks buite die kantoor bymekaar. Lizz Meiring, bekende aktrise en raadslid van die Teaterbystandfonds (TBF), wat saam met haar huismaats Jak Brits en Yvette Hanekom begin het om maaltye vir sitstakers voor te berei, benadruk dat dit ʼn beskaafde protes wat nie met swaaiende plakkate en geweld gepaardgaan nie. Dit is ʼn stilprotes, met ʼn kragtige boodskap, sê sy.

Intussen het dié sitprotes veld gewen in die media, asook onder diegene wat in die kreatiewe bedryf werk. ʼn Facebook-blad Creative Survivor SA is gestig en persone word aangemoedig om foto’s, motiveringsboodskappe en video’s met die hutsmerke #Im4thearts #ArtsAreLife en #creativesurvivorSA te deel.

Lizz Meiring, bekende aktrise en raadslid van die Teaterbystandfonds (TBF).

Maroela Media, met die ondersteuning van die Solidariteit Beweging se Covid-19-Krisisfonds, het intussen R10 000 geskenk wat aangewend kan word vir die daaglikse etes wat Meiring en ander vir die sitbetogers voorberei.

“Ons daag ook ander media-instansies, die borge van kunstefeeste, asook ander instansies wat ʼn nou verhouding met die kunstebedryf het, uit om ook ʼn bydrae te maak,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Volgens Lombaard kan kunstenaars en die media nie sonder mekaar oorleef nie. Sy sê dié protes gaan oor veel meer as oorlewing en dit verdien al die publiek se aandag.

“Dit gaan daaroor dat ons nie kan wegkyk terwyl die mense in die kunstebedryf wat in baie gevalle ons vriende geword het, hulle tot buitengewone maatreëls moet wend net om te kry wat hulle regmatig toekom nie.

“Ons is dankbaar vir die verantwoordelike, vreedsame manier waarop die kunste hul stem dik maak teen onreg omdat ons te dikwels berig oor die onverantwoordelike en skadelike maniere waarop protes aangeteken word.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook R10 000 vir die saak bewillig. Volgens William Waugh, hoof van organisasiebou, is dit van die uiterse belang dat geregtigheid seëvier.

“Dit is vir ons belangrik dat reg geskied en dat fondse wat aan kunstenaars verskuldig is, uitbetaal word. Hierdie mense het dit broodnodig en daarom is dit goed dat hulle opstaan en die betrokke partye tot verantwoording roep.”

Die feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, die Suidoosterfees, die Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees), verskeie individue, anonieme skenkers en persone in die bedryf het ook bygedra tot die sitprotes wat tans aan die gang is.

Bridget van Oerle, een van die persone wat medianavrae hanteer en help met organisering, sê dit is wonderlik om te sien hoe die kreatiewe bedryf saamstaan. Sy het haar dank betuig aan ieder en elk wat die sitprotes tot dusver ondersteun het en sê hulle is hoopvol om vanaand antwoorde te kry wanneer die bedryf omstreeks 17:00 met die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, ontmoet.

Kyk hier na ʼn video oor die sitprotes wat tans by die Nasionale Kunsteraad se kantoor in Johannesburg plaasvind:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

Die R300 miljoen het seker ook al in daardie donker gat verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.