Video: Miljoene rande se juweliersware by Bloem-winkelsentrum geroof

Een van die toonbanke wat in die slag gebly het. Foto: Via Facebook.

Die Bloemfontein-polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na sewe verdagtes wat Donderdag op die gewilde Mimosa Mall toegeslaan het waar hulle ʼn juwelierswarewinkel beroof het.

Konst. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê sewe mans, wat mussies en pette gedra het, het omstreeks 09:00 die HDL Juwelierswinkel bestorm kort nadat dit vir sake oopgemaak het.

“Vier van die verdagtes het oor die toonbank gespring en ʼn vuurwapen op die winkelbestuurder en personeel gerig en hulle beveel om op die grond te lê,” het Nkabi gesê.

“Een van die verdagtes het daarop aangedring dat die kluis oopgemaak word terwyl die res van die verdagtes die glaspanele van sowat 14 toonbanke met hamers stukkend geslaan het.”

Die rowers het onder meer met horlosies, ringe, hangertjies en ander juweliersware ter waarde van miljoene rande op die vlug geslaan en is steeds soek.

Niemand is tydens die voorval ernstig beseer nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof.

Neelofar Issa, die sentrum se algemene bestuurder, het in ʼn verklaring die voorval bevestig en gesê ongelukkig is een van hul klante tydens die voorval rondgestamp. “Die sentrumbestuur versoek enige klant wat die voorval gesien het en berading benodig om met ons kontak te maak,” het Issa gesê.

Bedrywighede by die sentrum duur voort. HDL Juweliers gaan egter nog onbepaald gesluit wees.

“HDL wil graag almal bedank vir al die oproepe en hulp ná die gewapende roof. Ons is almal veilig en dit is die belangrikste. Dit gaan ons ʼn paar dae neem om weer oop te maak in Mimosa Mall, maar ons bly oop in [Loch Logan] Waterfront. Dankie ook aan ons wonderlike personeel wat kalm was tydens die roof,” het die winkel se eienaars op hul amptelike Facebook-blad geskryf.

https://www.facebook.com/zmondi2/videos/2107720689246492/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Theresa B ·

Lekker man – en dis nog nie eers Kersfees nie……………………………

Willie ·

Fees must fall, Free for all, Free Land… gaan lekker ne?

Irene ·

Jammer die deur van die tipe winkels staan wawyd oop moet a plan maak met dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.