Video: Nasionale dieretuin ‘steeds ʼn aantreklikheid’, opknappings en al

(Foto: Facebook/Toko Masemola)

Die bestuur van die nasionale dieretuin in Pretoria is vasbeslote dat noodsaaklike opknappings nie besoekers se ervaring moet belemmer nie.

Dié dieretuin vier vanjaar sy 123ste bestaansjaar en word sedert 2018 deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) bestuur. Die instelling het die afgelope twee jaar omvattende opknappings ondergaan, om te verseker dat hy sy meer as 200 000 jaarlikse besoekers ʼn “vermaaklike en opvoedkundige ervaring” kan bied.

Talle vakansiegangers wat onlangs die fasiliteit besoek het, het egter hul ontevredenheid oor geriewe by die dieretuin op sosiale media te kenne gegee. Foto’s van stukkende dakke, leë kampe en rommel in die Apiesrivier wat deur die dieretuin vloei, het die ronde op sosiale media gedoen.

Shonisani Munzhedzi, uitvoerende hoof van Sanbi, sê die instituut het die eeu-oue infrastruktuur geërf en dat baie daarvan heeltemal oorgedoen moet word. Aan die rommel in die Apiesrivier wat deur die dieretuin vloei is daar weinig wat Sanbi kan doen.

Shonisani Munzhedzi, uitvoerende hoof van Sanbi(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Dit is uiters belangrik dat besoekers en inwoners in gedagte hou dat die Apiesrivier deur groot dele van die middestad vloei en dat rommel stroomaf deur die dieretuin vloei.

“Ons het elke dag spanne wat die Apiesrivier binnevaar en die rommel verwyder. Daar kom egter net meer en meer rommel. Ons moes selfs al liggame aan ons kant van die rivier uithaal. Dit is ʼn probleem waaroor ons min beheer het,” sê hy.

ʼn Beter ervaring vir mens én dier

Die instituut het ongeveer R105 miljoen vir die opgraderings en instandhouding van infrastruktuur beskikbaar gestel, waarvan ongeveer R88 miljoen reeds aan kontrakteurs vir opknappings uitbetaal is.

Ná honderde klagtes oor die parkeerterrein by die dieretuin is die opknapping daarvan uiteindelik in 2022 voltooi. Verbeterde toegang tot die reptielpark en akwarium is ook verlede jaar afgehandel en vyf stelle ablusiegeriewe is gerestoureer.

Die Dukuduku-restaurant, die gorilla-skuiling asook die seekoei-skuiling is opgeknap en verbeter.

Munzhedzi sê omheinings wat die Suidelike bromvoëls, eende, hoenders en kraanvoëls beskerm, is verbeter en restourasie by die roofvoëlhokke, papegaaihokke, reptielhokke en die akwarium is ook op hande.

“Groot opknappingswerk aan Stormy Bay, waar die robbe aangehou word, is ook aan die gang en sal na verwagting saam met die witrenosterkampe en uil-uitstallings teen einde Mei voltooi wees.”

Hy het bygevoeg dat talle wandelpaaie, brûe en skuilings ook reeds opgeknap is.

“Ons probeer om besoekers se verwagtinge in gedagte te hou deur diere na oop kampe te skuif wanneer hul kampe opgegradeer moet word.

“ʼn 17% afslag op toegang word ook tydens die opgraderings aan besoekers gegee,” sê hy.

Byna 5 000 individuele diere word in die dieretuin aangehou.

Dr. Dewald Keet, veearts (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Dr. Dewald Keet, die dieretuin se veearts, het vir ʼn groot deel van sy lewe in die Krugerwildtuin gewerk. Hy sê baie mense vra hom hoe hy ná sy werk as ʼn veearts in die Krugerwildtuin nou by ʼn dieretuin kan werk.

Hy sê die antwoord is eenvoudig: “Albei instellings is ewe belangrik vir natuurbewaring.”

Volgens Keet word die diere in veilige en skoon kampe gehuisves en word hulle in ooreenstemming met die beste wêreldwye praktyk – soos in die wêreldvereniging van dieretuine en akwariums (WAZA) se riglyne weergegee word – bestuur en versorg.

“Ons dieretuin is ʼn geakkrediteerde lid van die Pan-Afrika- vereniging van dieretuine en akwariums en ook ʼn lid van WAZA. Ons is deel van die wêreldgemeenskap van hoogaangeskrewe dieretuine en akwariums wat verbind is tot die versorging en beskerming van wildediere en -ruimtes.

Die dieretuin is ook die tuiste van ʼn wêreldklas-navorsingsentrum en -biobank wat biodiversiteit en die volhoubare gebruik van inheemse biologiese hulpbronne en die vestiging en instandhouding van databasisse in hierdie verband bestudeer.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Dit dra ook by tot die dieretuin se mandaat om versamelings van diere en mikro-organismes in toepaslike kampe te vestig, in stand te hou, te beskerm en te bewaar,” sê Keet.

Nuus oor die opknappings en die vordering daarvan word gereeld op die dieretuin se sosialemediaplatforms en op hul webwerf geplaas. Baie van die opknappings sal na verwagting teen einde Mei voltooi wees.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

madels ·

Ja wat nog gaan ten gronde? Sal moet sien hoe lyk die dieretuin na 2024….. Eerstens moes alles DIE HEELTYD in stand gehou gewees het dan sou dit nie nou nodig gewees het om massiewe projekte nou te moes aanpak nie maar net soos alles onder die ANC moet die diere ook daaronder ly :-(

John ·

Sal nie eens vra wie bestuur die Kruger nou dae nie . Was op een stadium (1980’s)die beste in die wereld.

Chante ·

Ons was op nuwejaarsdag by die dieretuin. Daar waar die opgraderingswerk gedoen word lyk dit maar oes! Die res van die kampe waarin daar diere is word goed versorg en al die diere is in goeie kondisie. Die grootste teleurstelling van die dag was egter die akwarium. Daar is nie meer veel te sien nie – net n paar tanks met damvisse. Dis steeds die moeite werd om te gaan, as mens die akwarium skip!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.