Video: Veteraan-akteurspaar praat oor verlies, liefde

Die akteurspaar Lida en Johan Botha. (Foto: Retha Ferguson)

Magdaleen, ʼn eensame weduwee in haar 70’s, sukkel om die dood van haar eggenoot te verwerk. In ʼn poging om haar hartseer en pyn te verdoof, skep sy dan ʼn denkbeeldige weergawe van haar oorlede man.

Nadat Magdaleen haarself vir maande van die buitewêreld afgesonder het, besluit sy dit is tyd om aan te beweeg en ook weer die see te sien waarna sy nou so lank al smag.

Dit is waaroor die roerende kortfliek Leemtes en leegheid gaan waarin die veteraan-akteurspaar Johan en Lida Botha te sien is. Lida speel die rol van Magdaleen met Johan in die rol van haar oorlede man.

Leemtes en leegheid het gehore by vanjaar se Silwerskermfees ontroer. Die fliek het feesgeskiedenis herskryf, aangesien dit die eerste keer is dat ʼn kortfliek as die gehoorgunsteling aangewys word. Dit het ook met die beeldjie vir beste draaiboek in die kortfliek-kategorie weggestap.

Johan en Lida, albei in hulle 80’s, het in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die tema van verlies en hulle belewing van dié kortfliek gesels.

Lida erken dat sy nie gedink het sy sou as ʼn gehoorlid daarna kyk en huil nie.

“Dit was eintlik ʼn baie lekker ervaring. Ek is nie lief daarvoor om na iets te kyk waarin ek speel nie, maar by die Silwerskermfees se vertoning het ek nie eens gedink aan wie die aktrise is nie.

“Die titel spreek vanself. Leemtes en leegheid, in jouself en die fisieke omgewing, is wat oorbly wanneer jou maat van jare lank nie meer daar is nie,” sê Lida.

Wat maak ʼn mens wanneer jy die een is wat oorbly? Hoe hanteer jy die leë woonstel, om inkopies net vir jouself te doen, en nie meer na jou man hoef om te sien nie? Dit is van die vrae wat in hierdie kortfliek ondersoek word.

Lida sê verder dat akteurs gewoonlik staatmaak op persoonlike ervarings wanneer karakters gevorm word, daarom was die tema van verlies gelyktydig uitdagend en verrykend.

“As akteur delf jy dikwels in emosies of herinneringe wat jy al self ervaar of waargeneem het, maar ek het nog nie vantevore só aan verlies gedink nie. Skielik kom daar vrae by my op soos wat sal die dag gebeur wanneer ek alleen is. Dit is ʼn emosionele ervaring, maar in geheel eintlik ʼn wonderlike een.”

Die Botha-egpaar is meer as 50 jaar getroud en hulle verskyn al sowat drie dekades saam in teater- en televisieproduksies.

Hulle het die eerste keer in 1979 saam verskyn in die televisiereeks Nommer asseblief. Daarna het hulle ook saam in onder meer Arende, Meeulanders en Meesters rolle vertolk.

Afrikaanse rolprente waarin hulle toneelgespeel het, sluit in Die storie van Klara Viljee, Anderkant die stilte, Pad na jou hart en Toorbos.

Hulle word steeds onthou vir die Oupa en Ouma sit op die stoep-stories wat by talle Afrikaanse kunstefeeste te sien was en later in ʼn kykNET-komediereeks omskep is.

Johan sê een aspek van die fliek wat hom aangeraak het, is die uitbeelding van liefde tussen eggenote.

“Ou liefde, soos wat ons in Leemtes en leegheid sien, is anders as jong liefde. Ek kan nie namens Lida praat nie, maar ek ervaar dit ongelooflik sterk in hierdie stadium van ons huwelik. Dit is net anders wanneer jy soveel jaar saam met dieselfde persoon deel.”

Maroela Media het by die 10de Silwerskermfees met Lida en Johan Botha gesels oor Leemtes en leegheid, die jare wat hulle saam toneelgespeel het en gesamentlike hoogtepunte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Twee van die best veteraan akteurs in ons land. Die vertolking van Tannie Lida in 1945 sal my altyd bybly, en die lawwe “Paw-paw vir my darling”.

Shakespeare ·

Julle is “legents”. Ongelooflike bydrae tot die Afrikaanse kultuur. SALUUT julle twee !!

Samuel ·

Ware staatmakers. Ek wens julle nog baie jare saam en nog toneelspel.

Frank John ·

Awesome mense met awesome liefdes verhaal. Jammer kan niks hoor in die videos nie.

Mariana ·

Twee van SA se briljantste akteurs. Twee pragtige mense. Hoop hulle sal nog lank vir ons vermaak sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.