Video’s: Prof TT Cloete: ʼn Digter en ikoon word 90

Prof TT Cloete (skermskoot uit die video)

Prof TT Cloete (skermskoot uit die video)

[ʼn Hele paar video’s volg onderaan die berig.]

 Ek sit maar tuis
sit ek ek sit ure aaneen en lees
vanweë die tot niks anders in staat wees
ek bly verdomp teen my sin by die huis.
(Uit: Klag van Braam oor ʼn wintertoon deur TT Cloete)

“Dit is moeilik om die uitsonderlikheid van die oeuvre van TT Cloete in ʼn neutedop saam te vat…” skryf prof. Heilna du Plooy van die Noordwes-Universiteit oor dié Afrikaanse ikoon. En dis waar, mens kan TT Cloete – selfs in sy persoon – nie in ʼn neutedop saamvat nie.

Cloete, ʼn reus in die Afrikaanse letterkunde, vier Saterdag sy 90ste verjaardag en Maroela Media het onlangs spesiaal by hom gaan kuier om net ʼn bietjie van sy wysheid  en van sy kennis vir ons lesers, en die Afrikaanssprekende, te tap.

Ons het ʼn hele paar video’s saamgestel waar hy ons onder andere meer vertel van sy loopbaan in die literatuur en hy deel selfs ʼn staaltjie waar van sy gedigte ontstaan het (video’s volg onderaan die berig).

Die bekende dramaturg en aktrise, Antoinette Pienaar, het in ʼn stadium van iemand gesê “as hy praat, dan val die skilderye sommer so by sy mond uit…” en dís waar oor prof. Cloete.

 Ek dank U dat ek Heer
soos van ouds vanoggend weer
my baard mag skeer.
 
Vroeër was ek gesteld
op seks en soma, op geweld
en eer en geld.

Nou is ek goedkoop
gesteld op bloedsomloop
en brood en stroop.
(Uitgedun deur TT Cloete)

Cloete vertel ons ook in die video’s meer oor die dinge in die lewe wat nie gemeet kan word nie; die liefde en die huwelik en sy vrou Anna… en daar is selfs ʼn verhaal oor die plaas Modderfontein in Ventersdorp en die engel op die buurplaas…

Klik hier om ʼn video te sien waar Cloete self sy liefdesgedig aan sy vrou, Anna, voordra.

Professor Heilna du Plooy van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus se Skool vir Tale het aan Maroela Media gesê: “Om Cloete se werk te lees, bring mens daarby om veel wyer en dieper te dink as net die gedig voor jou, al tref elke gedig jou op die eerste oogopslag al met ’n onmiddellike vreugde aan die treffende woorde en oorspronklike gedagtes.”

Boonop is die NWU se jaarlikse Pukki Talentfees spesiaal vanjaar opgedra aan Cloete vir sy 90ste verjaardag. Die hoogtepunt van die aand was die onthulling van ʼn park wat aan hom opgedra is. Klik hier om ʼn video en Cloete se reaksie daarop te sien.

Du Plooy sê verder dit is moeilik om die uitsonderlikheid van die oeuvre van T.T. Cloete in ’n neutedop saam te vat, maar daar is wel ’n paar aspekte van sy werk wat as kenmerkend beskou kan word. “In die eerste plek skryf hy oor ’n geweldig groot verskeidenheid onderwerpe en temas. Die meeste digters het ’n voorkeur vir bepaalde soort onderwerp, maar Cloete skryf letterlik oor alles, van die liefde tot die wetenskap tot die sterrekunde en die filosofie,”

Volgens haar is die tegniese voortreflikheid van sy verse iets wat haar aanraak. “Hy kan toor met woorde, met sinne, met ritme en klank. Daar word soms gesê hy is “a poet’s poet”, dit wil sê ’n digter wat deur mededigters hoog waardeer word omdat hulle hierdie fynere aspekte van sy tegniese vermoëns as digter kan raaksien en na waarde skat.”

Du Plooy sê Cloete is een van daardie digters wat in gesprek tree met die lang tradisie van die literatuur. “In sy gedigte praat hy met die Bybel, onder meer met Job, maar ook met die Egiptiese Aknaton, met Dawid van die Psalms, met Homeros en met Dante van die Goddelike Komedie. Sy gedigte reageer op die werk van baie moderne digters in Nederlands, Duits en Engels en op Afrikaanse mededigters. Op hierdie manier vorm sy gedigte een skakel in die ketting van die wyer kultuurgeskiedenis waarby die Afrikaanse literatuur kan inskakel.”

Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool, meen Cloete is sedert sy digtersdebuut in 1980 een van die invloedrykste digters in Afrikaans. “Die talle bekronings wat hy vir sy poësie ontvang het, is ‘n bewys hiervan; ook die eggo’s, kniebuigings en toespelings in heelparty ander digters se werk wat aan syne herinner.”

Odendaal som dit só op: “Kennis en gevoeligheid word deur hom omgesmee tot woordkuns wat verwondering verwek, sowel esteties as religieus.”

Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort in die Vrystaat gebore. Hy  begin aan die universiteit van Pretoria studeer ná hy in 1941 in Krugersdorp matrikuleer, maar moet sy studies onderbreek toe hy na die eerste jaar met polio gediagnoseer word.

Hierdie gebeurtenis verander sy lewe onherroeplik. In die tyd wat hy bedlêend was, ontdek hy die ‘groot’ skrywers en dit laat hom besluit om die wêreld van letterkunde te betree.

Volgens Litnet behaal hy uiteindelik sy BA- en MA-graad in Afrikaans-Nederlands asook sy universiteitsonderwysdiploma aan die destydse Potchefstroomse Universiteit van Hoër Onderwys voordat hy tydelik as dosent by die Puk begin werk. Hy was ook onderwyser aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom voordat hy na Nederland vertrek vir verdere studie. Hy behaal uiteindelik ook sy D Litt et Phil. aan die Gemeentelike Universiteit, Amsterdam.

Hy sluit weer in 1953 as dosent by die Puk aan.

Hoewel Cloete al op ʼn baie jong ouderdom begin skryf, word sy werk eers vir die eerste keer gepubliseer toe hy 56 jaar oud was. Dié digbundel, Angelliera  word  opgevolg deur Jukstaposisie  en kort daarna deur Allotroop.

Cloete is die skrywer van meer as ’n 150 wetenskaplike artikels oor sy vakgebied en meer as ’n twintigtal boeke en monografieë. Hy lewer bydraes tot talle versamelstudies en het ook verskillende vertalings uit die Franse letterkunde gedoen.

Sy jongste digbundel , Karnaval en Lent, is onlangs bekend gestel.

 Dit is vir Maroela Media ʼn groot eer en voorreg om aan dié digter en Afrikaanse ikoon hulde te bring en hom geluk te wens met sy verjaardag.

Hy het tydens ons gesprek ook meegedeel sy gunstelingete is ʼn besonderse beesstert wat Eveleen (Ewwie) Mvala, sy versorger, vir hom voorberei. Klik hier om eksklusief op Maroela Media dié heerlike resep te sien.

Cloete gesels in die volgende video oor sy loopbaan in die literatuur:

In hierdie video deel hy ʼn staaltjie oor hoe baie van sy gedigte ontstaan het:

Cloete bespreek in dié video die dinge in die lewe wat nie gemeet kan word nie:

Hy vertel meer oor die huwelik en sy vrou, Anna:

Luister in dié video hoe hy vertel van die plaas Modderfontein in Ventersdorp en die engel op die buurplaas:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae