Vier dood tydens skietery by huis in Oos-Kaap

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Vier mense is dood en drie beseer tydens ʼn skietery Saterdagaand in Kwazakele in die Oos-Kaap.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê ʼn patrollievoertuig is omstreeks 00:45 deur ʼn vrou voorgekeer. Sy het gesê onbekende mans het op haar en ander mense losgebrand by ʼn huis in Nomjilastraat.

“Elf mense, ses vroue en vyf mans, almal in hul 20’s, het by die huis gekuier toe drie onbekende mans by die huis ingestorm en op hulle gevuur het. Drie vroue en ʼn man is noodlottig gewond. Twee mans en ʼn vrou het skietwonde opgedoen. Twee mans en twee vroue is nie beseer nie. Die eienaar van die huis, ʼn 28-jarige man, is in die voorval oorlede.”

Die motief vir die skietery is nog nie bekend nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die provinsiale eenheid in Gqeberha (Port Elizabeth) wat georganiseerde misdaad ondersoek, ondersoek vier sake van moord en sewe van poging tot moord.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, maan die gemeenskap om na vore te kom met inligting oor die persone wat vir dié slagting verantwoordelik is.

Op 29 Januarie 2023 is daar op elf mense geskiet in Maqandastraat in Kwazakele. Agt mense is dood en drie is beseer.

Twee weke later is vier mense dood aangetref en verskeie beseer in dieselfde gemeenskap.

“Ons kan nie toelaat dat misdadigers vrylik rondloop in ons woonbuurte en vrees inboesem nie,” het Mene gesê. “Iemand, iewers, weet iets oor dié koelbloedige aanvalle en ons doen ʼn beroep op jou om ons te help om dié gevaarlike misdadigers aan te keer en hulle uit die samelewing te verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Die eens stille ooskaap nou ook n misdaad hool.Wat sal nou regtig die probleem daar wees.?Of is dit nou maar net n polisie probleem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.