Drie soldate sterf in mortieraanval in DRK

Vegters van die M23-rebelle in die DRK. Gevegte tussen rebellemagte en die regering het die afgelope weke weer opgevlam. (Argieffoto: Melanie Gouby/AFP)

Drie soldate is dood en nog drie beseer toe ʼn mortier naby hul kamp in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) ontplof het.

Die soldate is almal van Tanzanië en is in die land ontplooi as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se sending in die DRK. Die mag staan bekend as SAMIDRC en is deel van die streek se reaksie op die onbestendige en verslegtende veiligheidsituasie in veral die ooste van die DRK.

Luidens ʼn verklaring van die SAOG is ʼn Suid-Afrikaanse soldaat ook dood toe die soldaat “behandeling vir gesondheidsprobleme in ʼn hospitaal in Goma” ondergaan het. Dit is nie duidelik wat die oorsaak van die soldaat se dood is nie.

“Die SAOG betuig sy diepe medelye met die families en die regerings van Suid-Afrika en Tanzanië met die geweldige verlies van die soldate wat gesterf het en wens die drie gewonde soldate terselfdertyd ʼn spoedige herstel toe.”

Nagenoeg 2 900 Suid-Afrikaanse soldate is sedert Desember in die ooste van die DRK ontplooi in ʼn stap wat geweldige kritiek uit sommige oorde ontlok het, onder meer omdat die soldate glo sonder behoorlike lug- en logistieke steun ontplooi is.

Gevegte tussen die hoofsaaklik Tutsi- M23-rebelle en die Kongolese regering duur intussen voort nadat dit die afgelope paar weke opgevlam het. Die Verenigde Nasies het verlede maand gesê minstens 100 000 mense is reeds weens die voortslepende geweld ontwortel.

Vlugtelinge uit die DRK speel ‘n bordspeletjie genaamd Igisoro by ‘n vlugtelingkamp in Rubavu. Duisende mense het reeds weens die konflik gevlug. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Die organisasie Dokters Sonder Grense het op sy beurt by vegters gepleit om burgerlikes en mediese fasiliteite met rus te laat. Die oproep het gekom ná ʼn aanval op ʼn hospitaal in die konflikgeteisterde gebied. Die Rooi Kruis het ook gewaarsku dat ʼn “geweldige krisis” besig is om in die land te ontvou.

  • Hierdie berig is gewysig nadat dit aanvanklik gepubliseer is. – Red. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Vietnam 2. Seker deel van die gerugte laas week

kragaap ·

Lyk of die rebelle beter opgelei, toegerus, en operasioneel beter is as soldate van landed van die SAOG…. wonder hoekom ?

Gaitsigubib ·

Kragaap ek weet nie of jy maklik oortuigbaar is en hoe maklik jy jou liggaam op die spel sal plaas nie. Dalk doen jy dit sonder blik of bloos, maar my ondervinding is dat n vyand wat voel hy het niks om voor te lewe nie baie gevaarlik is. Hulle hardeware asook opleiding kan maar ontbreek, hulle gee nie om nie.

skurweberg ·

Weet die soldate ooit hoe klink ‘n mortier wat op jou afgeskiet word? Die wag moes hulle gewaarsku het dis nie ‘n geluid van ‘n muskiet of ander insek nie. Jy hoor hom duidelik deur die lug aankom. Miskien het hulle nie mortierskuilings gehad om in te vlug nie.

Christine ·

Hoekom gaan Veg SA soldate in die DRK teen rebelle(terroriste) maar die soldaat in Israel word veroordeel hè pandoratjie

kragaap ·

@Gaitsi… Jy is reg, vraag is waarvoor? My aanmerking is verkeerd bewoord, die vraag is dalk hoekom die SADC magte so ellendig is ipv hoekom die rebelle soveel beter is. Dalk is die antwoord dieselfde.

Amelia ·

Stem saam Christine as daar smile face was het ek jou 100 gegee

Korrelkop ·

Dis ‘n oorlog situasie, wat verwag julle? Die mentaliteit van ‘n “job” hê en sit en wag vir betaaldag, werk nie vir soldate nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.