Vier sterf in ongeluk op N4

(Foto: Facebook/Sizwe Mathebula)

Vier mense, onder wie ʼn tweejarige kind, is Woensdagaand in ʼn ongeluk op die N4-tolpad naby Emalahleni in Mpumalanga dood. Vier voertuie was in die ongeluk betrokke; twee sedans en twee ligte afleweringsvoertuie. Paramedici het die oorledenes op die toneel dood verklaar.

Die ongeluk het omstreeks 19:00 plaasgevind. Na bewering het die bestuurder van een van die sedans beheer oor die voertuig verloor, uit sy baan geswenk en met ʼn voertuig in die aankomende verkeer gebots. Dit het gelei tot nog ʼn ongeluk waarby drie ander voertuie betrokke was.

Die oorledenes was insittendes van die twee sedans. ʼn Tweejarige kind is ook op die toneel dood verklaar. Die bestuurders van die ander voertuie het matige beserings opgedoen en is eers op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal in Emalahleni gehaas is.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga, het weer by motoriste gepleit om “versigtig op die pad te wees sodat dodelike ongelukke vermy kan word”.

Hy sê sonder motoriste se samewerking sal dit moeilik wees om tragiese ongelukke te voorkom.

“Ons moet meer bedag wees wanneer ons op die pad is. Veral met die Paasvakansie om die draai. Ons moet ten alle tye die reëls respekteer, en oplet wanneer ons agter die stuurwiel is,” sê Shongwe.

Die LUR het sy innige meegevoel met die families betuig en dié wat beseer is ʼn spoedige herstel toegewens.

Die oorsaak van die ongeluk word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eugene ·

Tragies. Skuldige of skuldiges moet vir moord aangekla word. Onskuldigge lewens geneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.