Vier susters vang in een week graad

Die De Langer-susters (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die vier De Lange-susters van die Paarl het almal vanjaar ‘n reeks grade ontvang.

Twee van die susters het honneursgrade ontvang en die jongste twee, ʼn tweeling, elkeen ʼn B-graad.

Andria (27) het ʼn BSc Hons: Kliniese Anatomie verwerf; Roné (24) ʼn BCom Hons: Bedryfsielkunde; Jani (21) ʼn BSc in Lewenswetenskappe en haar tweelingsuster, Mari, ʼn B-graad in Rekeningkunde.

Die viering was des te meer spesiaal omdat die vier vroue se ouers ook US-alumni is. Hul ma, Anna-Mari de Lange, het haar BA in politiek, filosofie en sosiologie in 1989 verwerf en hul pa, Johan de Lange, sy BSc Landbou in dieselfde jaar.

Anna-Mari, ʼn tuisversorger, en Johan, wat as ʼn uitvoerende beampte by Kaap Agri werk, kon skaars met al die gradeplegtighede byhou – op Dinsdag 6 Desember, Woensdag 7 Desember en Donderdag 8 Desember – maar was nietemin daar om hul dogters te ondersteun en hul prestasies te vier. Hulle sou agterna óf na ʼn restaurant gaan óf “ʼn vuurtjie by die huis” aansteek en dank vir die prestasies betuig.

Andria het hulde aan haar ouers gebring vir hul voortgesette steun en aanmoediging deur die jare. Die gesin is oorspronklik van Porterville, maar het in 2017 Paarl toe getrek.

“Ons ouers het al vier van ons grootgemaak om ons drome, ons passies en ons ideale na te jaag. Hulle het die waarde van ʼn opvoeding by ons gekweek en altyd benadruk dat ons ons opvoeding moet gebruik om ander te help. Ons gesinsfilosofie is om ander te help hoe ons ook al kan en in watter loopbaan ons ook al kies.

“Ons is uiters dankbaar vir ons ouers wat so hard gewerk het om aan ons die geleentheid te bied om onsself verder op te voed. Hulle moes talle finansiële en emosionele uitdagings te bowe kom om dit vir ons moontlik te maak en woorde sal nooit genoeg wees om ons dank jeens hulle behoorlik te betuig nie. Hulle het sedert 2014 nog elke jaar ʼn kind gehad wat aan die US studeer het en twee van ons gaan ons studie in 2023 voortsit. Ons eer ons ouers werklik vir hul opofferings, leiding en ondersteuning en dat hulle soveel van hul eie drome prysgegee het om dit vir ons moontlik te maak om ons s’n na te jaag,” het Andria gesê.

Volgens haar geniet al vier die De Lange-dogters hul studierigtings geweldig. “Ons wil almal ons drome najaag en ʼn impak maak, of dit nou op klein skaal of op die groot verhoog is.”

Volgende jaar gaan Andria haar studie aan die US voortsit met ʼn meestersgraad in anatomie. Roné, wat graag ʼn bedryfsielkundige wil word, gaan aansoek vir poste in menslike hulpbronne doen. Jani, wat ʼn chirurgiese mediese verteenwoordiger wil word, hoop om ʼn nagraadse diploma in bemarking aan die US te doen en Mari gaan as ʼn klerk by ʼn rekenmeestersfirma in Middelburg in die Oos-Kaap begin werk.

Andria het ʼn BSc in Menslike Lewenswetenskappe voltooi en daarna, in 2017, ʼn nagraadse onderwysdiploma. Sy het by Paarl Gimnasium skoolgehou voordat sy ingeval het by Hilltop Legacy, ʼn organisasie sonder winsbejag wat in en om die Paarl werksaam is.

“My werkervarings het my laat besef ek het ʼn passie vir onderwys, gesondheidsorg en gemeenskapswerk. Ek het besef ek wil my passies belyn en die enigste manier hoe ek ʼn verskil op al daardie gebiede kon maak, was om terug universiteit toe te gaan – en dis hoekom ek vanjaar my honneurs in anatomie gedoen het.

In 2023 gaan sy ʼn meestersgraad in anatomie doen met die oog daarop om ʼn lektor en akademikus te word. “Ek hoop om met my navorsing ʼn impak op die gesondheidsorgstelsel te maak en by gemeenskapswerk betrokke te raak – en ʼn meestersgraad is ʼn uitstekende platform om dit te doen.”

Oor hoe hulle hierdie belangrike mylpaal vir al die susters gaan vier, het Andria gesê: “Ons is baie nederige, plat-op-die-aaarde mense. Vierings is gewoonlik meer ʼn oomblik van dankbaarheid, waar ons kyk na die jaar waar ons is, mekaar bedank, ons ouers bedank en God eer wat ons almal so ryklik geseën het. Ons hoef nie na ʼn restaurant te gaan nie, maar sal eerder – voor ons op ons volgende reise vertrek – ons dankbaarheid vir hierdie jaar betuig.”

ʼn Verheugde Roné het gesê haar leuse is “kop af en swaai deur”, met verwysing na ʼn sêding (wat gewoonlik op die gholfbaan gebruik word) wat haar ouers altyd met hul dogters gedeel het. Dit beteken “hou net aan beweeg”. “Ek is werklik dankbaar vir my ouers wat my deur hierdie jaar ondersteun en geïnspireer het om ondanks talle uitdagings aan te hou om hard te werk,” het sy gesê.

Jani het gesê: “My graad het nie net my liefde vir en belangstelling in die mediese veld versterk nie, maar my ook die geleentheid gebied om wonderlike mense te ontmoet. Hierdie afgelope drie jaar het my geleer hoe belangrik die ondersteuning van my gesin en vriende is. My ouers het my deur moeilike tye gemotiveer, positief gehou en my aan my einddoel herinner.”

Mari het gesê: “Die afgelope jaar was met talle wonderlike herinneringe gevul, maar het ook talle uitdagings ingehou. Ondanks laasgenoemde het my ouers aangehou om my aan te moedig om hard te werk en my te ondersteun in elke tree wat ek gee. Ek sou nie gewees het waar ek vandag is as dit nie vir hulle was nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Andre ·

Wat ń voorreg vir hulle ouers om vier sulke pragtige dogters se grade plegtighede te kon bywoon!
As ń pa van twee meisies kan ek net sê baie geluk!!!
Dis harde werk met tye

SjN ·

Baie geluk aan die gesin, dit wil gedoen wees. Jul sal die vrugte pluk. Die pa se beursie het beslis n paar houe gevat!!

Di ·

Baie geluk al julle almal!! Ek is seker julle ouers is SO trots op elkeen van hulle dogters. So mooi om te sien hoeveel liefde en respek julle aan julle ouers betoon.

Nico ·

Baie geluk met ulle prestasies. As ‘n ouer wat ook op ‘n stadium 3 kinders op universiteit gehad het kan ek ook assosieer met die uutdagings wat hierdie ouers gehad het. As ‘n mens terugkyk dan kan jy nie glo dit is klaar en verby nie want op ‘n stadium was die uitdagings soos ‘n berg wat jy moes uitklim. Baie genade en groot opofferinge maar vir ‘n mens se kinders sal jy jouself te na kom net om dit vir hulle makliker te maak. Wat treffend is, is die bereidwilligheid om dit wat die kinders het te deel met ander wat nie het nie. Dit is ‘n prysenswaardige eienskap en ‘n uiting van hulle geloof op ‘n praktiese vlak. Seën vir julle

Jaco ·

Waar gaan hulle werk kry met dié wonderlike grade? Weet hulle van regstellende aksie en BEE? Ek het later op my CV gelieg deur te noem dat ek niks op universiteit bereik het nie. Ironies, maar slegs met dié leuen kon ek weer werk kry.

Leon ·

Ja baie mooi , los tog net die boyfriends tot julle in die dertigs is en dat julle kan sien wie en wat hulle is

Agie@toeka ·

Prys Die Here! Hulle is nou eenmaal die geseendes van die Allerhoogste!

WILLEM ·

Dis ‘n prestasie – baie geluk aan julle vier, ook aan julle ouers!!

Prikkie ·

Dit is toe nou nie die drie susters van Drie Susters nie, maar die vier susters van die Paarl.

Baie geluk en voorspoed word die gesin toegewens – ja, almal, want dit was sekerlik ‘n spanpoging.

Lizelle ·

Lekker om sulke positiewe mooi dinge te lees. Veels geluk aan die dogters, asook aan die ouers! Jul kan sowaar trots wees.

Blikkies ·

Dit is baie goed gedoen. Baie Geluk aan al die dogters en ook die ouers. Ek is nou ook sommer trots names hulle almal. Wel Gedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.