Vingerhoedhuisie op Saldanha gou gesloop

Die Vingerhoedhuisie op Saldanha. (Foto: Facebook)

Inwoners van Saldanhabaai sal binnekort die bekende Vingerhoedhuisie op die hoek van Kamp- en Manitokastraat vaarwel moet roep.

Dié historiese baken op die dorp sal na verwagting vroeër eerder as later gesloop word om plek te maak vir ʼn moderne woonstelblok nadat die Wes-Kaapse afdeling van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap vandeesweek die sloping van die bekende struktuur goedgekeur het.

Dít nadat Saldanhabaaiers soos Edwin Dwyer, ʼn omgewingskundige en toergids, hand en tand baklei het vir die behoud van die historiese huisie van meer as 100 jaar oud.

Inwoners van die dorp het egter eers onlangs van die beplande sloping te hore gekom en kennis geneem dat hulle kommentaar daaroor kan indien. Nege kommentare is nietemin binne die wetlike vereiste van 30 dae, wat op 16 Junie 2023 verstryk het, ontvang.

Die Vingerhoedhuisie met sy kenmerkende rietdak is vermoedelik in die vroeë 1900’s deur ene Duncan-familie gebou voordat die Saldanhabaai-hawe en Spoorwegmaatskappy die erf vermoedelik in 1914 bekom het.

Sommige inwoners onthou dat die huisie in ʼn stadium ʼn melkery met twee melkkoeie op die erf was. En in die 1960’s het oom Daantjie Binneman hare in die Vingerhoedhuisie gesny.

Die huis staan tans leeg.

Dwyer sê onderwysers op Saldanha het egter planne gehad om die Vingerhoedhuisie in ʼn leersentrum op die dorp te omskep om die kinders van die strate te hou.

Die Vingerhoedhuisie op Saldanha. (Foto: Facebook)

Sommige Saldanhabaaiers het ook gehoop dat die huisie ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne beskerm kon word. Dié wet bepaal dat ʼn struktuur of enige gedeelte van ʼn struktuur wat ouer as 60 jaar oud is, as bewaringswaardig beskou moet word.

Maar luidens die erfenis-impakverslag wat ter voorbereiding van die ontwikkeling van die woonstelblok gedoen is, is daar oor die jare soveel strukturele veranderinge aan die sogenaamde Vingerhoedhuisie aangebring dat dit nie meer bewaringswaardig is nie.

Dwyer wil van dié verslag verskil.

Hy sê daar is oor die jare slegs normale instandhoudingswerk gedoen. Die oorspronklike rietdak is in ʼn stadium vervang en die huis se mure is oorgeverf. ʼn Grensmuur en diefwering is ook noodgedwonge aangebring nadat boosdoeners by die huis ingebreek het.

Daar is ook enkele veranderinge aan die binnenshuise versiering aangebring, soos nuwe teëls en kombuiskaste.

“Maar jislaaik, oor die jare loop ʼn vloer mos deur. Dit moet mos in ʼn stadium vervang word.”

Dwyer hou vol dat geen veranderinge aan die huis se struktuur aangebring is nie. “Dit staan nog soos dit die dag gebou is. Daardie huis is oor die 100 jaar oud.”

Hy sê die plaaslike munisipaliteit was van min hulp toe hy inderhaas daar aangeklop het in ʼn poging om die beplande sloping te keer. “Hulle sê ook die huis is nie bewaringswaardig nie.

“Daardie huisie is die enigste van sy soort in hierdie land. Glo vir my, daar is geen ander huis wat só lyk nie.”

Kommer oor ontwikkeling

Die dorpenaars is nie net hartseer dat die huisie nie behoue gaan bly nie, maar is ook nou bekommerd oor die probleme wat gaan kop uitsteek nadat dit gesloop is en met ʼn woonstelgebou vervang word.

Dwyer sê daar is al vantevore ʼn woonstelblok probeer bou maar Saldanha het geweldig baie ondergrondse kalksteen. Groot uitgrawings is gedoen vir ʼn ondergrondse parkeerterrein en pilare is opgerig. Die bouwerk is egter ná enkele maande skielik gestaak omdat die grond glo onstabiel was.

Dit is meer as ʼn jaar later en die bouperseel het sedertdien ʼn seeroog op die dorp geword, sê Dwyer. Hy sê daar is boonop ʼn rioolprobleem in die omgewing. “Die Vingerhoedhuisie is regoor die see waar daar rioolpype loop. Die dreine loop gereeld oor en rou riool loop dan in die see in.

“Ek weet ook nie of die dorp se huidige pypleiding die riool sal kan hanteer nie, omdat dit geïnstalleer is toe die dorp baie klein was en min mense hier gewoon het. Nóg ʼn woonstelblok gaan net nóg meer druk op die stelsel plaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is jammer,ek is nie ‘n groot voorstaander van vooruitgang nie maar dit is wat dit is.

ronel ·

Net nee!! Hou op beplanning doen op infrastruktuur wat nie daarvoor onwikkel is nie, jiss dit vat nie n “rocket scientist”om te verstaan dat infrastruktuur moet saam met bouewerk aangepas word nie. Waarom alles wat mooi en oud is verwoes?

Charles ·

En die rede hoekom ons so voel is omdat niks wat nuut gebou word meer mooi is nie. Afgejaag en swak gehalte. Die heimwee sou nie so sterk wees indien geboue nog steeds met styl en kwaliteit gebou was.

Charles ·

Nou indien die woonstelblok pragtig sou lyk en goed gebou wees en nie gou vervalle raak nie, sou ek sê “why not”. Maar dit gaan nie gebeur nie.

blia ·

Die huisie kon as oulike museum omskep geword het met uitstallings van van Saldanha se geskiedenis…
Sou verseker toeriste atraksie gewees het.

Charles ·

Hoeveel toeriste kom na hierdie land nog? Eerder oneerlike besigheids manne en korporasies.

OU SAAR ·

Baklei vir julle erfenis Saldanha…
Dis ń oulike ou huisie en glo my, as ek ryk was het ek dit wragtig gekoop en mooi getestoureer en self daar gaan bly. Wil nog altyd ń huisie by die see hê.

Jaco ·

Nogal ‘n DA-beheerde munisipaliteit…. Wat dan nou van “skoon regering” en “the DA delivers”???

Laksman ·

Wie het al almal Saldanha toe gery om na die huisie te kyk of voor dit te staan en n foto te neem?

Jax ·

Dit is ongelooflik hartseer om te sien dat daar geen respek is vir dit wat was nie. Hierdie huisie is een van die groot bakens in Saldanha. Dit kon soveel beteken het vir Saldanha se jeug om daar by mekaar te kom en uit die strate/moeilikheid te bly. Daar is so baie plek in Saldanha om behuising op te rig sonder die sloping van hierdie pragtige stukkie erfenis van Saldanha. Ek het daar groot geword en ken daai baken baie goed. Ek kan eenvoudig nie verstaan waarom als afgebreek moet word nie. Kan ons nie maar n bietjie druk op Saldaha munisipaliteit sit om liewer die plekkie nie te sloop nie. Vir n buitestaander beteken die vingerhoedhuisie seker niks maar ons wat daar gewoon het, is baie lief vir ons dorpie met sy pragtige skatte. Kan iemand (Flip Buys of Dirk Hermann) by Solidariteit nie n bietjie druk uitoefen nie asseblief?

Niklaas ·

Om eerlik iets by te voeg , ek het nog nooit voorheen enigiets gehoor , of brosjure vir toeriste gesien met melding of foto van hierdie gebou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.