Vinnige identifisering van bek-en-klouseer wink

Nuwe tegnologiese toerusting sal veeboere help om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp. (Argieffoto: pixabay)

Die Technology Innovation Agency (TIA) het sy finansiële steun agter ’n Gautengse sake-inisiatief gegooi vir die ontwikkeling van diagnostiese toetstoerusting wat bek-en-klouseer onder vee binne ’n uur kan vasstel.

TIA is verbonde aan die nasionale departement van wetenskap en innovasie (DSI).

Dié toerusting word tans deur TokaBio (Edms. Bpk.) ontwikkel en sal veeboere in staat stel om ingeligte besluite rakende die siektestatus van hul diere te neem en gevolglik verdere verspreiding te beperk.

Luidens ’n verklaring deur TIA sal dié tegnologie ’n vinnige omkeertyd vir toetsuitslae verseker sodat veeboere diere wat met bek-en-klouseer besmet is spoedig kan isoleer.

“Dit neem gewoonlik ’n week of twee voordat toetsuitslae van laboratoriums af ontvang word. Met dié tegnologie sal die toetsuitslae binne ’n uur beskikbaar wees.

“Die uitslae sal op ’n mobiele toestel beskikbaar wees wat ook aan ’n regeringsdatabasis gekoppel is. Dít sal ook waarde toevoeg tot die regering se waarnemingsprogram vir veesiektes,” sê Sibusiso Manana, hoof van TIA.

Volgens TIA het bek-en-klouseer nie net ’n vernietigende uitwerking op plase nie, maar ook ’n negatiewe invloed op die uitvoer van beesvleis en -produkte.

“Weens die inwerkingstelling van streng kontrole- en moniteringstelsels vir siektes deur markte soos die VSA en Europa, is Suid-Afrika, Namibië en Botswana tans die enigste lande in Afrika wat hul beeste na dié markte kan uitvoer. Gevolglik kan hulle ook beter pryse vir die vee vra.”

TIA sê voorts dat die tegnologie buiten Suid-Afrika ook in Rwanda, Lesotho en Zambië beproef is, waar uitbrekings van bek-en-klouseer onlangs aangemeld is.

“Die toerusting sal onder meer dié lande se vermoë om vee uit te voer verbeter,” sê Manana.

“Afrika is steeds die strydveld van aansteeklike veesiektes. TokaBio is vasbeslote om dié stryd te oorwin deur die identifisering van siektes moontlik te maak, ongeag die veeboer of -eienaar se omgewing of sosio-ekonomiese status,” sê dr. Phiyani Lebea, besturende direkteur van TokaBio.

Luidens die verklaring word die tegnologie deur TIA se landelike sake-eenheid gefinansier. Die eenheid ondersteun onder meer die uitbreiding en ontwikkeling van kleinsake- en nuwe ondernemings en tegnologie wat ’n positiewe rol in die landboubedryf kan speel, en veral tot voordeel van klein boerderye en opkomende boere sal strek.

“TIA is opgewonde om deel van hierdie ontwikkeling te wees. Dit beklemtoon die invloed en reikwydte van tegnologiese innovasie by plekke waar daar groot behoeftes is, selfs in gemarginaliseerde en landelike gebiede,” sê Manana.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.