Vissers sleep minister hof toe oor visvangregte

Geskryf deur: Liezl Human, GroundUp

Vissersbote by Houtbaai. (Foto: Ashraf Hendricks/ GroundUp)

Tientalle maatskappye sleep die minister van bosbou, visserye en omgewingsake hof toe, nadat dié maatskappye se aansoek om kommersiële visvangregte afgekeur is. Sommige van hierdie applikante het die afgelope 15 jaar al regte om onder meer stokvis en tuna te vang, en voer uit na Europa en Amerika.

Die proses om visvangregte toe te ken is op 28 Februarie voltooi. Die departement het meer as 2 400 aansoeke gekry. Die 12 maatskappye wat hulle nou tot die hof wend, is deel van 1 213 applikante wat teen die toekenning geappelleer het, maar onsuksesvol was.

Die appèlproses het in Desember verlede jaar tot ʼn einde gekom en 845 visvangregte is toegeken. Onder dié wat regte ontvang het, is Paper Qouta Holders, wat geen bote, fabrieke of eens kennis van visvang het nie.

In omtrent tien afsonderlike hofsake daag die applikante nou min. Barbara Creecy se reg uit om hul visvangregte te weerhou.

Greenfish Traders, ʼn seekosmaatskappy wat na Europa en Amerika uitvoer, voer in hofstukke aan Creecy het nie die maatskappy se appèlaansoek behoorlik oorweeg nie en ook die maatskappy foutiewelik gegradeer. “Paper Quota Holders verkoop nou hul permitte aan maatskappye soos Greenfish, wat in staat is om tuna te vang, verwerk en bemark,” lui die maatskappy se hofstukke.

In nog ʼn aansoek voer Mossel Bay Indigenous Fishermen aan die minister het 16 maande gevat om hul appèlaansoek af te keur. Die maatskappy, wat stokvis vang, sê hy is gedwing om sy bedrywighede te staak en het “vir twee jaar omtrent ophou bestaan, terwyl die minister en haar departement hierdie onwettige besluite geneem het”.

Die maatskappy voer verder aan weens die departement se onbevoegdheid en swak beplanning kon kommersiële visvangbedrywighede vir lank nie voortgaan nie, omdat visvangregte reeds in 2020 verstryk het, maar die proses om toekenning van nuwe regte eers in 2022 voltooi is.

Ander maatskappye voer aan die toekenningsproses was gejaag en dat regte lukraak toegeken is.

Peter Mbelengwa, woordvoerder van die departement van bosbou, vissery en omgewingsake, sê egter die appèlproses was regverdig, billik en deursigtig en het die regte uitkomste tot gevolg gehad. Hy sê ook die minister en departement het in die algemeen goeie terugvoer oor die proses gekry en dat die 12 maatskappye wat hulle nou tot die hof wend slegs 0,48% van die algehele getal applikante uitmaak.

Volgens Mbelengwa beplan die departement om die sake in die hof te beveg.

Verskeie van die sake word in Mei in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor.

Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henry ·

Met die gewmors krimin ele anc aan bewind is enige iets moontlik. Ek hoop die vissers wen die saak en alle koste aan die anc gemors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.