Vlak 4: Skole heropen vroeër ná wintervakansie

(Argieffoto: ANA)

Skole wat te midde van die dodelike derde vlaag Covid-19-infeksies ʼn week vroeër sluit, sal ook vroeër heropen.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag tydens ʼn besoek aan inentingsentrums vir onderwysers in die Vrystaat gesê skole sal op 19 Julie, pleks van 26 Julie, ná die wintervakansie heropen.

Woensdag sal die laaste dag van onderrig vir leerders wees, terwyl onderwysers en ander personeel nog Donderdag en Vrydag by die skool sal wees.

“Ons het minstens twee dae nodig om ʼn ordelike sluiting te verseker en ons is dankbaar dat die kabinet daartoe ingestem het,” sê Motshekga.

Die minister sê sommige leerders gaan skool in ander provinsies as waar hulle woon, of woon in koshuise, en skole kon dus nie oornag gesluit word nie.

Sy het ʼn beroep op ouers met kinders op koshuis gedoen om te verseker dat leerders so gou moontlik gehaal word. Teen Vrydag om 12:30 moet alle leerders egter verkieslik die skoolterrein en koshuis reeds verlaat het.

Motshekga sê die Covid-19-syfers word intussen steeds weekliks gemonitor. Die datum vir heropening van skole bly in hierdie stadium egter 19 Julie, tensy daar ʼn ingrypende verandering aan die situasie is. Enige verandering sal nader aan die openingstyd deurgegee word en sal in oorleg met die departement van gesondheid gedoen word.

“Ons sal nie onverantwoordelik optree nie.”

Die minister sê ook ʼn sogenaamde gedifferensieerde benadering – waar sommige skole oop bly en ander, waar probleme ondervind word, sluit – kon nie onder hierdie omstandighede gevolg word nie.

“Die president [Cyril Ramaphosa] het ʼn besluit aangekondig dat die sektor moet sluit. Dit is die president en die kabinet wat besluit het dat die land na vlak 4 geskuif word. Ons kan nie ons eie program bestuur soos ons vantevore gedoen het nie,” sê Motshekga.

Waar aanvullende eksamens geskryf word, sal dit steeds afgehandel word en die nasien van dié vraestelle gaan ook voort. Vakansieskole mag voortgaan, maar met streng veiligheidsprotokolle.

“Ons doen ʼn beroep op ouers, voogde en versorgers om te verseker dat kinders tydens die vakansie met die beskikbare hulpbronne steeds aanhou leer. Deur dit te doen kan ons die vordering wat reeds gemaak is, beskerm.”

Inentingsprogram vir onderwysers

Motshekga sê sowat 200 000 van die altesame 582 564 werkers in die onderwyssektor het reeds entstof ontvang. In KwaZulu-Natal is meer as 60 000 mense reeds ingevolge die program geïmmuniseer en in die Vrystaat sal die meeste werkers na verwagting teen Vrydag al die entstof ontvang het.

“Die departement van gesondheid het ons verseker dat bykomende dosisse in sommige dele van die land beskikbaar gestel gaan word, waar toewysings weens die vordering met die program reeds uitgeput is.”

Die minister het ʼn beroep op onderwysers gedoen om veral Donderdag en Vrydag, wanneer leerders nie meer by skole is nie, aan te meld om die entstof teen Covid-19 te ontvang. Diegene wat nie nou die entstof kan ontvang nie, omdat hulle byvoorbeeld ernstig siek is, onlangs Covid-19 opgedoen het of ʼn griepinspuiting ontvang het, kan later steeds die entstof ontvang.

“Diegene wat kies om nie die entstof te ontvang nie, kan egter nie kies om nie te kom werk nie,” het Motskekga gewaarsku.

“Ons onderwysers is baie belangrik vir ons; hulle dra die stelsel op hul skouers. As ons hulle beskerm, beskerm ons die sektor.”

Motshekga sê sy hoop dat die meeste werkers in die basiese onderwyssektor ingeënt sal wees teen die tyd dat skole ná die vakansie heropen en dat die program teen daardie tyd grootliks afgehandel sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Skole is nie die gevaar nie . Dit is jou president wat toelaat dat diegene wat opruk en protesteer en bo op mekaar staan en nie gehoor gee aan die regulasies nie , wegkom daarmee . Julle GAAN nie wen nie . Punt .

tweeling ·

…en dit nadat jy alles wou oop hê? Duidelik het jy geen idee wat in die land aangaan nie. Die kanse dat die Gauteng provinsie nog nie sy piek oor 3 weke bereik het nie is daar, wat gaan jy dan doen?

Pietertjie ·

Die mieniesta het vrede met mense se vakansie-besprekings. Ons moes verlede jaar ons vakansie kortknip weens die inperkings, en die volgende bespreking vir September (wat telkens ‘n jaar vooruit gedoen en betaal moet word) is ook na sy peetjie oor die verskuiwende skool-kalender.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.