Vlieërplankongeluk eis ‘Egoli’-akteur

Cliff Simon. (Foto: Facebook)

ʼn Vlieërplankongeluk het Dinsdag die lewe van die akteur Cliff Simon, bekend vir sy rolle as Mitch in die sepie Egoli en Ba’al in die Amerikaanse televisiereeks Stargate SG-1, in Topanga Beach, Kalifornië, geëis. Hy was 58 jaar oud.

Simon se vrou, Colette, het die nuus op sosiale media bevestig en gesê hy is Dinsdag omstreeks 12:30 dood.

“[Hy was] waarlik enig in sy soort, ʼn avonturier, ʼn seevaarder, swemmer, danser, akteur en skrywer. Daar is ʼn gaping waar hy eens op hierdie aarde gestaan het. Hy was geliefd deur te veel ander om te noem en het so ʼn groot indruk op mense se lewens gemaak. Hy was ʼn ongelooflike broer, oom, neef en vriend,” het Colette op Facebook geskryf.

“’n Klein vertroosting te midde van hierdie tragedie is dat hy gesterf het terwyl hy een van die dinge gedoen het waarvoor hy die liefste was, op die strand naby die water.”

Simon is op 7 September 1962 in Johannesburg gebore. Hy het ʼn loopbaan as akteur in die plaaslike sepie Egoli losgeslaan nadat hy in 1992 as Mnr. Suid-Afrika aangewys is.

Hy het in 2000 na die VSA verhuis. Daar het hy rolle in reekse soos Nash Bridges en Stargate SG-1 asook die rolprent Stargate: Continuum (2008) vertolk.

Hy het ʼn stil lewe in Malibu, Kalifornië, gelei tot en met sy dood.

Cliff Simon in die fliek ‘Stargate: Continuum’. Hy het die rol van Ba’al vertolk. (Foto: IMDb)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Ek treur saam met die familie maar sonder om onsesitief te net die volgende;hy het gestraf terwyl hy een van die dinge gedoen het waarvoor hy die liefste was.Was sit groter as die lewe self.

Marisa W ·

Baie tragies, maar dit gee my ook ‘n pyn as mense beweer hy het gesterf terwyl hy iets gedoen het waarvoor hy lief was – is seker hy sou eerder ‘n rustige dood in sy slaap diep in sy 90’s verkies het.

AH ·

Dit gee jou miskien ‘n pyn, maar uit ondervinding wéét ek waarvan sy familie praat. In so ‘n traumatiese tyd “troos” dit om te weet hy was besig met iets wat hy lief was voor eerder as om te sterf op ‘n gewelddadige manier soos moord…. Natuurlik sou hy en sy geliefdes wou hê dat hy eerder moes sterf in sy slaap op ‘n hoë ouderdom, maar ongelukkig kan mens nie kies wanneer jou tyd aanbreek nie….. Sterkte aan sy familie ..

Jack ·

Meeste jong mense praat van graag baie oud word. Maar oud word is nie vir sissies nie. Oud word gaan meestal gepaard met verswakking van sintuie en liggaamskrag, werklus, allerhande kwale, verlaagde lewensgenot en selfs verlies van geliefdes. Daar is mense wat oud is en wens om te sterf. Mense moet nie ligtelik praat oor hiedie dinge nie. Gelukkig weet niemand vooraf wanneer hulle sterfdag is nie, nê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.