Vliegongelukke neem eintlik af, wys syfers

Die verbrande skroef van ‘n vliegtuig. (Foto: BLO)

Verskeie voorvalle van vliegtuie of helikopters wat neerstort het Suid-Afrika se lugvaartgemeenskap – en die breër gemeenskap – sedert die begin van die jaar geruk. Was daar onlangs ʼn skielike toename in dié soort voorvalle?

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), sê wanneer ʼn ontleding van data vir die huidige boekjaar met dieselfde tydperk verlede jaar gedoen word, is daar wél ʼn toename in die getal voorvalle in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

“ʼn Behoorlike vergelyking sal egter eers aan die einde van die boekjaar gedoen kan word. Soms ondervind ons ʼn skielike styging in ʼn sekere tydperk, maar wanneer die jaarlikse vergelyking gedoen word, dui die statistieke gewoonlik nie op ʼn groot verskil in die getal ongelukke nie,” sê hy.

ʼn Vergelyking van vorige jare se syfers wys dan ook dat dié soort ongelukke in werklikheid aan’t afneem is. Nietemin is 32 mense die afgelope drie jaar in kommersiële vliegongelukke dood. Dit sluit vlieëniers en leerdervlieëniers in.

Wouter Botes, ʼn kommersiële vlieënier, ondersoeker en aanbieder van die TV-program Flights to Nowhere, stem saam dat daar nie noodwendig ʼn toename in voorvalle die afgelope tyd was nie.

‘n Wrakstuk van ‘n Robinson-helikopter nadat dit neergestort het. (Argieffoto)

Wat daar wél is, is groeiende belangstelling in lugvaart – en daarom versprei nuus oor enige vliegverwante ongeluk soos ʼn veldbrand. Nuus omtrent enige voorval – selfs ʼn voorval wat in die verlede as bykans onbenullig beskou sou word – versprei op sosiale media binne minute op groot skaal onder mense.

“Daar is nie méér ongelukke nie, maar mense word beslis gefassineer deur sulke voorvalle. Die publiek is ook baie meer bewus van wat in die bedryf gebeur,” sê Botes.

Hy sê daar word geweldige groot klem op vliegongelukke of -voorvalle geplaas, terwyl mense die ontleding van ʼn ongeluk boonop geweldig interessant vind.

Ledwaba sê hoewel daar ʼn afname in ongelukke in die 2020-’21-boekjaar was, was daar in die eerste twee maande van die 2021-’22-boekjaar ʼn styging van 75% in April en 57% in Mei wanneer dit met dieselfde tyd verlede jaar vergelyk word.

“Dit is egter altyd raadsaam om na ʼn afgehandelde boekjaar te kyk wanneer ʼn vergelyking getref word. Oor die jare was daar nog nooit ʼn beduidende verskil nie en die getal [voorvalle] neem bestendig af.”

In die 2019-’20-boekjaar is altesame 97 ongelukke en 30 ernstige voorvalle by die BLO aangemeld. In 2020-’21 was drie studentevlieëniers by noodlottige ongelukke betrokke, terwyl twee ongelukke waarby studentevlieëniers en hul instrukteurs betrokke was in dieselfde jaar tot ses sterftes gelei het. In die huidige boekjaar (tot op 20 Mei) staan die syfer vir ongelukke op 26 en die getal ernstige voorvalle op twee.

BoekjaarGetal noodlottige ongelukke waarby ligte vliegtuie/helikopters betrokke was
2019-’2013
2020-‘2116
2021-‘223 (teen 20 Mei 2021)

Studentevlieëniers asook vlieëniers met jarelange ondervinding en duisende vliegure was die afgelope paar maande onder die slagoffers van onderskeie vliegongelukke.

In een van die voorvalle is die bekende voormalige lugmagvlieëniers Des Barker en Rama Iyer in Maart vanjaar in ʼn ongeluk by die Swartkop-lugmagbasis dood. Albei was lede van die lugmag se reserwemag, het vir die Lugmagmuseum gevlieg en is as uiters ervare bestempel.

In nog ʼn voorval is vier mense in April naby Grasmere, in die suide van Gauteng, dood toe twee vliegtuie tydens die vlieëniers se nagvlugopleiding met mekaar gebots het.

Volgens die BLO is 4 969 private vlieëniers by die owerheid geregistreer, terwyl die syfer vir kommersiële vlieëniers op 2 561 registrasies staan.

Botes sê in vergelyking met die getal vliegtuie wat daagliks veilig opstyg en land, is daar persentasiegewys betreklik min ernstige voorvalle. En ten spyte van die afgelope paar maande se ongelukke beskou hy Suid-Afrika se lugruim steeds as veilig.

Die oorsaak van ongelukke

Dié foto vorm deel van ‘n BLO-ondersoek. (Foto: BLO)

Botes sê daar is altyd ʼn sogenaamde “goue draad” wat deur die verloop van gebeure van ʼn vliegongeluk loop. Wanneer ʼn voorval ondersoek word, word daar gewoonlik teruggewerk van die oomblik wat die ongeluk plaasvind, tot waar die vliegtuig aanvanklik opgestyg het. Dan word daar ook na ʼn vlieënier se opleiding, ervaring en soms selfs gemoedstoestand gekyk.

Soms, sê Botes, verloop die omstandighede tydens ʼn spesifieke vlug egter op só ʼn manier dat ʼn ongeluk plaasvind wat onder gewone omstandighede – en soms tydens ʼn vlug wat eintlik as blote roetine beskou sou kon word – nooit sou gebeur het nie.

Hy verwys na die sogenaamde “black hole”-uitwerking: Wanneer al die omstandighede tydens ʼn vlug net “reg” is en ʼn ongeluk gebeur.

Botes sê in die meeste gevalle kan ongelukke aan menslike foute toegeskryf word.

“As jy na die statistieke kyk, is baie voorvalle weens vlieënierfoute. Dit kan weer teruggeneem word na opleiding,” sê hy.

Hy sê dit is daarom juis uiters belangrik om van ervare vlieginstrukteurs gebruik te maak sodat ʼn vlieënier weet hoe om te reageer as die noodlot tref.

Tien belangrikste oorsake van ongelukke:

  • Verlies aan beheer van hoogteroer/rigtingroer; laterale, longitudinale beheer tydens opstyg/landing: 18%
  • Harde landing: 9%
  • Verlies aan beheer: 9%
  • Enjin wat staak: 6%
  • Swak tegniek/vliegvermoë: 5%
  • Gebrek aan brandstof: 5%
  • Land te diep of te vroeg: 5%
  • Versuim om vliegspoed te handhaaf/stol: 4%
  • Botsing met voorwerp op grond: 3%

(Bron: BLO)

Botes sê dit is ook uiters belangrik dat ʼn behoorlike ondersoek ná ʼn ongeluk gedoen word.

“Dit is werklik in die belang van veiligheid. Ons wil weet hoekom iets gebeur het en dit in die toekoms voorkom. Dan kan ons almal daaruit leer.

“Dit is ook belangrik om afsluiting te gee aan die families betrokke,” sê hy.

Soms nader die families van slagoffers private ondersoekers soos Botes om, benewens die ondersoek deur die BLO wat verpligtend is, ook ʼn onafhanklike ondersoek na die verloop van gebeure te doen in ʼn poging om berusting te vind.

Ledwaba sê ook die identifisering van die omstandighede wat tot ʼn ongeluk of voorval gelei het, beteken veiligheidsaanbevelings of -maatreëls kan uitgereik word in ʼn poging om ʼn herhaling van ʼn voorval te voorkom.

Hy sê Suid-Afrika het uiters streng burgerlugvaartbepalings om veiligheid te verseker, ook by vliegskole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Ek is nou nie snaaks nie, maar ek glo nie mense kan enigsins iets met verlede jaar vergelyk nie.

Helgard ·

My vraag is soos die netcare helikopter wat neergestort het met 5 aanboord . Hoe vèr het die ondersoek gevorder. Wat was die oorsaak dat die stert gedeelte afgebreek het . Was dit nalatigheid van die mechanic met sy diens dat hy nie kon si3n dat daar fout is . Of verouderde onderdele , skroewe ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.