Vlugte van Kaapstad herlei weens ‘tegniese probleme’

Talle plaaslike vlugte is Dinsdagoggend vertraag of elders heen herlei. (Foto: Gerhard Swart)

Talle plaaslike vlugte is Dinsdagoggend noodgedwonge na ander lughawens herlei nadat die Kaapstadse Internasionale Lughawe “tegniese probleme” ondervind het.

Die situasie is boonop vererger deur digte mis oor die lughawe. Dit het beteken sommige passasiers het ʼn vyf uur lange vlug van Johannesburg na Kaapstad gehad, ʼn vlug wat gewoonlik sowat twee ure duur.

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) sê verskeie vlugte by die Kaapstadse lughawe is vertraag weens ʼn fout op die veselnetwerk.

“Die fout het beteken die lughawe se instrumentlandingskategoriestatus moes tydelik afgradeer word,” sê Acsa.

“Swak sigbaarheid weens digte mis by die lughawe het die situasie vererger en vliegtuie moes na naburige lughawens herlei word.”

Acsa se tegnici het ʼn ruk gelede nog gespook om die probleem reg te stel. Die mis het wel opgeklaar wat beteken vlugte kon weer hervat word.

ʼn Passasier wat om 05:55 uit Johannesburg vertrek het, het eers om 11:00 in Kaapstad aangekom nadat die vlug na die George-lughawe herlei is.

Acsa het ook gemaan dat die vertraging van vlugte by die Kaapstadse lughawe ʼn uitwerking op ander lughawens in die land gaan hê en dus ʼn impak op alle vlugskedules.

“Passasiers wat vandag ʼn vlug in Suid-Afrika moet haal, moet hulle betrokke lugrederye kontak om opdaterings oor die vertragings te kry.”

Acsa sal die publiek ook op sosialemediaplatforms deurlopend op hoogte van die stand van sake hou.

Die lugredery FlySafair het getwiet dat sommige van sy vlugte ook Dinsdagoggend herlei moes word weens die weerstoestande in Kaapstad.

“Dit het ʼn aantal vlugte deur die dag geraak, maar ons operasionele spanne werk onverpoosd om die vertragings te beperk en almal so gou moontlik by hulle bestemmings te kry.”

News24 berig dat verskeie ander lugrederye, waar onder CemAir, Airlink en SAA, ook vertragings ervaar het en selfs sommige van hulle vlugte terug Johannesburg toe gestuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.