Vodacom-gebou brand in Kaapstad

‘n Brand het by Vodacom se gebou by Century City in Kaapstad uitgebreek (9 Julie 2023) (Foto: @tndaba/Twitter)

ʼn Brand het Sondag by Vodacom se hoofkantoor by Century City in Kaapstad uitgebreek.

Foto’s en video’s wys vlamme op die dak van die gebou met rook wat uit die gebou borrel.

Sommige sosialemediagebruikers het bespiegel dat die maatskappy se sonkragpanele moontlik die oorsaak van die brand kan wees.

Byron Kennedy, woordvoerder van Vodacom, het aan Maroela Media gesê geen beserings is aangemeld nie. “Dit is ʼn Sondag, so daar was gelukkig nie baie mense in die kantoor nie. Die gebou is vinnig suksesvol ontruim.”

Die brandweer is ontplooi en volgens Kennedy wil dit voorkom of die brand onder beheer gebring is.

Vodacom het nog nie ʼn idee van die omvang van die skade wat aangerig is nie.

“Ons sal dit eers later kan bepaal en later ook die oorsaak van die brand kan bepaal.”

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brand- en reddingsdiens, sê brandbestryders is steeds op die toneel.

“Die stad se brandweer is net ná 11:00 in kennis gestel dat die sonpanele op die gebou se dak aan die brand geslaan het. Bykomende hulpbronne is ontplooi ná die eerste span by die toneel aangekom het.”

Carelse sê twee hidroliese platforms is ook op die toneel ontplooi.

“Brandbestryders moes op die uitkyk wees vir puin wat van die dak af val terwyl hulle in die gebou gewerk het.”

Hy het ook bevestig geen beserings is tot dusver aangemeld nie.

Volgens Carelse is daar omvattende skade aan die gebou aangerig.

  • ʼn Woordvoerder van Vodacom het intussen gesê die maatskappy betreur bespiegeling vroeër dat die brand met die sonpanele te doen het. “Hierdie bespiegeling het onregverdig sonkragtegnologie in ʼn slegte lig geplaas. Ons is nog besig met die ondersoek, maar wil dit graag uitdruklik stel dat die voorlopige verslag deur die forensiese span die moontlikheid, dat die sonkragpanele die oorsaak was van die brand, uitgeskakel het. Dit was ʼn elektriese fout. Sodra die verslag afgehandel is, sal nuwe inligting uitgestuur word.”

 

Vodacom building in Century City on fire.

Posted by Yolande Alexander on Sunday, July 9, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JvR ·

Weet nie of dit hier die oorsaak was nie, maar daar is meer as een geval waar sonkrag probleme gewerk het soos n bom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.