Voedselbanke leeg, maar Gautengers betaal

(Foto: Maroela Media)

Ondanks die feit dat voedselbanke in Gauteng steeds betalings van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang, is die armes en kwesbaarste in die provinsie besig om honger te ly omdat geen verantwoordelikheid opgedra word om kos aan die begunstigdes te versprei nie.

Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, sê die ontdekking is die eerste keer tydens oorsigbesoeke aan voedselbanke in Gauteng se vyf streke gemaak nadat die DA verskeie klagtes van begunstigdes ontvang het dat hulle geen kos kry nie.

“Tydens hierdie inspeksies het die DA ontdek dat die voedselbanke te min of onvoldoende voorraad het.”

Die DA se bevindinge is intussen tydens ʼn oorsigvergadering op 16 Februarie deur die departement se portefeuljekomitee bevestig.

“Die komitee het bevind dat alle voedselbankbestuurders van al vyf streke steeds volgens die diensvlakooreenkomste betaal word om voedselitems te ontvang en aan begunstigdes te versprei.

“Die komitee het ook verneem dat nie een van die voedselbanke in kennis gestel is dat hulle hul diensvlakooreenkomste oortree of dat hulle onder administrasie is nie. Verder het sommige pakhuise leë rakke vir kospakkiebestanddele gehad, terwyl ander niks gehad het nie,” sê Nt’sekhe.

Sy meen dit is belaglik dat die departement voedselbanke finansier om hul bedrywighede uit te voer en werkers te vergoed vir die verspreiding van kospakkies wanneer daar nie kos is om uit te deel nie.

“Ons vind dit ook kommerwekkend dat, ten spyte van ons waarskuwing in Desember verlede jaar dat voedselbanke opgedroog het, die departement geen stappe gedoen het om die situasie reg te stel nie.

“In plaas daarvan het Mbali Hlophe, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, in ʼn onlangse media-onderhoud gesê dat die verspreiding van voedsel aan die voedselbanke gekanselleer is omdat die tenderspesifikasies nie saad insluit nie.

“Dit is verwarrend omdat die departement se tenderkriteria saad uitgesluit het. Boonop het nie almal wat vir ʼn kospakkie in aanmerking kom ʼn tuin om die saad te kweek nie, maar die departement beweer dat dit ʼn onmiddellike oplossing vir hongersnood in Gauteng is.”

Sy sê die tenderproses is afgehandel, maar dat dit nie aan suksesvolle bieërs gekommunikeer is nie.

“Dit maak nie sin dat die departement ʼn hele tender sal kanselleer in plaas daarvan om saad te bekom wanneer dit deur begunstigdes vereis word nie.

“Die DA sal vrae aan Hlophe in die Gautengse provinsiale wetgewer stel om duidelikheid te soek oor hoekom voedselbanke steeds befondsing ontvang, maar nie die rol speel om voedsel te versprei nie.

“Ons wil weet of ander organisasies kos versprei en hoe dit gekontrakteer is terwyl die voedselbankkontrakte nog in plek was,” sê Nt’sekhe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

latie ·

ja weet hoekom jul vermoor die boere en boere gaan nie goverment sorg nie stupid word wakker kry die doodstraf terug as die boere aanraak ?????

Jacobus ·

Soos ek die anc ken hou hulle al hierdie kospakkies terug en deel dit uit net voor die verkiesing om stemme te werf. Die anc het dit een jaar met ons huiswerker gedoen, vir ses maande haar pensioen terug gehou en haar alles gegee die maand voor die verkiesing.

Anel ·

Wys net wat voel hulle vir die arm mense van hierdie land en dit is hulle skuld dat die mense is waar hulle is!!!!

Karoo ·

Hier in die Karoo, is daar nie ‘n tekort aan mense wat mildelik deel nie…. die probleem is egter, daar is meer mense wat het, wat net nog wil he en dit dus meeste van die keere nie uitdeel aan die vir wie dit bedoel is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.