Voëlgriep: Pluimveevereniging pleit vir noodgoedkeuring

‘n Hoenderplaas in die Vrystaat. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) het druk op die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) verhoog vir noodgoedkeuring vir voëlgriep-entstowwe.

In ’n brief aan die departement en Sahpra pleit die vereniging dat goedkeuring vir die gebruik van die plaaslik vervaardigde H7-entstof en die invoer van die H5- en H7-entstof teen voëlgriep versnel word.

Izaak Breitenbach, hoof van Sapa se braaikuikenafdeling, sê dit sal aan die pluimveebedryf groot verligting bied as die entstofkrisis so gou as moontlik opgelos kan word.

“Met die krisis word voedselsekerheid, die lewensbestaan van die mense in die pluimveebedryf en die stabiliteit van die land se ekonomie bedreig. Daarbenewens ly die hoenders se welsyn daaronder ondanks die beskikbaarheid van ʼn effektiewe gesondheidsoplossing in die vorm van die entstowwe,” sê Breitenbach.

Die vereniging vra ook dat ʼn duidelike tydlyn vir die goedkeurig uitgestippel word.

“Ons is onseker oor die tydlyn vir goedkeuring van die entstof en is bekommerd dat dit nog maande of selfs jare kan neem, ondanks beloftes van die regering dat die registrasie van entstowwe geprioritiseer word.

“Ons verstaan dat ʼn gebrek aan hulpbronne die vermoë van alle rolspelers kan belemmer om die entstowwe so vinnig as moontlik goed te keur. Die bedryf kan hom daartoe verbind om ʼn spesiale heffing in te stel of fonds te skep, waarheen maatskappye reg oor die bedryf kan bydra, om die nodige hulpbronne, hetsy finansieel of menslik, in te samel om hierdie noodsaaklike inisiatief te ondersteun.”

As alternatief versoek Sapa dat die registrateur van die Wet op Misstowwe, Plaasvoere, Landboumiddels en Voorraadmiddels (Wet 36) goedkeuring sal gee dat entstowwe dringend ingevoer word, al is dié entstowwe nie in Suid-Afrika geregistreer nie.

Ingevolge wetgewing kan die registrateur sy diskresie gebruik en op sodanige voorwaardes wat hy bepaal, skriftelike toestemming gee dat die entstof ingevoer word – selfs al is dit nog nie geregistreer nie.

Sapa wag tans vir terugvoer oor dié versoek.

Volgens Breitenbach is die entstof ʼn noodsaaklike hulpmiddel wat dringend nodig is om die voëlgriepuitbreking in bedwang te bring.

“Streng biosekerheidsmaatreëls wat tans op plase landwyd ingestel is, kon nie die verspreiding van die siekte voldoende vertraag nie, wat die noodsaaklikheid van die bekomming van entstowwe beklemtoon.”

Breitenbach sê net meer as vyf miljoen lêhenne en 2,5 miljoen braaihoenders is weens voëlgriep reeds van kant gemaak. Die totaal (7,5 miljoen hoenders) is tussen 20% en 30% van die nasionale getal.

“Die situasie in die bedryf het ʼn kritieke punt bereik. Talle pluimveeplase staan leeg en ernstige inkomsteverliese staar mense wat op grond van ʼn ‘geen werk, geen betaling’-grondslag werk, in die gesig.

“Ons sien ʼn vinnige afname in pluimvee- en eierproduksie, wat as dit ongekontroleerd gelaat word, ʼn verwoestende slag vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is.”

ʼn Langdurige krisis kan lei tot tekorte aan pluimveeprodukte, wat die primêre stapelproteïenbron vir miljoene Suid-Afrikaners is. Boonop kan altesame 110 000 mense in die bedryf hul werk kwyt wees.

“Benewens die ekonomiese gevolge, het hierdie krisis ook die potensiaal om maatskaplike ontwrigting te veroorsaak, aangesien lewensbestaan bedreig word en gemeenskappe moontlik gedestabiliseer kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Amper absurd om te dink dat ‘n regering só absoluut onbevoegd kan wees. Bloot geen dringendheid nie. Geen verandwoording nie. ANC KLUG!

Vettiemaragartos ·

Ek verstaan net nie waarom die hoenders dood gemaak en gebrand word en die eiers vernietig word nie. Enige persoon wat weet hoe om te google sal sien dat voëlgriep nie na mense oorgedra kan word nie en dat mens nog steeds die hoenders en die eiers kan eet. Hier maak 2 + 2 beslis nie 4 nie. Is hulle nie besig om ‘n hongersnood te skep nie?

Truman Burbank ·

En dat die sg “virus” by 56 grade vernietig word. So tensy jy hoender sushi eet, is jy veilig

H.A. ·

Die anc moet volgende jaar uitgestem word, dan moet hulle sommer uit die land verban word !

Truman Burbank ·

Ek onthou las keer toe daar so spoedige “goedkeuring” was. Nou is daar hofsake daaroor. Sal maar kyk wat gebeur met hoender en eiers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.