Voertuig met Covid-19-toetsmonsters gekaap

(Foto: Unsplash)

’n Koeriervoertuig is Maandagmiddag buite ’n kliniek in Port Elizabeth in die Oos-Kaap gekaap waarna verdagtes met ’n koelhouer vol Covid-19-toetsmonsters op die vlug geslaan het.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het Dinsdag gedurende ’n mediakonferensie gesê ’n koeriervoertuig het ’n wit koelhouer vol toetsmonsters vir die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) vervoer, toe die voertuig onder kapers deurgeloop het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die bestuurder van die koeriervoertuig en ’n passasier is omstreeks 15:30 in die parkeerterrein van ’n kliniek in Motherwell gekaap.

Volgens Naidu het verdagtes hul vuurwapens op die bestuurder en die passasier gerig, op die motorsleutels aangedring en toe in die koeriervoertuig op die vlug geslaan.

“Geen skote is afgevuur nie. Die slagoffers is ook van hul persoonlike besittings beroof,” het Naidu gesê.

Volgens Naidu is die koeriervoertuig later sowat 500 m van die toneel verlate aangetref. Daar was egter geen teken van die wit koelhouer nie.

“Ons veroordeel hierdie misdryf wat die lewens van mense in gevaar stel. Enigiemand wat die wit koelhouer gesien het, moet dit by die polisie aanmeld,” het Mabuyane gesê.

Die polisie ondersoek ’n saak van motorkaping en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Askuus? Los die kar en vat die Coolbox? Seker gedink daars drank in?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.