Voorgestelde regulasies oor eksplorasiepermitte gekap

myn staking mynhoed

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Voorgestelde regulasies om aansoeke vir die gebruik van hidrobreking om gas en olie te ontgin meer vaartbelyn te maak, het verskeie organisasies die harnas in gejaag.

Dié regulasies is deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake in die Staatskoerant geplaas en het ten doel om die proses waarvoor organisasies vir permitte aansoek doen, meer tyd- en kostedoeltreffend te maak.

Lede van die publiek kan nou hierop kommentaar lewer.

AfriForum en sy omgewingsvennoot Treasure Karoo Action Group (TKAG) is bekommerd dat die goedkeuring van hierdie regulasies ʼn bedreiging inhou vir Suid-Afrika se reeds kwynende watervoorrade deur dit óf uit te put óf onherroeplik deur hidrobreking te besoedel.

Die organisasies wil boonop weet waarom die departement hierdie mynbouproses meer toeganklik wil maak, aangesien dit reeds in talle ander lande verbied word weens die grootskaalse skade wat dit aan die omgewing kan rig.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewingsake, het aan Maroela Media verduidelik dat hidrobreking ʼn proses is waar water wat met chemikalieë gemeng is, teen ʼn hoë druk in die aarde se oppervlak gespuit word ten einde dit te verbreed om olie en gas daaruit te ontgin.

“AfriForum is verbaas dat die minister hierdie soort regulasies bekendgemaak het as sy weet dat daar reeds in verskeie lande ʼn verbod op hidrobreking is,” sê De Klerk.

“Dit is heeltemal teenstrydig met die rol van haar departement wat juis veronderstel is om die omgewing in Suid-Afrika te beskerm.”

Volgens De Klerk kan die watermengsel wat vir hidrobreking gebruik word, nooit weer herwin word vir menslike gebruik nie en kan dit ook die betrokke waterbron onherstelbaar besoedel indien die chemikalieë in die pypleiding lek.

“Suid-Afrika is hoog op die wêreld se lys van lande wat waterskaarstes het, so daar is groot rede tot kommer dat ons bestaande beperkte voorrade ook nog besoedel kan word,” sê hy.

De Klerk sê lande soos Nederland, Frankryk en selfs sekere deelstate in Amerika het juis hierdie mynbouproses verbied omdat daar al voorvalle was waar die chemikalieë in waterbronne versprei het, of krake in die aarde se oppervlak veroorsaak het dat dit aan die brand raak.

“Ons wil weet hoekom die departement dit nou makliker wil maak om hiervoor aansoek te doen. Is dit om die een of ander politieke agenda of selfverrykingsdoeleindes?

“Die feit bly dat ons nie hidrobreking in Suid-Afrika wil hê nie.”

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, het bygevoeg dat dit ook welbekend is dat die regulering van myne in Suid-Afrika ʼn absolute mislukking is “en dat die plaaslike gemeenskap altyd die koste van besoedeling dra, terwyl die paar enkelinge wat die bedryf voorstaan, met groot rykdom wegstap”.

AfriForum is bekommerd dat die regering nie die vermoë het om hidrobreking behoorlik te reguleer nie.

“Volgens die voorgestelde proses moet ʼn permitaansoek steeds deur verskeie departemente goedgekeur word – departemente wat nie behoorlik bevoeg is om permitte uit te reik nie.”

Deal sê daar is talle mynbou-organisasies in die land wat reeds bedryf word sonder die nodige wettige permitte “en niks word daaraan gedoen nie”.

Die organisasies is bekommerd dat, indien hidrobreking ongereguleerd plaasvind, dit katastrofiese gevolge vir die land se waterbronne kan inhou.

“Die langtermyn-uitwerking van duisende verlate putpunte met potensieel toekomstige pypomhulselmislukkings en grondwaterbesoedeling, oor so ʼn uitgestrekte geografiese gebied, is ʼn tikkende tydbom wat die suurmyndreineringskwessie in Suid-Afrika sal verdwerg,” sê Deal.

“Boonop sal gas wat só ontgin word nie goedkoper wees as om dit van bronne soos Angola en Mosambiek aan te koop nie – en meer risiko’s inhou vir Suid-Afrika se water en landbou.”

AfriForum het sedert die publikasie van die nuwe regulasies sy regspan opdrag gegee om te begin voorberei vir die openbare deelnameproses.

Die twee organisasies het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hul kommentaar oor die voorgestelde regulasies in te dien.

“Dít sal ʼn naelbytstryd wees en dit berus op plaaslike gemeenskappe om saam te staan teen hierdie groot risiko, net soos hulle met die e-tol-sage gedoen het. Hierdie regering het bewys dat hy nie in staat is om selfs daaglikse dienste te bestuur nie, maar nou wil hy ʼn ingewikkelde en gevaarlike tegnologie aanpak wat deur winsmakers bestuur word.”

Lede van die publiek het 45 dae vanaf publikasie van die regulasies (8 Julie) om kommentaar te lewer. Kommentaar kan gestuur word aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Witbaard ·

Wil graag weet of die DA nog bestaan en wat hulle doel is? Hulle sit in die parlement maar goed gebeur onder hulle neuse. As jy maar hoor is AfriForum en Solidariteit besig om die kastaiings uit die vuur te krap.

Republikein in die Wes Kaap ·

Is die VF Plus nog steeds in die parlement?

Samuel ·

Hulle het beslis nie antwoorde nie; daarom so stil. Politieke partye raas net kort voor ‘n verkiesing.

Manie ·

Jan Smuts se nasate sit en beplan seker hoe om Kapenaars hoër te belas.

JohanR ·

Met hierdie ANC regering hou net nie op nie. Jy maak een deur toe met protes aksie, dan sien hulle of hulle nie by ‘n ander deur kan inkom nie!

Swerwer ·

Ongelukkig verstaan/beteken ” beskerm” in die huidige kulturele verskille ” verniet”

Samuel ·

Natuurlik is daar politieke agendas wat hier gedryf word en miskien ook selfverryking.

Miskruier ·

Gaan ons wragtig toelaat dat die ANC hom verryk en ons met besoedelde water gaan los.

annie ·

Dit is hoe die ANC werk. Wag en kom met allerhande besware totdat iets ‘n krisis word dan druk hulle die proses deur ‘want ons land het nou ‘n erg probleem. Ons kan nie tyd mors nie.’ En so kry kaders en skelms weer ‘n hand in die pie en die koekieblik.

Christine ·

Daar is weer ‘n belofte van groot omkoopgeld van China af.

Lillian ·

Alles om hulself te verryk, maak nie saak wat die nagevolge is nie!

Jack ·

Mantashe en sy bende sal enigiets doen om hul eie sakke te vul. Wanneer word hy ondersoek en op betaalde verlof geplaas. Vir my is hy n zuma 2 en tyd sal wel leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.