Voormalige kaper deel sy kennis

‘n Kaping in 2019 waartydens ‘n vrou doodgeskiet is. (Video: Twitter)

Volgens die polisie se mees onlangse syfers vind gemiddeld 60 kapings per dag oor die hele Suid-Afrika plaas. Misdaadsyfers van Januarie tot Maart vanjaar dui daarop dat 5 402 kapings in slegs 90 dae aangemeld is – ʼn toename van nagenoeg 20% teenoor dieselfde tydperk in 2021.

“Kapings by wonings en openbare brandpunte is steeds ʼn groot bedreiging vir Suid-Afrikaanse motoriste, met kapingsindikate wat as deeglik gekoördineerde ondernemings bedryf word en misdadigers wat beloon word daarvoor om sekere handelsmerke en modelle van voertuie op versoek te lewer,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van die versekeringsmaatskappy Virseker. “Terwyl sommige kapings deeglik beplan word, is ander opportunisties, met kapers wat toeslaan wanneer hulle op die regte tyd op die regte plek is.”

Virseker het by ʼn onwaarskynlike bron – ʼn voormalige kaper – gaan aanklop vir wenke oor hoe en wanneer kapings gewoonlik voorkom. Hy staan bekend net as “Bra T”. Tydens die onderhoud het hy interessante inligting gedeel oor hoe kapers te werk gaan en hul teikens identifiseer.

Volgens Bra T sal ʼn span van vier kapers – meestal onder die invloed van alkohol en dwelms – tussen 30 en 40 voertuie per maand steel en hulle kan soms tot vyf of ses voertuie per dag bekom.

“Kapers handel volgens hul kliënt se ‘inkopielys’, wat spesifiseer presies watter handelsmerk en model voertuig, hoeveel eenhede daarvan en teen wanneer hulle dit benodig. Wanneer dit by die identifisering van ʼn slagoffer kom, sal kapers gebiede teiken waar daar ʼn groter kans is op sukses, sonder te veel risiko vir hulself.”

‘n Vermeende kaper word vasgetrek. (Foto: JMPD)

Hy sê mense op pad terug van inkopiesentrums is ideale teikens omdat hulle gewoonlik kontant of kaarte by hulle het wat as ʼn “bonus” beskou word. Kapers sal gereeld hul slagoffers dwing om die PIN van hul bankkaarte te deel en hulle selfs as gyselaars hou om seker te maak dat die PIN korrek is en om veelvuldige onttrekkings te maak.

Bra T sê kapers slaan meermale in openbare ruimtes toe en sal ʼn teiken op ʼn afstand volg en later by ʼn verkeerslig toeslaan. “Hulle gebruik gereeld die strategie om teen hul slagoffers se voertuie vas te ry en die slagoffer só te oorreed om die voertuig te verlaat, juis omdat die slagoffer dink dat dit ʼn ongeluk was. Opritte is ook ʼn groot brandpunt vir kapings en kapers sal ʼn slagoffer kenmerkend voor ʼn hek probeer vaskeer.”

Coetzee beklemtoon dat dit belangrik is om bewus te wees van jou omgewing en voortdurend op die uitkyk te wees vir mense of dinge wat verdag lyk. “Hoewel sekere voertuighandelsmerke deur kapers geteiken word – na gelang van ʼn misdaadnetwerk se behoeftes op ʼn spesifieke tydstip – is alle soorte en modelle moontlike teikens.”

Hy bied die volgende wenke:

  • Wees te alle tye bewus van jou omgewing en wees op die uitkyk vir enigiets wat verdag is, veral wanneer jy by jou bestemming aankom. Vermy dinge wat jou aandag kan aflei.
  • Wees waaksaam wanneer jy jou voertuig vul met brandstof, veral wanneer dit donker is. Hou deure gesluit en vensters toe en maak slegs ʼn venster oop om ʼn betaling te maak. Wees bedag op verdagte bewegings, veral in jou voertuig se blindekol.
  • Gebruik jou GPS om nie te verdwaal nie. Motoriste wat lyk asof hulle nie weet waar hulle is nie, is maklike teikens. Stel iemand by jou bestemming in kennis van die geskatte tyd wat jy sal aankom.
  • Belê in ʼn opsporingstelsel vir jou voertuig – ideaal een met ʼn paniekknoppie en ʼn rugsteun-opsporingstoestel indien die primêre toestel afgeskakel of verwyder word.
  • Wanneer jy by oorgange en padaansluitings kom, kyk op en maak oogkontak met die voetgangers rondom jou.
  • Wanneer jy op ʼn oorgang afstuur waar die lig rooi is, probeer om jou spoed so aan te pas dat jy nie nodig het om heeltemal tot stilstand te kom voordat die lig weer groen word nie.
  • Stop op so ʼn manier dat jy net genoeg ruimte toelaat om te voorkom dat ʼn voertuig voor jou indruk en jy “ingeboks” word. Dis wys om so te stop dat jy steeds die bande van die voertuig voor jou kan sien.
  • Wees bewus van verdagte voertuie wat jou volg. Indien jy vermoed dat jy agtervolg word, maak ʼn paar vals draaie indien moontlik en ry dan na die naaste polisiestasie toe. Indien jy onseker is of iemand – veral iemand wat aandui dat jy moet stop – ʼn polisie- of ander beampte is, bly kalm, skakel jou voertuig se noodflikkerligte aan om te wys dat jy jou samewerking gee en ry na die naaste polisiestasie.
  • Indien jy betrokke is in ʼn ligte ongeluk en onraad vermoed, ry na die naaste polisiestasie of besige gebied om die skade na te gaan.
  • Beligting is noodsaaklik vir veiligheid. Maak seker dat jou oprit en hek goed belig is. Parkeer ook altyd in ʼn veilige, goed beligte gebied.
  • Wanneer jy by die huis kom, stop eerder in die pad voor jou hek en beweeg slegs vorentoe sodra die hek heeltemal oop is. Só kan jy wegkom indien dit nodig is.
  • Installeer ruit- en vensterbeskerming vir ʼn ekstra laag sekuriteit en moenie met jou vensters oop en deure oopgesluit ry nie. Bêre enige waardevolle items buite sig en nie op die sitplek agter of langs jou nie.
  • Gaan die agtersitplek na voordat jy in die voertuig klim, selfs al het jy dit gesluit.

“Indien jy deur ʼn kaper gekonfronteer word, probeer om kalm te bly en nie te argumenteer nie,” sê Coetzee. “As jy gevra word om uit jou voertuig te klim, gebruik die hand naaste aan die sitplekgordel se knip om dit los te maak en vermy enige skielike bewegings. Vermy oogkontak, gee jou samewerking en moenie ʼn held probeer wees nie. Jou lewe is veel meer werd as jou voertuig en ander besittings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hein ·

En probeer ook om n versekeraar te kies wat wel eise uitbetaal, so definitief nie Virseker nie.

Chantelle ·

Beste diens en pryse sal jy beslis by PMD versekering gekry

Juls ·

Elke dag was dit so, stress jouself uit net om die boewe te probeer vermy, ‘n permanente knoop in jou maag, maar vir die laaste 9 maande in Dubai nog nie een enkele dag so gevoel of so op my hoede te wees nie. Salig!

Harley Davidson ·

Ek stem met van die inligting nie saam
1) Die polisie se onbevoegdheid veroorsaak dat hierdie misdaad so groei.
2) Hoeveel keer het ek nie al gesien as jy terug baklei of hulle stamp met jou kar die skelms op die vlug slaan soos die lafaard wat hulle .
3) Wanneer die polisie jou stop en jy sit jou nood ligte aan en ry polisie stasie toe skiet hulle jou of rand jou aan.

Swerwer ·

Die lewe is 1 bitter taai toffie met hierdie lummels/wesens van die ANC/EFF

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.