Voormalige Sassa-amptenaar gevonnis vir bedrog

(Argieffoto)

’n Voormalige administratiewe klerk van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) is onlangs tot tien jaar tronkstraf gevonnis nadat sy die agentskap uit sowat R1,2 miljoen bedrieg het. Die bedrog het tussen 2006 en 2011 plaasgevind.

Nombuso Lynette Dlamini (44) is Vrydag saam met ’n medepligtige, Siyasanga Gqamane, in die Mbizana-streekshof in die Oos-Kaap gevonnis. Gqamane het vermoedelik nie vir Sassa gewerk nie.

Lt. kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê Dlamini is tot tien jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is onder streng voorwaardes.

Gqamane (31) is agt jaar tronkstraf opgelê waarvan twee vir vyf jaar opgeskort is onder streng voorwaardes.

Volgens Nkwalase het ’n ondersoek deur die Valke destyds aan die lig gebring dat Dlamini en haar medepligtige fiktiewe maatskaplike toelaes geskep en goedgekeur het deur gebruik te maak van niksvermoedende mense se identiteitsdokumente.

“Hulle het ook bankrekeninge oopgemaak met behulp van die ID-nommers en fiktiewe name wat gebruik is om die aansoeke vas te lê. Die maatskaplike toelae is daarna in die rekeninge inbetaal.”

Nkwalase het verduidelik dat die twee se bedrieglike bedrywighede reeds in 2011 ontbloot is waarna hulle kort daarna in hegtenis geneem is. Verskeie bankkaarte is destyds tydens die inhegtenisneming in hul besit gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Magda ·

Verkoop hulle bates sodat die geld terug gekry kan word, en lys hulle name sodat hulle nooit weer by enige plek kan werk wat met so iets te make het nie.
Vonnis te LIG.

Mauritz ·

Vang die klein vissies, dan vergeet almal hopelik van die groot visse.

Scalla ·

Wys asb hul gesigte, daar word niks vermeld van terugbetaling nie. hoop hul boet.

Hennie ·

Ons soek nie nog mense in die tronk nie! Ons soek die geld!

Annette ·

Wat het gebeur tussen 2011, toe die bedrog ontbloot is, en 2020? Die bedrieglike rekeninge steeds maandeliks aangevul? Geskors met volle betaling? Ek dink Suid-Afrika beskik oor die skelmste mense in die wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.